ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle ds. Harm Bonnema (66). Foto verskaf.

Geliefde ds. Harm Bonnema oorlede

Date: 19 August 2017 By: Andries van Zyl

Een van die streek se mees gerespekteerde oud-inwoners, ds. Harm Bonnema, is Maandagaand in die ouderdom van 66 jaar oorlede.

Die afgelope paar weke het ds. Harm geweldig met sy gesondheid gesukkel. Volgens Hendrik, sy oudste seun, is sy pa sowat twee weke gelede in die MediClinic in Vereeniging opgeneem vanweë ‘n maagseer. Dit het tot geweldige bloedverlies gelei. Vandaar het dinge egter net al slegter en slegter gegaan, totdat ds. Harm Maandag omstreeks 23:10 oorlede is vanweë veelvuldige orgaanversaking. “Hy het maar swaar gekry die laaste tyd. Tog het ons die geleentheid gehad om op ‘n mooi manier afskeid van mekaar te neem,” het Hendrik Dinsdag telefonies aan die Zoutpansberger gesê.

Ds. Harm is op 8 September 1950 in die destydse Pietersburg gebore. Kort daarna het sy ouers verhuis na Levubu, waar hulle tot in 1980 geboer het. Ds. Harm was vanaf 1957 tot 1963 ‘n leerling van Laerskool Levubu. In 1963 is sy laerskoolloopbaan egter onderbreek vir 11 maande toe hy in die ou HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria behandel moes word vir neurologiese en rugprobleme. Hy het geskiedenis gemaak deur sy laerskoolloopbaan in die hospitaal te voltooi.

In 1964 was ds. Harm ‘n leerling van die Hoërskool Lydenburg, waar hy in 1968 as hoofseun gematrikuleer het. Kort daarna, in 1969, het hy sy opleiding aan die Universiteit van Pretoria begin en in 1971 sy BA (Admissie)-graad behaal. Daarna was hy tokkelok aan die Teologiese Fakulteit en het in 1975 sy Diploma in Teologie verwerf. Sy eerste gemeente was die NG Gemeente Voorwaarts in Vereeniging, waar hy in Januarie 1977 bevestig is. Gedurende sy studentejare is hy op 6 April 1974 met Hannetjie (nèe Janse van Rensburg) getroud; drie kinders, Hendrik, Andorette en Harm (junior), is uit die huwelik gebore.      

In lewe het ds. Harm diep spore in die Soutpansberg-gemeenskap getrap as NG-leraar. In 1983 het hy teruggekeer na die wêreld waar hy gebore is toe hy in Desember van daardie jaar as leraar by die NG Gemeente Soutpansberg bevestig is. In die laat tagtigerjare, weens finansiële moeilike tye as gevolg van die ontvolking van die middedorp, het die kerkrade van die NG-gemeentes Louis Trichardt (Haantjiekerk) en Soutpansberg besluit dat laasgenoemde gemeente een van sy drie leraars moet afstaan aan Louis Trichardt-gemeente. So het dit ook dan gebeur dat ds. Harm op 6 Mei 1990 as leraar by die gemeente bevestig is. Hier het hy die gemeente vir 12 jaar as leraar en drie jaar met pastorale hulp bedien.

Ds. Harm het in sy leeftyd maar gesukkel met sy gesondheid. Sy gesig het egter altyd met ‘n glimlag gestraal, met sy kenmerkende bulderende lag. In 1999 moes hy ‘n hartomleiding kry ná ‘n hartaanval. Daar was egter komplikasies weens ernstige infeksie en sy hele borsbeen moes tydens ‘n noodoperasie verwyder word. In 2001 was ds. Harm terug in die teater vir ‘n tweede knievervangingsoperasie, wat onsuksesvol was. Daarom het hy in Oktober 2002 weens gesondheidsredes emiraat aanvaar. Die kerkraad het ds. Harm egter versoek om nog te help met pastorale hulp en hy was steeds betrokke by die bearbeiding van bejaardes, asook die Waterpoortwyke. Hy het ook gehelp met prediking by die Gemeente Soekmekaar vanaf 2003 tot 2005.

Tot en met ds. Harm en Hannetjie se aftrede in die lente van 2005 was ds. Harm aktief betrokke op ‘n breë kerklike terrein. Vir baie jare het hy gedien op die ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt, en ook as voorsitter van die ringskommissie vir die Diens van Barmhartigheid en as lid van die Noord-Transvaalse Sinode se Diens van Barmhartigheid. Hy was ook vir jare ‘n lid van die Ring se kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie, Argief en Beplannings, Kerkvisitasie en Sending. Hy het ook gedien op die NG Moedergemeente Trust en Ons Tuiste Trust.

Ná aftrede het ds. Harm en Hannetjie na Vanderbijlpark verhuis om beide nader aan hul kinders en kleinkinders te wees, asook nader aan gespesialiseerde mediese sorg, waar hulle tot sy afsterwe woonagtig was.

"My ma vat my pa se dood maar swaar, maar ons ondersteun haar,” het Hendrik gesê.

Wyle ds. Harm se dankseggingsdiens vind Vrydag, 18 Augustus, om 11:00 vanuit die NG Kerk Vanderbijlpark Suid plaas. Hy word oorleef deur sy eggenote Hannetjie, kinders Hendrik (met eggenote Liezl en kleinkinders Moya en Harm), dogter Andorette en jongste seun Harm (met eggenote Jackie). (Artikel saamgestel uit uittreksels van dr. Gerdie van der Merwe se boek: Ons stad op die berg 1906 tot 2006)

 
 
 

Viewed: 1742

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT