ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Pieter Ahrens (83). Foto verskaf.

Oom Pieter het diep spore oor ses dekades getrap

Date: 28 January 2018 By: Andries van Zyl

“Hy was ‘n man wat lief was vir werk en het sy pligte met Duitse presisie en met prestasie voltooi. Ek sal hom onthou as ‘n leidsman en raadgewer, ‘n man van inbors wat standpunt kon inneem.”

So onthou Fritz Ahrens sy pa, die 83-jarige Peter Ahrens (alombekend as Pieter), wat Maandagaand op sy plaas Berghof skielik aan ‘n hartaanval gesterf het. Nuus van sy dood het as groot skok vir die gemeenskap gekom.

Alhoewel wyle oom Pieter nie ‘n boorling van die Soutpansberg was nie, was hy een van min wat die afgelope sowat ses dekades diep spore hier getrap het. “Hy was een van dié wat die streek help mak maak het,” het Fritz Dinsdagoggend gesê.

Oom Pieter is in 1934 in Kiel, Duitsland, gebore en het beide sy laer- en hoërskoolloopbaan in Hamburg voltooi. Hier het hy ook sy landboudiploma verwerf.

“My pa het in 1958 na Suid-Afrika immigreer en op Levubu as plaasbestuurder begin werk vir wyle tannie Chomse op haar plaas Bergsig. Hulle het hoofsaaklik met piesangs geboer,” het Fritz vertel en bygevoeg dat sy pa met slegs twee tasse, ‘n boks landbouboeke en 10 pond in sy broeksak in die land aangekom het.

Ná ‘n paar jaar van harde werk het oom Pieter besluit om in 1964 bietjie ‘n breek te vat en terug te gaan na Duitsland vir ‘n vakansie. Dit sou ‘n vakansie wees wat sy lewe verander het, want dit was tydens hierdie vakansie wat hy die liefde van sy lewe, tannie Ilse, ontmoet het. ‘n Meer gepaste ontmoeting kon daar nie wees nie, met die twee wat mekaar op ‘n bustoer na Parys, Frankryk, raakgeloop het.

Maar oom Pieter was ‘n werkende jong man en moes noodgedwonge weer na Suid-Afrika terugkeer. Die liefde het egter geblom en oom Pieter het besluit om die groot stap te neem om Ilse se ma te vra of hy met haar dogter mag trou, nogal per geregistreerde pos! (Tannie Ilse se pa is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geskiet).

Tannie Ilse se ma se antwoord was positief en nie lank daarna nie, in 1965, is oom Pieter terug Duitsland toe waar hy en tannie Ilse die knoop deurgehaak het in Hamburg.

Dieselfde jaar het oom Pieter na Suid-Afrika teruggekeer, maar nie weer alleen nie. Dié keer was Tannie Ilse aan sy sy. Daardie jaar het oom Pieter ook ‘n nuwe geleentheid aangegryp deur as plaasbestuurder vir die Bergers te gaan werk op die plaas Nooitgedacht. Die plaaslewe hier was vir hulle goed en al drie hul kinders, Fritz, Erika en Dieter, is tydens hul jare op Nooitgedacht gebore.

Reeds in 1980 het oom Pieter egter besluit om bietjie sy eie vlerke te sprei en sy eie plaas, Sterkstroom (hy sou later die naam na Berghof verander), op die Piesanghoek-pad te koop. Hier het hy met avokado’s en makadamias geboer. Later sou hy permanent op Berghof boer en ook sy boerdery-aktiwiteite uitbrei deur die koop van nog ‘n plaas, Neuhof, nie ver van Berghof af nie langs die Levubu-pad. Hier het hy hom toegespits op lietsjies, avokado’s en makadamias.

“Finansieel was my pa baie streng. Hy het gehou by sy begroting en het niks op skuld gedoen nie,” het Fritz gesê.

Oom Pieter het ‘n wye kennis van die makadamia- en avokadobedryf gehad. Weens sy kennis was hy vir etlike jare deel van die Makadamia Studiegroep in Levubu en ook voorsitter daarvan.

Buite boerderyverband sal baie inwoners oom Pieter ook onthou vir sy jarelange betrokkenheid by Soutpansberg Kommando. Reeds in 1961 het hy by die kommando aangesluit en teen die einde van sy sowat 30 jaar diens het hy ook vir drie jaar (1987 tot 1990) as bevelvoerder van die kommando in die rang van luitenant-kolonel (kommandant) gedien.

Oom Pieter het “amptelik” in Desember 2016 afgetree, maar hom steeds aktief op die plaas besig gehou. “Sy stokperdjie was werk. Hy wou nooit op vakansie gaan nie want, het hy altyd gesê, hy is mos op die plaas,” het Fritz met ‘n glimlag vertel. Hy hanteer sedert oom Pieter se aftrede die boerdery op die plase.

Nuus van oom Pieter se afsterwe is met hartseer in landboukringe ontvang. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU), het Dinsdag sy innige medelye uitgespreek met sy gesin en familie, asook die hele gemeenskap wie se lewens hy geraak het. “Ons wens sy familie sterkte en krag toe in dié moeilike tyd. So ‘n besonderse mens sal gemis word en sy bydrae tot die gemeenskap lê vasgemessel as ‘n pionier in die makadamia- en avokadobedryf in die Soutpansberge. Hy was geliefd en gerespekteerd. Sy spore kan orals gevind word. Vanuit Duitsland, ná die Tweede Wêreldoorlog, het hy en sy vrou, Tannie Ilse, hulle hier kom vestig en sy kinders hier grootgemaak tot sterk boere van ons gemeenskap,” het Havinga in ‘n huldeblyk gesê.

Nog ‘n lid van die SDLU, Jacques Bouwer, het op sy beurt aan oom Pieter hulde gebring vir sy jarelange verbintenis tot die veiligheid van die streek as lid van Soutpansberg Kommando. “Met alle eer aan oom (kommandant) Piet Ahrens wat gisteraand verdaag het. Ons salueer jou, oom Piet. Staan af en rus,” het Bouwer Dinsdag gesê.

Wyle oom Piet word oorleef deur sy vrou Ilse, kinders Fritz en skoondogter Adéle, dogter Erika en skoonseun Lukie van der Merwe, seun Dieter en skoondogter Estelle en kleinkinders Hans-Peter, Fransiska, Heinrich en Conrad.

‘n Roudiens vir wyle oom Pieter vind Vrydag, 26 Januarie, om 10:00 vanuit die Gereformeerde Kerk in Louis Trichardt plaas.

Die SDLU het met oom Pieter se afsterwe hierdie gedig van Jan FE Celliers (1865 tot 1940) aan hom opgedra:

"Stil, broers,

daar gaan 'n man verby,

hy groet,

en dis verlaas.

Daar's nog maar één soos hy;

bekyk hom goed.

 

Die oog,

nou dof en weggesink,

soos vuurvonk kon hy blink -

die arendsblik,

die kakie- en renegateskrik.

Die stap en kraggebaar

is nou bedaar.

Is dit jul leier nog, per' ruiterskaar?

 

Gewis!

en soos hy ons s'n was

en is.

 

Al is die oog verswak,

hy kyk nog fier omhoog

in jou

soos in sy God se oog.

Al stap hy kromgeknak

en afdraans af,

al klop die hart al flou:

soos altyd is nog nou

elk stap en hartslag trou

tot in sy graf.

 

Wat vrees ons dan?

Geseën sal wees

die grond, die bloed, die vlees

wat sulke vrugte dra.

 

 
 
 

Viewed: 1033

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT