ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Mosambiekse Spoegkobra wat volop in die Soutpansberg aangetref word. Foto: Theunis Victor van Modimolle.

Pasop! Spoegkobras is volop in die Soutpansberg

Date: 27 October 2018 By: Andries van Zyl

Die Mosambiekse Spoegkobra (Naja Mossambica) is ook een van die slangspesies waarvoor inwoners van die Soutpansberg maar moet katvoet voor loop gedurende die warm somermaande.

Volgens plaaslike slangvanger en -kenner Jan “Slang” van Rooyen is dié kobra heeltemal die teenoorgestelde as die wipneuskobra waaroor die Zoutpansberger verlede week geskryf het. “Hierdie gemiddelde grootte kobra kan ongeveer 1.5 meter lank word, maar die algemene lengte is ongeveer 1.2 meter. Anders as die wipneuskobra, spoeg hierdie kobra sy gif as hy homself wil verdedig.  Die gif kan tot twee meter redelik akkuraat in die oë van ‘n vyand gespoeg word. Troeteldiere loop in die algemeen deur as dié slang teëgekom word,” het hy gesê.

Van Rooyen het verduidelik dat die spoegkobra uitgeken kan word aan die olyfbruin kleur op die rug en die salmpienk pens met swart bande op die keel. “Ongelukkig hou hierdie slang daarvan om in wonings in te gaan. Hulle is hoofsaaklik aktief deur die nag, maar soms ook deur die dag en is verantwoordelik vir baie byte in sy verspreidingsgebied, waarvan baie in huise gebeur,” het Van Rooyen gesê.

Die gif van die spoegkobra is hoofsaaklik sitotoksies met ligte neurotoksiese komponente. “Dit is ‘n baie aaklige byt wat gepaard gaan met baie pyn en weefselskade. Sterftes is redelik skaars, maar ‘n byt kan jou hele lewe verander deurdat jy moontlik ‘n ledemaat of weefsel kan verloor,” het Van Rooyen gesê.

Die goeie nuus is egter dat die teengif doeltreffend is. “Maak egter seker dat ‘n dokter met slangbyt kennis genader word, anders kan die skade baie groter wees. Met spoeggif in die oë moet die oë baie deeglik uitgespoel word vir omtrent 10 tot 15 minute. Gif op die vel kan geen skade veroorsaak nie, tensy dit op ‘n oop wond kom,” het Van Rooyen gesê.

 Spoegkobras maak aktief jag op skurwe paddas, soogdiere en selfs ook akkedisse en ander slange. “As daar op ‘n Mosambiekse Spoegkobra afgekom word, bly ten minste vier meter weg. Hou ‘n oog op die slang en kontak iemand om die slang te verwyder. Moenie ‘n kans vat om die slang te nader nie, dis nie die moeite werd nie,” het Van Rooyen gewaarsku. 

Van Rooyen het inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 081 217 9213 vir meer inligting oor slange. Mense wat ‘n probleem met ‘n slang het kan hom of Frikkie by tel. 082 058 7601 skakel. “Ons kan ook gekontak word ten opsigte van slangbyte en identifisering,” het Van Rooyen gesê.

 
 
 

Viewed: 927

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT