ADVERTISEMENT:

 

 
 

Elmarie Meyer van Midas in Rissikstraat was Maandag die eerste persoon om te besef daar is oor die naweek by die winkel ingebreek. Bokant haar kan twee van die drie gate gesien word wat deur die inbrekers gesny is om toegang tot die winkel te kry.

Daksluipers maak amok by besighede

Date: 16 March 2018 By: Andries van Zyl

Inwoners word gemaan om wakker te wees en hul sekuriteit op te skerp, veral by hul besigheidspersele te midde van ‘n hernude vlaag inbrake.

Louis Trichardt word tans geteister deur ‘n groep “daksluipers” wat die afgelope week by talle ondernemings ingebreek het, telkens deur die dakplate oop te sny.

Met ‘n soortgelyke inbraak by Matman in Rissikstraat nog vars in die geheue en waaroor die Zoutpansberger verlede week gerapporteer het, het die daksluipers ook verlede Donderdagaand/Vrydagoggend die Pit Stop drankwinkel langs Soutpansberg Spar geteiken. Soutpansberg Spar was ook ‘n paar maande gelede die teiken van diewe wat deur hul dak ingebreek het en onder meer derduisende rande se sigarette gesteel het. Ook by Pit Stop is daar verlede week deur die dak ingebreek en duisende rande se sigarette gesteel.

Maandagoggend met oopsluit tyd het daar ook ‘n skok gewag vir die personeel van Die Vleismark en Midas in Rissikstraat.

“Ek het agtergekom daar is fout toe die alarm nie wou deaktiveer nie,” het mede-bestuurder van Die Vleismark, Pieter Ackerman, Dinsdag gesê. Hy was nog Sondagaand by sy slaghuis en daar was niks verkeerd nie.

“Met die intrapslag het ek gesien Christa [die ander mede-bestuurder] se lêers lê op die grond,” het Pieter gesê. Kort daarna het hy ‘n gat in die slaghuis se dak opgemerk. By nadere ondersoek is gevind dat die diewe meer as een gat in die dakplate gesny het. “Dit lyk of hulle die eerste gat gesny het, ingeloer het en die sekuriteitsogie opgemerk het. Hulle het toe ‘n tweede gat agter die ogie gesny, ingeklim en die sekuriteitstelsel gedeaktiveer,” het Pieter gesê. Daarna het hulle afgeklim, die lessenaar geplunder en ook die een yskas oopgebreek.

“Die hartseerste is die amper R7 000 se biltong wat die diewe gesteel het,” het ‘n gefrustreerde Pieter gesê. Hy het gesê daar het orals biltonghakies op die vloer gelê soos wat hulle die biltong afgehak het. “So, nou vreet hulle lekker aan my biltong,” het Pieter gesê.

Die groot vraag bly waarom sy alarmstelsel nie hul sekuriteitsmaatskappy laat weet het iemand breek in nie. Pieter sê hy het verneem dat die diewe gebruik maak van ‘n soort “signal jammer”, amper soos die wat ‘n tyd gelede in die Kabinet gebruik is om selfoonseine te deaktiveer. “Blykbaar kan mens sommer hierdie goed oor die internet koop,” het Pieter gesê. Die vermoede bestaan dat die diewe so ‘n instrument gebruik het om te verhoed dat die sekuriteitstelsel ‘n sein kan stuur, alvorens hulle die alarmstelsel onskadelik gestel het.

“Dit is ‘n frustrasie! Gemeet teenoor wat hulle gesteel het, het hulle baie meer skade aangerig,” het Pieter gesê. Hy is egter van mening die diewe is goed opgelei. “Dit wil vir my voorkom asof hulle weet wat hulle doen. Dit is nie mogge-troffe skelms nie. Hulle het gekom met ‘n doel,” het Pieter gesê. Buiten vir die biltong is die besigheid hulle kleinkas kwyt, asook bietjie kleingeld wat sommer in ‘n emmer onder die toonbank gehou is.

Ook by Midas was die eerste aanduiding dat iets verkeerd is, die feit dat die winkel se alarmstelsel nie wou deaktiveer nie. “Die alarm wou nie afsit nie,” het Midas se Elmarie Meyer gesê. As kassiere is sy verantwoordelik vir die oop- en toesluit van die winkel. “Ek het toe vir my kollega Mike du Plessis gewag, want ek wou nie vrou-alleen ingaan nie,” het Elmarie gesê.

Met Mike se aankoms het Elmarie die winkel oopgesluit. “Toe ek inkom by die toonbank het ek dadelik gesien daar is fout. Die kluis was nie op sy plek nie, maar het op sy rug in die middel van die vloer gelê,” het Elmarie gesê.

Ook by hulle sou verdere ondersoek wys dat die diewe nie minder nie as drie gate in hul sinkdak gesny het. Elmarie sê sy vermoed die eerste gat het hulle “te hoog” gesny. Hul dak is amper agt meter hoog. ‘n Tweede en derde gat is toe gesny tot bokant die klein kantoortjie waar hulle afgeklim het. Ook hulle alarmstelsel het geen sein deurgestuur na hul sekuriteitsmaatskappy nie.

Wat vir Elmarie vreemd was, was die feit dat die diewe nie een van hul werknemers se skootrekenaars gesteel het wat by die gat in die dak op die lessenaar gestaan het nie. Hulle het wel die staankluis met ‘n hoekslyper oopgesny waarin Saterdag se kontant gestoor was. As ‘n reël hou die winkel egter nie kontant op die perseel aan nie. Buiten die kontant in die kluis, het die diewe ook gereedskap gesteel, asook die winkel se rekenaar “server”. Hoekom hulle die “server” gevat het weet niemand nie. “Miskien het hulle gedink daar is kameras en dat die sekuriteitsvideo daarop gestoor word,” het die personeel bespiegel. Nodeloos om te sê, sonder hul “server” was die besigheid Maandag gesluit aangesien hulle rekenaars nie gewerk het nie. Daar is sommer ook toe voorraadopname gedoen om te sien wat nog gesteel is.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het Dinsdag by navraag bevestig dat die sake by die polisie aangemeld is en tans ondersoek word. Sy het egter gesê dat nog niemand in verband met die inbrake aangekeer is nie.

 
 
 

Viewed: 620

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die inbrekers het ‘n hoekslyper gebruik om die kluis by Midas oop te sny waarin Saterdag se geld gebêre was. Foto verskaf.

 

Mnr. Pieter Ackerman van Die Vleismark in Rissikstraat het sy hande in die lug gegooi van frustrasie nadat inbrekers Sondagaand/Maandagoggend by hul slaghuis ingebreek het en onder meer sowat R7 000 se biltong gesteel het. “Nou vreet hulle lekker my biltong,” het Pieter Dinsdag gesê.

Die inbrekers het duisende rande se skade aangerig, gemeet teenoor dit wat hulle gesteel het, by Die Vleismark. Mede-bestuurder Pieter Ackerman het gesê hy het besef daar is by hulle ingebreek, toe hy sien hoe deurmekaar hul kantoor was. Foto verskaf.

Een van die gate in die dak wat deur die inbrekers by Die Vleismark gesny is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT