ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die vier voertuie waarop die polisie beslag gelê het. Foto's: Limpopo SAPD. 

Geen inligting om polisie met inbraak te verbind nie

Date: 11 November 2018 By: Andries van Zyl

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Polokwane het hierdie week gesê hulle dra geen kennis van enige “polisiebetrokkenheid” by die inbraak by ‘n bekende hardewarewinkel in Eltivillas, Louis Trichardt, nie.

Provinsiale polisiewoordvoerder brigadier Motlafela Mojapelo het Maandag gesê die polisie is nie bewus van enige inligting rakende moontlike polisiebetrokkenheid nie. “Enige iemand met inligting hieroor word versoek om hulle naaste polisiestasie op die tolvrye nommer 086 00 10111 te skakel,” het Mojapelo gesê.

Die medianavrae hou verband met ‘n inbraak by ‘n hardeware winkel in Eltivillas vroeg die oggend van 26 Oktober. Volgens die polisie het hulle inligting ontvang dat ‘n groep inbrekers ‘n inbraak by die besigheid beplan. Die inligting is opgevolg en die inbrekers is blykbaar op heterdaad betrap. Dit het aanleiding gegee tot ‘n wilde jaagtog op die N1 suid, wat uiteindelik gelei het tot die arrestasie van ses verdagtes. Tydens die arrestasie het die polisie onder meer beslag gelê op vier voertuie wat verbind is met die misdryf, asook ‘n geldkassie met R9 000 se kleingeld, ‘n gasvlamsnyer (cutting torch), hoekslyper, boutsnyer, handskoene, balaklawas en ‘n 16-kanaal seinontwrigter. Die voertuie het ingesluit ‘n Toyota Etios, ‘n Hyundai Atos en twee Mercedes Benze.

Die ses mans wat gearresteer is, is later geïdentifiseer as Simon Mahlangu (36), Welcome Sifiso Nzima (40), Andrew Moagiemang (44), Anthony Letsoalo (39), Thabo Mabula (34) and Godfrey Hlongwane (40). 

Die ses het Maandag, 29 Oktober, in die hof op Louis Trichardt verskyn en hul saak is uitgestel tot 5 November vir hul borgaansoeke. Nie een van hulle is egter borg toegestaan nie en hul saak is na 7 November uitgestel, sodat hulle kon voortgaan met hulle borgaansoeke. Woensdag is hulle saak uitgestel na 27 November, weereens sodat hulle borgaansoeke afgehandel kan word. Mojapelo het ook bevestig dat die ses tot dan in aanhouding sal bly. Intussen is een van die voertuie wat teruggevind is positief verbind met 'n kaping in Mamelodi.

Gerugte van moontlike plaaslike polisiebetrokkenheid by die inbraak het ontstaan kort ná die ses mans se arrestasie. Niemand plaaslik wat by die saak betrokke is, insluitend die plaaslike polisie, wou enigsins met die media oor die voorval praat nie. By navraag aan die provinsiale kantoor van die polisie is die voorval bloot bevestig, sonder enige verwysing na moontlike polisiebetrokkenheid. In ‘n poging om ongegronde gerugte in dié verband hok te slaan, is die provinsiale media-afdeling gevra om daarop te reageer. Die koerant se navrae is egter na die Valke verwys met die woorde: ‘Hulle ondersoek die saak’. Die Valke se provinsiale woordvoerder het egter op sy beurt die koerant na die polisie se georganiseerde handelsmisdaad eenheid verwys, aangesien “hulle die ondersoek hanteer”. Ten einde laaste het die koerant se navraag weer by die polisie se provinsiale mediakantoor geëindig en vandaar hul reaksie dat hulle nie oor enige inligting beskik dat polisielede moontlik by die misdaad betrokke kon wees nie.  

 

 
 
 

Viewed: 708

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT