ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Daniëlle Mitchell (14). Foto verskaf.

Woede ná R524 nog ‘n lewe eis

Date: 19 April 2024 By: Andries van Zyl

Die haglike toestand van die R524-pad tussen Louis Trichardt en Thohoyandou was Sondagmiddag weer die oorsaak van ‘n ernstige motorongeluk, wat gelei het tot die dood van die 14-jarige Daniëlle Mitchell. Haar ma, Karlo Mitchell (43), het wonderbaarlik die ongeluk oorleef.

“Dit is hard vir die familie. Daniëlle was Karlo se alles gewees. Hulle was altyd saam gewees,” het Jan Joubert, Karlo se neef,  Dinsdag gesê.

Volgens Joubert was Karlo-hulle by haar ma op Levubu gewees en was sy en Daniëlle op pad terug in die rigting van Louis Trichardt na Bundu Furniture, waar Karlo-hulle ‘n woonstel huur. By Border Motors was die bestuurder van ‘n ander voertuig op reis in die rigting van Thohoyandou. Volgens beeldmateriaal van die ongeluk, wat om presies 16:22 plaasgevind het, wil dit lyk asof die bestuurder van die ander voertuig, ‘n 60-jarige vrou, vermoedelik vir ‘n slaggat voor haar in die pad uitgeswaai en oorbeweeg het in Karlo se baan in. Karlo het oorgegaan in die teenoorgestelde baan om die vrou se voertuig te probeer vermy, maar op die laaste oomblik het die ander vrou weer teruggeswaai in haar baan in en Karlo-hulle se voertuig tromp-op getref.

Karlo se voertuig het weens die impak die lug ingeskiet en langs die pad teen ‘n boom tot stilstand gekom. Oomblikke later het dit aan die brand geslaan. Joubert het gesê net die vinnige optrede van die personeel by Border Motors, wat brandblussers gegryp het en dadelik die vlamme kon blus, het ‘n groter tragedie verhoed.

Die voertuig waarin Daniëlle en haar ma Karlo gery het,
ná die tromp-op botsing. Foto verskaf.

Karlo is eerste uit die voertuig gehaal vir mediese behandeling op die toneel. Die bestuurder van die ander voertuig, die 60-jarige vrou, kon blykbaar self uitklim. Daniëlle was egter vir ‘n tyd lank vasgepen in die voertuig. Buiten vir beenbreuke het sy ook inwendige beserings opgedoen. “Ek het nog mooi met Daniëlle gepraat en vir haar gesê, ‘Weet jy wat, ons gaan jou nou uithaal en ons gaan mooi kyk na jou. Dit gaan bietjie seer wees. Ons gaan jou in die ambulans laai en die dokter gaan mooi kyk na jou. Jy gaan reg wees’,” het Joubert gesê. Oomblikke later is Daniëlle per ambulans deurgejaag na die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal, en so ook Karlo.

Niks kon egter vir ma Karlo en die familie voorberei vir die nuus wat hulle later sou ontvang dat Daniëlle weens haar beseringe om 19:00 daardie selfde aand oorlede is nie. “Dit voel vir my of ek vir haar gejok het toe ek vir haar gesê het sy gaan fine wees … Maar wat anders kan jy maak? Ek het haar probeer kalm hou,” het Joubert gesê.    

Karlo is vanaf Louis Trichardt oorgeplaas na die Pietersburg Medikliniek, waar sy geopereer moes word vir onder meer frakture aan haar arm en sleutelbeen, wat met skroewe weer geheg moes word. Teen druktyd was sy steeds in die hospitaal, met familie wat haar bystaan.

Sondag se noodlottige ongeluk op die berugte R524 het weer gemoedere opgejaag vanweë ‘n skynbare laksheid van SANRAL om aan die pad aandag te gee. “Dit is nie net van nou af nie. Kyk maar die afgelope vyf jaar. Hulle doen net so ‘n bietjie opvulwerk. Paaie word nie meer reggemaak nie, uitgesny en ordentlik opgevul nie. Die werk word afgerammel en die geld word gebruik vir ander goed. Dit is hoekom dit gaan soos wat dit gaan,” het Joubert gesê.

Maandag het Joubert foto’s gaan neem van die slaggat wat vermoedelik die ongeluk veroorsaak het en ander slaggate binne loopafstand daarvan af. “Terwyl ek daar was, het daar twee voertuie by die vulstasie gestop om hulle bande reg te maak, nadat hulle slaggate getref het,” het Joubert gesê.

Joubert het sy foto’s via ‘n WhatsApp-inligtingsgroep aangestuur na SANRAL, wat hom laat weet het dat hulle spoedeisend die slaggate op daardie deel van die pad sou herstel. “Net daardie stukkie het hulle toe gedoen,” het Jan gesê. Maar vir jong Daniëlle was dit ‘n kwessie van te min te laat.

Die slaggat (links) wat vermoedelik direk tot die ongeluk gelei het. Teen Dinsdag het SANRAL die slaggat (regs) opgevul, maar vir die Mitchell-familie is dit ‘n kwessie
van te min te laat. Foto’s verskaf.

Joubert het die toestand van die R524 tussen Louis Trichardt na Levubu as “skrikwekkend” beskryf. Feitlik weekliks vind ernstige of noodlottige ongelukke op die pad plaas. Op Maandag, 1 April, was die Louw-familie (Enrico, Melanie en hul dogter Elmé) van Levubu gelukkig om hulle motorongeluk te oorleef. Hulle was op pad terug na Levubu vanaf Louis Trichardt toe hulle in ‘n tromp-op botsing met die bestuurder van ‘n Mercedes Benz, wat ‘n string voertuie probeer verbysteek het, betrokke was. Beide voertuie het aan die brand geslaan, maar die Louws kon almal betyds uitkom. Die bestuurder van die Mercedes Benz was minder gelukkig. Alhoewel hy die aanvanklike impak oorleef het, sou hy weens sy beserings beswyk. Melanie het ná die ongeluk opgemerk dat dit net genade was dat hulle lewe. Volgens haar neem hulle telkens hul eie lewens in hulle hande as hulle die pad gebruik weens die swak toestand daarvan en roekelose bestuurders.

Die afgelope paar jaar het die R524 al vir baie hartseer gesorg. Op 28 Oktober verlede jaar is bekende Louis Trichardt sakeman Louis Sauer (64) dood toe die bestuurder van ‘n aankomende voertuig beheer verloor het op die pad en sy voertuig met Sauer s’n gebots het. ‘n Paar maande voor dit, op 28 April, was die 30-jarige Carel van Aswegen en 23-jarige Jeandré Booysen op pad terug na Levubu.  Net verby die Beja Hengelparadys-pad afdraai was hulle in ‘n botsing met ‘n ander voertuig betrokke nadat dié blykbaar ook vir ‘n slaggat moes uitswaai. Carel, wat bestuur het, is op die toneel oorlede, terwyl Jeandré ernstige kopbeserings opgedoen het.

Joubert het gesê hulle gaan die saak nie daar laat nie. “Die familie is besig met SANRAL. Dit kan nie so aangaan nie,” het hy gesê. Volgens Joubert is die R524 definitief nie ontwerp vir die hoeveelheid verkeer wat dit dra nie. Die situasie, sê hy, word vererger deur die swak toestand van die Elim-pad. Mense wat dié pad vermy, gebruik nou ook die R524. “Ons weet dit [die toestand van die pad] gaan nie oornag regkom nie. Ons besef dit. Maar dit is sleg. Die familie is in rou … die hele gemeenskap is in rou,” het Joubert gesê

“Van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie [SDLU] se kant af sal ons die familie alle ondersteuning gee as hulle SANRAL wil aanvat. Ek bedoel, daar word nou al jare gepraat oor die opgradering van die pad. Kort-kort lyk dit of hulle iets wil begin doen. Die brûe se fondasies is al getoets en daar is al grondtoetse langs die paaie geneem, maar daar word net nie iets daadwerklik gedoen om die pad op te gradeer nie,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die SDLU gesê.

Havinga het gesê dat die dood van jong Daniëlle vir hulle as Levubu-gemeenskap as groot skok gekom het. Kort voor dit was dit die ongeluk waarin die Louw-familie betrokke was. “En dit is alles as gevolg van die pad wat in so ‘n slegte toestand is. Ja, dit is maklik om te sê dit is motoriste wat roekeloos ry, maar die padtoestand laat dit nie toe om ordentlik te ry nie ... Dit skep ‘n ongelooflike groot probleem,” het Havinga gesê. Van die SDLU se kant af het hy ook onderneem om met SANRAL in gesprek te tree. “Ons wil hoor wat is hulle planne, want ons sit met ‘n groot probleem. Die pad is vir ons ‘n lewensaar deur na Louis Trichardt toe. Dit is waar ons besigheid doen, en ons kinders is daar in die skole,” het Havinga gesê. Maar voor hulle aandag gee aan die R524, het Havinga gesê, sal hulle eers die D4-pad tussen Elim en Levubu moet regmaak om die verkeer te kan dra. “Niemand ry die D4-pad nie, want die pad bestaan nie meer nie,” het Havinga gesê.

Teen druktyd was nog geen begrafnisreëlings bekend gemaak vir jong Daniëlle nie, aangesien alles afhang van wanneer Karlo uit die hospitaal ontslaan kan word. Intussen het Joubert gesê hulle as familie is oorweldig deur woorde van vertroosting met Daniëlle se afsterwe en boodskappe van beterskap vir Karlo. “Mens kry net weer waardering vir die gemeenskap waarin jy bly,” het Joubert gesê.

Daniëlle was ten tye van haar dood ‘n Graad 8-leerling by die Merensky Landbou Akademie buite Tzaneen. In ‘n hartroerende huldeblyk aan haar het die skool die volgende op hulle Facebook-blad geskryf: “Ons onthou haar ikoniese grappe en haar heelhartige deelname aan die sangspan. In Hestia-koshuis is haar vrolike lag nou stil, en word haar saggeaarde teenwoordigheid reeds gemis. Haar kamermaats dink met dankbaarheid terug aan ‘n spesiale partytjie waarmee hulle op 3 April nog haar veertiende verjaarsdag saam met haar kon vier. Sy en haar kamermaats was ‘n familie in die kleine en word sy onder andere onthou vir haar liefde vir koekies saam met ‘n beker koffie. Daniëlle was betrokke by die Suiwelbereidingsafdeling van die Agri-Merensky Jeugskou, en het uitgesien daarna om hierdie naweek aan haar eerste Plasie Jeugskou deel te neem.”

 

 
 
 

Viewed: 2952

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT