ADVERTISEMENT:

 

 
 

Klein Luan Oosthuizen soos hy Woensdag daar uitgesien het. Hy kon weer self eet en het selfs geglimlag. Foto verskaf.

Luan glimlag weer

Date: 23 October 2017 By: Andries van Zyl

Die eenjarige Luan Oosthuizen het die afgelope week diep in die harte van inwoners ingekruip met sy stryd om oorlewing vanweë ‘n uiters ernstige longinfeksie.

Luan se ma, Chané, het Woensdag gesê Luan het die oggend self weer begin eet. “Die dokter het gesê hy kan dalk vanaand of môre-oggend uit die intensiewe-sorgeenheid ontslaan word. Hulle het egter vir ons gesê daar is geen manier wat hy al teen die naweek uit die hospitaal sal wees nie,” het Chané gesê.  Sy en pa Robert Steyn waak feitlik dag en nag by Luan sedert sy opname.

Min inwoners besef egter hoe naby klein Luan aan die dood gekom het, en was dit nie vir die tydige optrede van sy ouers en weldoeners nie, sou Luan sekerlik gesterf het.

Lizelle Knoesen, ‘n vriend van die familie, het vertel dat haar kind saam met Luan in die kleuterskool is. Hulle het reeds voorverlede week agterkom Luan lyk nie lekker nie. “Op Sondag, 8 Oktober, het Chané op ons skool se WhatsApp-groepie gevra vir hulp oor hoe om Luan se koors te breek,” het Lizelle gesê. Hulle het toe maar gedoen wat hulle kon om Luan te help.

Die volgende dag is Luan kleuterskool toe, maar hy was steeds baie siek. “Ons het gereël dat hy dokter toe kon gaan, maar die familie se dokter kon hom eers Maandagmiddag sien, aangesien hy in die teater was,” het Lizelle gesê. Niemand het egter in daardie stadium besef presies hoe kritiek Luan se toestand werklik was nie.

Net na nege Maandagoggend het die kleuterskool laat weet dat daar ernstig fout is met Luan se asemhaling en dat sy naeltjies en lippies begin blou word. “Ons het Prognos geskakel en die dame daar het gesê ons moet Luan onmiddellik bring,” het Lizelle gesê. Daar aangekom, onthou Lizelle, het plaaslike dokter Anton Stroebel Luan een kyk gegee en onmiddellik gereël dat hy in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem word. Hier het personeel dadelik Luan op ‘n drip en suurstof geplaas om te help met sy asemhaling.

Luan het oornag in die hospitaal gebly, maar teen vroeg Dinsdagoggend was dit duidelik dat hy geen beterskap toon nie. “Dr. Stroebel het vir ons gesê dat Luan eintlik in ‘n intensiewe-sorgeenheid hoort,” het Lizelle gesê.

Omdat Chané en pa Robert geen mediese fonds het nie, is daar eers probeer om Luan in ‘n goeie staatshospitaal opgeneem te kry. “Ons het eers probeer dat Luan opgeneem kan word in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal, wat ‘n baie goeie pediatriese eenheid het. Hulle kon ons egter nie help nie. Ons het toe die Mankweng staatshospitaal probeer, maar hulle het ook nie plek vir hom gehad nie,” het Lizelle gesê.

Almal het in daardie stadium besef dat Luan se enigste kans op herstel sou wees as hy opgeneem word in die Tzaneen MediKliniek. Lizelle en haar man, Hennie, het toe begin kwotasies kry by die MediKliniek in Tzaneen. Daar was astronomiese bedrae wat sommer vooraf betaal moes word. “Net nadat ons met die hospitaal gepraat het, het ek en Hennie tot die Here gebid vir uitkoms, want Hy weet wat ook in ons begroting aangaan,” het Lizelle vertel.

Later die dag het ‘n vriend van Hennie, verbonde aan die ER24 ambulansdiens in Polokwane, geskakel en gesê hy het gehoor van Luan. Die vriend het aangebied om teen ‘n fraksie van die koste vanaf Polokwane na Louis Trichardt te ry en Luan per ambulans deur te jaag na die Tzaneen MediKliniek.

Hennie-hulle het die aanbod aanvaar en Luan is laat Dinsdagmiddag deurgejaag na die MediKliniek in Tzaneen. Daar aangekom, is hy dadelik in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem en Woensdagoggend is Luan op ‘n ventilator geplaas om hom te help om asem te haal.

Daardie Woensdagaand was Hennie ‘n bekommerde man, nadat die hospitaal voorlopige rekeninge aan hom begin stuur het. Hennie het gesê hy het nog so na sy rekenaar gesit en kyk en wonder hoe hulle die rekeninge gaan betaal, toe sy selfoon lui. Dit was Rudi Meissenheimer van Tafelrondte Zoutpansberg 66. Hy het vroeër vir Hennie geskakel en gevra hoe hulle kan help. Hy het net teruggeskakel om vir Hennie te sê dat hulle vergader het en dat Tafelrondte 66 besluit het om R30 000 by die hospitaal in te betaal. “Hennie het met trane in sy oë gesit,” het Lizelle gesê.

Wat daarna gebeur het, beskryf Lizelle net as ‘n wonderwerk. Buiten die R30 000 wat die Tafelaars Donderdagoggend inbetaal het, het Luan se verhaal soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei. “Jy sal nie glo nie, vanaf Woensdagoggend tot Vrydag het weldoeners sowat R98 000 by die hospitaal vir klein Luan inbetaal,” het Lizelle gesê.

Intussen het Luan tekens van beterskap getoon. Vrydagoggend het hy sy ogies begin oopmaak, maar sy toestand was steeds kritiek. “Saterdag het hy egter weer ‘n terugslag beleef. Selfs die dokters was bekommerd en ma Chané was in trane,” het Lizelle gesê. Hennie-hulle het die volgende dag deurgery en vir Chané en Luan-hulle gaan kuier. “Hy het baie beter asemgehaal, maar ons kon sien hy is nog kritiek,” het Lizelle gesê.

Teen Maandag het Luan se toestand dramaties verbeter, veral omdat medici ná ‘n string toetse die oorsaak van sy longinfeksie kon identifiseer en dit begin behandel het. Dinsdag het Luan se toestand tot so ‘n mate verbeter dat hy van die ventilator afgehaal kon word en op sy eie kon asemhaal.

“Daardie ma en pa het deur diep waters gegaan. Ma Chané was ‘n hele paar keer in trane. Ek kan nie dink hoe hulle dit hanteer het nie. Ek sou mal geraak het as dit my kind was,” het Lizelle gesê. Sy was dankbaar vir die hulp wat hulle ontvang het. “Wat ‘n wonderlike getuienis. Daar is soveel mense wat gehelp het - mense wat verblyf gereël het en selfs mense wat klere geskenk het. Chané-hulle is met die klere aan hulle lyf saam met die ambulans Tzaneen toe,” het Lizelle gesê.

Luan se ouers is eweneens dankbaar vir die hulp en gebede. “Baie, baie dankie Hennie en Lizelle vir alles wat julle vir ons doen. Dankie ook aan die personeel van die MediKliniek. Julle kyk mooi na ons seuntjie. Ek kan nie vir julle sê hoe bly dit ‘n ouer se hart maak om weer te sien jou kind eet en lag nie,” het Chané gesê.

Te midde van die dankbaarheid oor Luan se herstel, hang die swaard van mediese rekeninge nog oor die familie se kop. Die R98 000 wat verlede week inbetaal is, was teen Maandag feitlik uitgeput. Persone wat graag die familie wil bystaan, is welkom om Rudi te skakel by tel. 082 776 8377. Die Tafelrondte het aangebied om inbetalings te help administreer.

 
 
 

Viewed: 1011

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die eenjarige Luan Oosthuizen is laat Dinsdagmiddag deurgejaag na die MediKliniek in Tzaneen. Daar aangekom is hy dadelik in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem, en Woensdagoggend is Luan op ‘n ventilator geplaas om hom te help om asem te haal. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT