ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bederf jouself hierdie Saterdag ter viering van Wêreld Sjokolade Dag op 7 Julie!

Bederf jouself hierdie Saterdag met ietsie soet

Date: 06 July 2018 By: Jo Robinson

Saterdag, 7 Julie, is Wêreld Sjokolade Dag en ‘n dag om dié bruin nektar heeldag sonder skuldgevoelens te eet - van ontbyt tot slaaptyd.

Daar is geen tekort aan sjokolade liefhebbers in Louis Trichardt nie. Baie dankie aan Eleanor en Kobus Visser vir die lekker resepte! Ons deel een hier – ‘n groot gunsteling van hulle wat gou gemaak kan word, naamlik Tuisgemaakte Sjokolade Likeur, vir daardie spesiale dae:

Meng saam een blikkie kondensmelk, twee blikkies ingedampte (Ideal) melk, 500ml brandewyn, ‘n paar teelepels vanilla of sjokolade essens, en vier eetlepels kakao, opgelos in ʼn bietjie warm ingedampte melk. Klits mooi en bêre in skoon bottels in die yskas – nie dat dit vir lank gehou kan word nie. Bedien met vars room en gerasperde melksjokolade. Baie dankie, Vissers!

Karen van Karen ’s Catering hier in die dorp het ook ‘n paar wenke met ons gedeel. Sy sê: “Gebruik altyd ‘n lang, getande mes om jou blokkies op te kap. Dit maak dit maklik. Versterk daardie sjokoladegeur met espresso koffie as jy poeding maak, en gebruik net die regte, goeie donker tipe as jy dit wil smelt.” Sy weet waarvan sy praat. Hulle doen ook ‘n paar heerlike spesiale aanbiedings vir Wêreld Sjokolade Dag.

‘n Paar ongewone resepte vir sjokolade het ook na vore gekom: Dompel gewone aartappelskyfies halfpad in gesmelte sjokolade vir lekker peuselgoedjies. Gebruik dit as ‘n spesery – ‘n hele paar lesers sê dat dit baie lekker is op rooivleis vir jou volgende braai as dit voorgesit word met ‘n droë of ‘n nat marinade.

Ons hier in die Zoutpansberger se kantoor het alreeds met ons sjokolade-etery begin, danksy ‘n fantastiese groot verjaardagkoek vir Bonita le Roux wat gebak is deur Elise Bonnema - verruklik vol sjokolade!

Kenners maan egter dat alhoewel ons baie lief is vir sjokolade, dit dodelik kan wees vir troeteldiere. Dr. Gerhardt Kloppers van die Blouberg Dierekliniek sê dat, terwyl hyself verskriklik baie van donker sjokolade 'gepaar' met met ‘n lekker glasie wyn hou, ons nie moet toelaat dat ons troeteldiere dit bykom nie. “Sommige mense sê dat hulle reeds vir hul honde sjokolade gegee het, sonder probleme. Die hoë suiker-, vet-, en melkinhoud van die goedkoper tipes bevat baie minder teobromien - die bestanddeel in kakao wat giftig is vir diere. Dit is egter nog steeds gevaarlik in kleiner dosisse, al is dit nie onmiddellik sigbaar nie. Die duurder donkersjokolade kan dodelik wees vir diere. Hou dit heeltemal weg van jou honde en voëls. Katte eet dit nie normaalweg nie, maar as joune daarvan hou, hou dit buite bereik,” sê Gerhardt. Afgesien van hoe gevaarlik teobromien vir jou diere is, sê Kloppers, “die kafeïen en ander bestanddele kan hulle ook siek maak en hul tande laat vrot.”

Meeste mense wonder nie eintlik waarvandaan ons gunstelinglekkergoed kom nie, maar een van ons lesers (wat anoniem wou bly) het gesê dat na sy die dokumentêre prent The Dark Side of Chocolate deur Miki Mastrati gekyk het. “Iemand kan my altyd met sjokolade omkoop, maar nou maak ek ‘n punt daarvan om seker te maak dat ek net die soorte koop of eet wat nie slawerny bevorder nie,” het die leser gesê. Danksy die Internet is dit egter maklik om deesdae bietjie navorsing te doen om uit te vind wat jy in jou liggaam sit en waar dit vandaan kom. Gelukkig is die grootste verskaffers van die land se gunsteling sjokoladevervaardigers Fair Trade-geklassifiseerd.

Wat die geskiedenis betref, is sjokolade nie ‘n nuwe ding nie en mense geniet dit al vir eeue.  Ons kan ook verstaan hoekom die botaniese naam van die kakaoboom theobroma cacao is, wat losweg vertaal kan word as die voedsel van die gode. Die boom is inheems aan Mexiko en die Mayas het eeue gelede groot plantasies daarvan aangeplant in Chiapas en Tabasco. Mense het soveel waarde daaraan geheg dat dit op ‘n tyd gebruik was as ‘n betaalmiddel saam met goud.  Die reuk van sjokolade affekteer mens se theta breingolwe en help jou om meer te ontspan. Dit is eintlik goed vir jou as jou bloeddruk hoog is! Op ‘n ligter noot - klaarblyklik maak dit jou slimmer en beter op verskillende maniere. Die lande wat die meeste sjokolade eet, het die meeste Nobel-pryswenners.

 

 
 
 

Viewed: 413

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

Bonnita Le Roux hou 'n sjokoladeliefhebber se droomkoek vas, gemaak deur Elise Bonnema.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT