ADVERTISEMENT:

 

 
 

Polisie moet help om kinders in toom te hou

Date: 13 February 2015 By: Isabel Venter

Gerugte van wat die naweek by ‘n atletiekbyeenkoms hier op Louis Trichardt gebeur het, het behoorlike die gemeenskap se hare laat rys.

Die geleentheid was ‘n kringbyeenkoms wat gereël is deur die Departement van Basiese Onderwys vir skole in die Soutpansberg Oos-kring. Vir dié geleentheid is Hoërskool Louis Trichardt se sportveld in Ruhstraat, Triegiepark, gehuur deur die departement.  

Ouers moes met afgryse hoor hoe besoekende skole se leerlinge wild te kere gegaan het. Leerlinge is gevang terwyl hulle seks gehad het in badkamers, daar was ander wat dagga gerook het en heelwat wat hulleself in ‘n toestand in gedrink het. Daar was selfs gerugte dat dronk leerlinge handgemeen geraak het met Triegie-onderwysers wat hulle probeer bedwing het.

Onderwysers van die ander skole wat teenwoordig was en veronderstel was om toesig te hou oor hulle studente, kon net hulpeloos staan en toekyk hoe die byeenkoms uitmekaar val.

Die studente het begin oproerig word en velditems vir atlete ontwrig. Dinge het so handuitgeruk dat die hulp van die polisie en die Soutpansberg Dorpswag ingeroep moes word om die oproerige skare kinders onder beheer te kry.

Die Zoutpansberger verneem dat Triegie-leerlinge saamgedrom het vir hul eie veiligheid, totdat die situasie ontlont is.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het vandeesweek bevestig dat die polisie hulle hande vol gehad het met die kinders. Daar is ook twee boetes uitgereik aan leerlinge wat buite Triegiepark gevang is; een vir drankgebruik en ‘n ander vir die rook van dagga.

Geen klagte van aanranding is gelê vir ondersoek nie, en die skool het ook bevestig dat geen van hul onderwysers of leerlinge beseer is nie.

Dit is nie die eerste keer dat Hoërskool Louis Trichardt die ongelukkige gasheer is vir dié jaarlikse kringbyeenkoms nie. Gedurende 2011 het die Zoutpansberger berig oor dieselfde byeenkoms wat net so buite beheer geraak het. Leerlinge van die besoekende skole was destyds so dronk gewees dat hulle voor motors ingehardloop het, en beide motoriste en voetgangers met vieslike woorde toegesnou het. Party mense is sommer met klippe gegooi.

Hoërskool Louis Trichardt, as ‘n voormalige model C-skool, is die enigste skool in die streek wat beskik oor al die nodige sportgeriewe en -toerusting om ‘n atletiekbyeenkoms van hierdie aard suksesvol aan te bied.

Die skool het vandeesweek in geen onduidelike terme gesê dat hulle die gedrag en optrede van die besoekende leerders ten sterkste afkeur. “Hoewel Hoërskool Louis Trichardt hulself geheel distansieer van die gebeure, ondersteun ons die departement in hul ondersoek en identifisering van skole wie se leerders by voorvalle betrokke was,” het die sportkomiteevoorsitter van die skool se beheerliggaam, mnr. Gideon Joubert, in ‘n persverklaring gesê.

Joubert het bevestig dat die skool reeds van die skuldige skole geïdentifiseer het, en dat hulle deur die departement aanspreeklik gehou sal word vir hul leerlinge se dade. Verder het die skool reeds ‘n werksplan in werking gestel om te voorkom dat toekomstige sportgeleenthede van die departement nie weer ontaard nie.

Dié werksplan het reeds vrugte afgewerp, want ‘n tweede kring-atletiekbyeenkoms wat Saterdag (7de) aangebied is by Triegies het rustig en sonder enige voorval verloop. “Leerders van alle skole se veiligheid en morele behoud is vir ons ‘n hoogste prioriteit en ons optrede en reaksie op wat gebeur het word daardeur geïnspireer,” het Joubert bygevoeg. Hy het verder ook gesê hoe trots die beheerliggaam was op al die Triegie-atlete wat hulleself met waardigheid gedra het en die skool se naam hoog gehou het.

Joubert het ook, namens die skool, die polisie, ouers en onderwysers bedank vir hul ondersteuning en optrede en die skool bygestaan het op die dag.

Die streeksbestuurder van die Soutpansber Oos-kring, mnr. Falaza Baloyi, is genader vir kommentaar rakende die ondersoek, maar kon teen druktyd nog geen nadere besonderhede bekendmaak nie.

Leser Kommentaar

Triegie leerlinge hou ons naam hoog (12 Februarie 2015)

 
 
 

Viewed: 278

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT