ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Verdagtes ondervra oor wrede aanval

Date: 21 March 2016 By: Isabel Venter

“As ek nie ‘n slaappilletjie drink in die aand nie ... dan sien ek elke keer hoe die gebeure van daai nag voor my ooglede afspeel.”

So sê die 77-jarige ouma wat saam met haar kleinkinders op 6 Maart wreed aangeval is in hul huis in Louis Trichardt.

Sy, haar twee kleinseuns (30 en 23), en die oudste kleinseun se vrou (24), is in hul huis aangehou deur ses rowers en genadeloos gemartel. Die familie kan steeds nie geïdentifiseer word nie, omdat die polisie se ondersoek nog nie voltooi is nie.

By navraag het die Makhado Polisie bevestig dat hulle sedert die aanval altesaam vyf verdagtes gearresteer het wat moontlik verbind kan word met die saak. Die gesin het uitkenningsparades bygewoon en het glo sekere verdagtes uitgeken. DNS-monsters is ook geneem by die verdagtes om te bepaal of dit hulle was wat die oudste kleinseun se vrou verkrag het tydens die aanval.

Die jong vrou is vier keer verkrag deur vier verskillende rowers, terwyl die res van die gesin met sambokke en bakstene geslaan is. Haar man is ook op sy bo-been met ‘n strykyster gebrand. Die rowers het skynbaar geld geëis. Hulle het ná ure die gesin gelos en weggevlug met ‘n DVD-speler en almal se selfone.

Die koerant het Woensdag telefonies met die ouma gesels om uit te vind hoe dit met haar en die res van die gesin gaan.

Hulle het vir ‘n kort rukkie ná die aanval by vriende en familie oorgeslaap, maar het die naweek teruggekeer huis toe. Dit nadat weldoeners ‘n alarmstelsel by die huis geïnstalleer het.

Slaap ontwyk hulle almal egter nog, het die ouma gesê. Almal van hulle slaap in die aande in haar kamer, want dit is die enigste vertrek wat met ‘n slot gesluit kan word. “My oudste kleinseun het vir my gesê hy is bang vir sy eie kamer,” het die ouma gesê.

Met dié kleinseun se vrou gaan dit onder die omstandighede goed, alhoewel die medikasie waarmee sy behandel word haar baie siek maak.

Intussen het die gesin se kerk nie net gehelp met berading nie, maar ook finansieel en met kos.

Buiten vir die selfone wat die rowers gesteel het, het hulle ook die gesin se kruideniersware waarmee hul tot die end van die maand oor die weg moes kom, gesteel. Goed soos waspoeier en die ouma se bloeddrukpille het hulle in die drein afgegooi. 

 

 

 
 
 

Viewed: 1047

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT