ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wally Schultz (voor) inspekteer die toestand van die boorgat in President Steynstraat saam met 'n AfriForum-inspekteur. Hierdie boorgat gaan AfriForum nou self regmaak as deel van hulle selfdoen-aksieplan om watervoorsiening aan Louis Trichardt aan te spreek. Foto verskaf.

AfriForum stel aksieplan in werking

Date: 12 December 2015 By: Isabel Venter

Is die einde van Louis Trichardt se voortslepende waterkrisis in sig? AfriForum reken so en is baie opgewonde dat hulle nou uiteindelik die kans gaan kry om hul selfdoen-wateraksieplan vir Louis Trichardt in werking gaan stel. Die plaaslike tak het Dinsdag aangekondig dat hulle tweeledige aksieplan goedgekeur is.

Dit volg nadat die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) teen 30 November nie daarin kon slaag om te antwoord op ‘n prokureursbrief van AfriForum nie.

AfriForum se plaaslike tak het vandeesweek aangekondig dat hulle ‘n hernude poging aangewend het om die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) te dwing tot aksie. Hulle poging om ‘n finale ultimatum te stel aan die VDM op 10 Junie vanjaar was nie geslaag nie.

In dié prokureursbrief, gedateer 10 November, is die VDM 14 werksdae gegun om na vore te kom met voorstelle óf ‘n daadwerklike plan van aksie om watertekorte in en om Louis Trichardt aan te spreek. Die 14 dae het verstryk met geen antwoord van die VDM nie.

“AfriForum het met hartseer kennis geneem van die totale verval waarin die VDM gedaal het, en die totale agteruitgang van die dorp se boorgatstelsel wat dit teweeggebring het,” het plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz Dinsdag in ‘n e-pos gesê.

Schultz het verder gesê dat dit ongelukkig is om te sien dat VDM nie die pyp kan rook nie. Hy het verwys na die tyd toe die VDM se vorige  munisipale bestuurder, mnr. Masala Makhumule, die leisels styf vasgevat het en begin het om die boorgatstelsel te herstel. “Die water het gevloei vir ‘n hele paar weke, totdat Makhumule die trekpas gekry het. Ná hom het alles platgeval aan die hande van ‘n rotasie van onbevoegde waarnemende munisipale bestuurders,” het Schultz gesê.

Die nuwe, waarnemende bestuurskomitee van die VDM het Makhumule se waterbestuurskomitee ontbind.

Noudat VDM se tyd uitgeloop het, het Schultz en AfriForum se topbestuur aangekondig dat die eerste been van hul aksieplan Woensdag begin het. Die boorgat in President Steynstraat sal ten volle herstel word, omdat dit reeds gekoppel is met die reservoir in Berghstraat. “Dié reservoir is voortdurend leeg en die rede hoekom die sakegebied, hospitaal en noordelike deel van die dorp altyd sonder water is,” het Schultz verduidelik. Die plaaslike tak sal betaal vir die herstelwerk aan die boorgat uit hul eie rekening, maar die tekort sal deur AfriForum se hoofkantoor betaal word soos dit nodig word.

Die tweede been van hul plan sal behels dat AfriForum die VDM terug hof toe vat. AfriForum se prokureur, mnr. Werner Human, het hierdie week instruksies ontvang om dringend voort te gaan om VDM voor die hof te daag vir minagting van die hof. “Die VDM het in die twee jaar sedert ons die hofbevele gekry het, nie daarin kon slaag om konstante water aan die dorp te voorsien en derhalwe te voldoen aan die hofbevel nie,” het Schultz gesê.

As AfriForum se regspan daarin kan slaag om hul saak te wen, sal dit nog ‘n baanbrekersaak wees, wat hulle hoop ‘n voorbeeld kan word vir ander dorpe in Suid-Afrika.

 

 
 
 

Viewed: 649

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT