ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 49-jarige Francois Labuschagne.

Vrae oor vermiste beleggings

Date: 06 February 2017 By: Andries van Zyl

‘n Voormalige finansiële adviseur van Sanlam, die 49-jarige Francois Martinus Labuschagne van Louis Trichardt, het verlede week vlugtig in die handelsmisdaadhof in Bellville verskyn op klagte dat hy na bewering beleggers uit sowat R1 miljoen bedrieg het.

Labuschagne is op 15 Januarie in Louis Trichardt gearresteer deur lede van die plaaslike speurtak, in samewerking met die Wes-Kaapse Valke. Ná ‘n kort hofverskyning hier, is sy saak oorgeplaas na die handelsmisdaadhof in Bellville waar hy op 24 Januarie weer verskyn het. Tydens hierdie hofverskyning het Labuschagne aansoek gedoen om regshulp. Hy is vrygelaat op waarskuwing dat hy op 23 Februarie weer in die Bellville hof moet verskyn.

Labuschagne se arrestasie volg na afhandeling van ‘n ses-jaar-lange ondersoek teen hom. Die ondersoek hou verband met sy werksaamhede as 'n Sanlam finansiële adviseur op Ceres tussen 2005 en 2010.

Volgens inligting verskaf aan die koerant  sou Labuschagne aan beleggers gesê het dat hulle beleggingsportefeuljes swak presteer en dat hulle eerder hul beleggings moet afkoop of omswaai na ‘n beter beleggingsmoontlikheid. Die kliënte sou dan aan Labuschagne volmag gee om hul beleggingsbedrae te herbelê. Labuschagne sou egter na bewering die beleggingsbedrae onttrek, maar nooit herbelê nie. Hierdie bedrag in “vermiste” geld beloop, volgens die inligting verskaf, meer as R900 000. Intussen het talle kliënte begin agterdogtig raak, aangesien Labuschagne klaarblyklik navrae sou ontduik of telkens ‘n verskoning sou hê oor die stand van hul beleggings.

Me. Esann de Kock, senior kommunikasiebestuurder van Sanlam, het by navraag Dinsdag in ‘n verklaring gesê dat Sanlam ‘n interne forensiese ondersoek geloods het nadat die eerste formele klagte teen Labuschagne ontvang is. Dit het uitgeloop op Labuschagne se summiere ontslag uit Sanlam se diens in November 2010 ná ‘n dissiplinêre verhoor. Sy naam is ook vanaf die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se register geskrap, wat beteken het dat hy nie meer as finansiële adviseur of makelaar kan optree nie. De Kock het verder gesê dat Sanlam die saak in Junie 2011 aan die polisie gerapporteer het en dat Sanlam deurentyd met die polisie saamgewerk het ten opsigte van hul ondersoek teen Labuschagne.

Die saak teen Labuschane is die tweede beleggingskandaal in minder as 10 jaar waarby ‘n finansiële adviseur of makelaar van Louis Trichardt betrek is.

Baie lesers sal die tragiese gebeure onthou wat in 2009 gelei het tot die selfmoord van plaaslike makelaar Chris Tissink (35). Labuschagne en Tissink se sake stem in baie opsigte ooreen, veral wat betref die tydgleuf waarin beleggers se geld vermis geraak het. Labuschagne was in daardie stadium nog werksaam as finansiële adviseur by Sanlam.

Tissink het op 14 April 2009 selfmoord gepleeg in die badkamer van een van sy kantore in Erasmustraat in Louis Trichardt. Kort ná sy dood het gerugte die rondte begin doen dat talle van die dorp en streek se sakelui miljoene rande verloor het in beweerde fiktiewe beleggings (soos ook die geval in Labuschagne se saak) wat Tissink as makelaar namens hulle sou gedoen het. In Tissink se geval is daar aanvanklik beleggingsbedrae genoem van meer as R100 miljoen waarvan daar geen rekenskap gegee kon word nie. Later sou dit blyk dat die beleggingsbedrae nader aan R50 miljoen was.

Soos in Labuschagne se geval, het van Tissink se kliënte ook snuf in die neus begin kry en by beleggingsinstansies begin navraag doen, net om uit te vind dat daar geen rekord was van hul beleggings nie. Tissink het homself geskiet kort nadat hy deur van die beleggers hieroor gekonfronteer is. State wat maandeliks aan talle beleggers verskaf is, het ná die tyd vervals geblyk te wees.

Tissink was ten tye van sy dood die middelpunt van ‘n polisie-ondersoek en sy arrestasie was onvermydelik. Die ondersoek het verband gehou met ongerymdhede ten opsigte van beleggingsgeld terwyl hy as makelaar werksaam was by Standard Bank. Hy het in Februarie 2008 by dié bank bedank, voordat hy dissiplinêr verhoor kon word. Standard Bank het daarna kriminele klagte teen Tissink aanhangig gemaak.

Op 11 Februarie 2009 is Tissink se naam van die RFD se register geskrap, wat beteken het dat ook hy nie meer as makelaar kon optree nie. Kort daarna, in Maart 2009, het Sanlam, by wie Tissink ook beleggings gemaak het, sy kode om geld by die maatskappy te belê gesluit nadat dit rugbaar geword het dat sy naam van die sentrale RFD-register geskrap is.

Beleggers het ná Tissink se dood ‘n suksesvolle aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring om Tissink se boedel onder kuratorskap te plaas. Sy boedel is gesekwestreer en as ‘n insolvente boedel hanteer. Ná wat verneem word het beleggers ná afhandeling van Tissink se bedoel bitter min van hul beleggingsgeld teruggekry. Wat van die miljoene geword het, bly steeds ‘n vraag wat beantwoord moet word.

 
 
 

Viewed: 1119

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die 49-jarige Francois Labuschagne.

Die 49-jarige Francois Labuschagne.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT