ADVERTISEMENT:

 

 
 

Twee jaar ná die wrede aanval en marteling van Petro Weyers (68) en haar kleindogter, Chaney (8), worstel hulle steeds met die geestelike en fisiese letsels wat die aanval op hulle gelos het. Juis vanweë die aanval is Petro tans besig om heeltemal blind te raak. 

Blindheid wink

Date: 04 April 2016 By: Andries van Zyl

Twee jaar nadat Petro Weyers en haar kleindogter, Chaney, aangeval, gemartel en vir dood agtergelaat is, worstel hulle steeds met die geestelike en fisiese letsels van die aanval.

Petro en Chaney het omstreeks 01:30 die oggend van 6 Februarie 2014 wakker geskrik by Petro se woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat. Toe hul oë oopgaan, het twee mans op hulle gesit, een op Petro en een op Chaney. Wat gevolg het was ‘n twee-uur-lange marteling waartydens Chaney gewurg en vir dood eenkant in die kamer se hoek gegooi is. Petro selfs is ses keer gewurg tot kort voor sy haar bewussyn verloor het, net om weer toegelaat te word om asem te skep, sodat die marteling kon voortgaan. Die booswigte wou geld hê. Ook Petro is later vir dood gelos, nadat sy in ‘n bewustelose toestand vasgebind en onder beddegoed toegepak is. Dit was ‘n Godswonder dat Chaney haar bewussyn herwin het, waarna sy haar ouma kon losmaak en hulle hulp kon ontbied. Die brutale aanval het die hele land geskok.

Die Zoutpansberger het Dinsdag by Petro-hulle gaan inloer. Onder omstandighede gaan dit goed met hulle. Alhoewel die nou 68-jarige Petro en agtjarige Chaney sielkundig al ‘n lang pad gestap het in hul reis na geestelike genesing, is dit Petro wat nou worstel met die fisiese letsels. Sy is tydens die aanval erg in die gesig geslaan, in so ‘n mate dat die retinas in beide haar oë geskeur het. Tydens haar laaste besoek aan die oogarts was die prognose nie goed nie … sy is besig om blind te word in altwee oë. Om die situasie nog erger te maak, het katarakte ook nou in altwee Petro se oë begin vorm.

“Die dokter het gesê al wat sal help is as ek dringend ‘n operasie in altwee oë kry,” sê Petro. Die koste van die operasie per oog beloop R25 000. Om te betaal is egter makliker gesê as gedaan. “Jy weet, ek en sy [Chaney] leef maar op ‘n pensioen … ons het nie ‘n mediese fonds nie,” sê Petro.

Petro raak heel emosioneel as sy vertel van hoe haar sig sedert die aanval agteruitgegaan het. “Soos dit nou is, is die lig baie skerp. Dit is beter met die donkerbril,” sê sy, half apologeties dat sy die bril in die huis dra. Chaney hardloop op haar beurt die hele woonstel vol, met haar handjies wat vir niks verkeerd staan nie. “Sy is my regterhand,” glimlag Petro.

Dit is egter duidelik dat die kwessie rondom finansies vir Petro erg pla. Sowat ‘n maand gelede het sy en Chaney ‘n springmieliemasjien aangeskaf om te help om hul finansies aan te vul. Chaney is heel behendig met die maak van die springmielies en gaan haal ‘n hele sak springmielies, netjies verpak in pakke van 15 sakkies. “Dit werk uit op R3 ‘n pakkie en ons verkoop dit teen R45 ‘n pak,” sê Petro. Chaney is vinnig om hul “besigheidstempel” te gaan haal. Petie’s Popcorn 084 882 2744, stempel sy op ‘n stukkie papier. “As die mense ons kan ondersteun om die springmielies te koop, sal ons baie bly wees. Dit is nou ‘n slegte tyd want dit is langnaweke en skoolvakansie, maar ons moet geld maak,” sê Petro.

Oor die aanval self en die gebrek aan arrestasies is Petro baie, baie bitter. “Ek het opgevolg tot in Polokwane. Ek het orals navrae gedoen, maar dit help nie. Tot nou toe is daar nog niemand gevang nie,” sê Petro. Sy noem dat die saak blykbaar ook deur die polisie gesluit is, en verwys na ‘n brief wat die polisie vir haar gegee het wat sê dat hulle [die polisie] nie meer die saak verder kan opvolg nie. “Dit is nonsens!” sê Petro. Oor die presiese inhoud van die brief is Petro onseker, “want ek kan nie sien om te lees nie – ek kan bykans niks sien nie,” sê Petro.

Wat hulle geestelike toestand betref, sê Petro gaan dit relatief goed. “Met Chaney gaan dit goed. Elke dag om 17:00 maak sy egter steeds die deure toe en sê ‘Ouma, hulle kom ons nou-nou weer aanval’ – tot nou toe. Sy kry darem nie meer nagmerries nie,” sê Petro. Chaney het ná die voorval vir verskeie beradingsessies gegaan en vorder op skool ook goed. Petro self sê sy kry nie meer nagmerries nie, “maar ek bid baie dat ek asseblief net my oë kan terugkry.” Die vrees en onsekerheid is duidelik in haar gemoed sigbaar, want hulle aanvallers loop nog op vrye voet los. “Dié wetters moet betaal vir wat hulle gedoen het! Hulle het my sig weggevat!” sê Petro.

 
 
 

Viewed: 1203

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT