ADVERTISEMENT:

 

 
 

Waarvan het ons lesers in 2017 gehou?

Date: 22 December 2017 By: Andries van Zyl

Die Zoutpansberger kyk in hierdie laaste uitgawe van die jaar weer terug na die belangrikste nuusgebeure wat weekliks die nuusblaaie gehaal het.

Daar is besluit om bietjie datajoernalistiek te pleeg om te probeer vasstel watter artikels die gewildste was by lesers, veral artikels op die koerant se webblad, www.zoutpansberger.co.za. Anders as die gedrukte koerant, is dit baie makliker om Internet-gebruikers se leespatrone te bepaal, aangesien daar rekord gehou word van watter artikels lesers lees.

Die oefening het nogal ‘n paar interessanthede opgelewer. So byvoorbeeld was dit nie altyd die gedrukte voorbladberig wat in ‘n spesifieke week die meeste aandag getrek het nie. Dit was ook nie altyd harde nuus wat die aandag getrek het nie. Meegaande was die top 10 artikels wat die afgelope jaar verskyn het:

 

Die artikel wat by verre die meeste aandag op die webblad gelok het, was die kort beskrywing en videogreep van die noodlottige vragmotor ongeluk op die N1 net suid van Louis Trichardt op 15 Augustus. ‘n Ongelooflike 40 825 mense het op die skakel geklik om na die videogreep te kyk van die ongeluk wat die lewens geëis het van die 29-jarige Godfrey Machaba (29) and 25-jarige Davhula Ndiafhi (25), beide van Tshakhuma, nadat hulle bakkie met ‘n vragmotor gebots het. Die ongeluk is op ‘n nabygeleë plaaseienaar se sekuriteitskamera opgeneem. 

 

In die tweede plek, met 37 659 Internetbesoeke, wat die hartseer verhaal van die dood van die 43-jarige Beyers Adendorff. Beyers en sy tweelingbroer, Christo, was bekende inwoners van die Soutpansberg. Die twee het op 14 Januarie ‘n verjaardagpartytjie langs die Rietrivier in Ritchie (Kimberley) bygewoon. Beyers is voor Christo terug huis toe. Hy het egter nooit by die huis opgedaag nie. Christo het onverpoosd na hom begin soek en hom eers die volgende dag, met ernstige hoofbesering, in die Kimberley Hospitaal opgespoor. ‘n Weldoener het hom langs die pad gevind en na die hospitaal gebring. Beyers het egter nooit sy bewussyn herwin nie. Hy is breindood verklaar en is op 21 Januarie oorlede.

 

 

Die derde-mees-gelese artikel op die koerant se webblad was die van die aanval op Jack en Linda Oosthuizen. Die egpaar bly op die Rondebosch-kleinhoewe net buite Louis Trichardt en is op 16 Augustus wreed aangeval. Tydens die plaasaanval het Jack baie skade aan sy regteroog opgedoen. Hy moes ook heelwat steke aan die agterkant van sy kop kry. Linda is met ‘n pyp geslaan. Drie mans het die egpaar net ná 02:00 in hul huis oorval. Die artikel oor die aanval op die Oosthuizen-egpaar het 27 005 lesers gelok.

 

 

Tragedie blyk gewild te wees en ‘n artikel vir 2017 met meer hartseer is daar sekerlik nie. Vier dae ná die aanval op die Oosthuizen-egpaar het inwoners die skoknuus ontvang dat vier lede van ‘n bekende familie van Louis Trichardt in ‘n gru-ongeluk oorlede is. Dawie en Elsa Sadie, hulle dogter Franzelle van Biljon en Franzelle se oudste dogtertjie, Marizelle (6), het gesterf in die ongeluk op die N1 tussen Mookgopong en Mokopane. Franzelle se jongste dogtertjie, Zelmari (4), is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem, maar het die ongeluk oorleef. In totaal het 22 908 besoekers die artikel gelees.

 

 

Die weer en natuur blyk ook altyd ‘n gewilde onderwerp te wees, veral as dit met skade gepaard gaan. Tropiese storm Dineo het in Februarie vanjaar gesorg vir ‘n paar benoude oomblikke, nadat dit die Mosambiekse kus getref en na die binneland toe inbeweeg het. Aanvanklik het die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n waarskuwing uitgereik dat Limpopo en die Laeveld van Mpumalanga hewige reën kon verwag en baie het gedink dit gaan ‘n herhaling wees van die vloede van 2000. Dineo het egter vinnig spoed verloor oor die binneland, met geen daadwerklike uitwerking oor die streek nie. Dineo se vordering en gepaardgaande videogrepe van stormskade het 20 898 besoekers na die koerant se webblad gelok – die vyfde-mees-gelese artikel.

 

 

Die opening van die reuse nuwe Thavhani Mall in Thohoyandou het ook geblyk belangrike nuus te wees vir lesers en was die sesde-mees-gelese artikel op die webblad met 20 100 besoeke. Die sentrum het op 24 Augustus oopgemaak en is die grootste van sy soort in die Thohoyandou en Thulamela munisipale area met 134 winkels en restaurante.

 

 

Thohoyandou was ook die fokuspunt van die sewende-mees-gelese artikel op die Zoutpansberger se webblad, maar dié keer nie oor ontwikkeling nie, maar eerder  oor vernietiging. Ongelukkigheid oor ‘n vlaag beweerde rituele moorde het oorgespoel in geweld in die strate op 25 Mei, met talle besighede wat hul deure vir die dag moes sluit. Onder die verdagtes was ‘n Indiërman en veral Indiërwinkels is deur die optoggangers geteiken. Die artikel is deur 15 187 mense gelees.

 

 

Nuus van die dood van ‘n voormalige, en soms kontroversiële, voormalige burgemeester van Louis Trichardt, rdl. David Mutavhatsindi, het ook baie belangstelling uitgelok. Hy is op 14 Oktober in die ouderdom van 48 jaar oorlede. Ten tye van sy dood was die oorsaak nie bekend nie. Nuus oor sy dood het 12 821 besoekers gelok vir ‘n algehele agste posisie.

 

 

Die artikel oor ‘n taxibestuurder wat koelbloedig op 4 Februarie voor sy passasiers doodgeskiet is, was die negende-mees-gelese artikel die afgelope jaar, met 12 768 besoeke. Die 37-jarige Collen Mufunwani het passasiers vanaf Beitbrug na Polokwane vervoer. Twee mans, wat direk agter Mufunwani gesit het, het hom by die Fort Edward-afdraai op die N1 suid buite Louis Trichardt gevra om die afdraai te vat. Mufunwani het geweier en die volgende oomblik het een van die twee mans hom summier doodgeskiet. Die taxi het die pad verlaat, maar kon langs die pad tot stilstand gebring word. Die twee verdagtes het die bosse in gevlug.

 

 

Die tiende-mees-gelese artikel was weer oor die tragedie van ‘n motorongeluk, weereens op die N1 suid. Twee voertuie het tromp-op met mekaar gebots sowat 20 km suid van Louis Trichardt op die N1, waarna beide voertuie in vlamme uitgebars het. ‘n Vierjarige meisie en 'n 25-jarige vrou het verkool in een van die voertuie voordat hulle gehelp kon word. Die bestuurder van die ander voertuig het oorleef, maar ernstige brandwonde opgedoen. Hierdie artikel het 12 515 lesers gelok.

 
 
 

Viewed: 515

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT