ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die eetkamervenster waardeur die inbrekers toegang gekry het tot die Mpuru's se huis, nadat die diefwering oopgebuig is.

Gesin in hul slaap beroof

Date: 13 January 2018 By: Isabel Venter

‘n Gesin van Louis Trichardt is Maandagoggend wreed ontnugter met die besef dat feitlik hulle hele huis leeg gedra is terwyl hul rustig gelê en slaap het.

Volgens mnr. Ben Mpuru, wat op die hoek van Eland- en Bauhiniastraat woon, het hy ongeveer 05:00 wakker geskrik en besef daar is fout toe hy in die gang uitloop en totale chaos hom in die gesig staar. Die eerste wat hy opgemerk het, was dat een van sy eetkamerstoele voor die gangkas se deur gestaan het. Nog deur die slaap het hy omgedraai en vir sy vrou gevra of sy weet hoekom die stoel nie op sy plek staan nie.

Dit is toe dat hulle deur die res van die huis geloop het en tot die nare besef gekom het dat inbrekers bykans hulle huis leeggesteel het.

Mpuru se hart het feitlik gaan staan toe hy besef dat die inbrekers ‘n televisie vanuit hulle spaarkamer gesteel het. In dié kamer was 'n negejarige meisie wat by die Mpuru’s gekuier en oorgeslaap het. “Ek het net vir my vrou gesê dat ons gelukkig kan wees dat die skelms ons nie skade aangedoen het nie … hulle kon die kind seergemaak het of, nog erger, my vrou dalk verkrag het,” het Mpuru kort ná die voorval aan die Zoutpansberger gesê.

Daar word vermoed dat die inbrekers moontlik eers die gesin bedwelm het voordat hulle by die huis ingebreek het. Mpuru sê sy vermoede hieromtrent word versterk weens die feit dat hy opgemerk het die inbrekers het iets op sy stoofplaat gebrand. “Dit lyk of dit iets is wat plastiek bevat het,” het Mpuru gesê.

Die inbrekers het vermoedelik toegang gekry tot die Mpuru’s se huis deur eers oor die veiligheidsmuur (aan Bauhiniastraat se kant) te spring en toe die diefwering by die eetkamer oop te forseer. Dit wil voorkom of die inbrekers eers probeer het om ‘n sydeur se slot oop te breek, maar sonder sukses. Dié einste deur is later wel oopgekry en is gebruik om die inbrekers se buit na buite te dra.

Buiten dat die inbrekers hulle toegespits het op elektroniese huisware soos televisies, radio’s en projektors, het hulle sommer ook hul honger en dors gestil met oorskietkos en drank vanuit die Mpuru’s se yskas. Die inbrekers het nie eens die moeite gedoen om die vleisbene en leë bottels in ‘n asblik te gooi nie. Soos wat hulle deur die huis geloop en steel het, het hulle die vleisbene en bottels sommer orals neergegooi. Nie eens die jong meisie se tas met haar klere en skoolboeke is ontsien nie, en is in die kombuis omgekeer op die vloer.

Daar word vermoed dat die inbrekers ‘n voertuig tot hulle beskikking gehad het waarmee hulle met die buit weggekom het. Mpuru het darem twee kapmesse, leë drankbottels en van sy hoëtroustel se luidsprekers teruggekry.

Ten tye van die koerant se besoek aan die Mpurus’s was die Makhado Polisie besig om die toneel te ondersoek en na vingerafdrukke te soek. Teen druktyd is daar nog geen arrestasies gemaak in verband met die voorval nie.

 
 
 

Viewed: 1237

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Selfs nie 'n minderjarige meisie wat by die Mpuru's gekuier het se persoonlike besittings is ontsien deur die inbrekers nie. Die inbrekers het haar tas in die kombuis omgedop opsoek na iets waardevols om te steel. 

Ben Mpuru se vermoede dat die inbrekers wat hulle huis geplunder het iets gebrand het om hom en sy gesin te laat slaap is versterk deur dié misterieuse verbrande "plastiek" wat hy op die stoofplaat ontdek het ná die inbraak. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT