back to list


 

Griet se groot planne

Die son bak heerlik hier waar ek en Sandra op die dek van hulle swembad lê.  ‘n Luilekker dag.  Sandra, haar man en kinders bly in een van die woonbuurtes wat tel in die dorp. Ek en Sandra ken mekaar van universiteitsdae af.  Sy is lank, slank, blond en mooi.  Na twee kinders lyk sy nog steeds soos ‘n model, en natuurlik pas nog in n bikini.

Hoe lyk ek?  Ek trek die punt van die handdoek oor my maag en bo-bene.  Groen oë en effe mollig.  Kan nie eens meer onthou watse kleur my eie hare is nie.  Gewoonlik bruin maar gedink die blonde strepe sal my jonger en meer begeerlik laat lyk.  Fout!!!  Alles is geel, my vel en my hare, gelukkig het ek nog ‘n bloedrooi lipstiffie in my kas om die ergste geel te breek.  Van bloedrooi gepraat dit is volgende week Valentynsdag.

Vandat my kinders nie meer op skool is nie, en al twee in Gauteng bly. het my verbeelding saam met hulle getrek.  Wat gaan ek met Valentynsdag doen.  Ek wip soos ek skrik toe Sandra vir my lekker koue lemoensap aangee.  “En nou?” vra Sandra. “Lê en droom jy drome van jou geheime bewonderaar.  Mmm… so gedink.  Weet hy dat jy so gek is oor hom?” vra sy.  Ek sê liewer niks, want ek het nie n goeie “track record” as dit by verhoudings en mans kom nie.  Ek eindig altyd met mans wat afvlerke het. 

Volgende week, die tyd is al wat boom en pilaar behang met feë-liggies in Sandra se tuin. Orals hang engeltjies rond met hulle pyl en boog, reg om jou te skiet sodat jy ewige liefde aan jou metgesel kan verklaar. Sy en haar man hou gewoonlik ‘n Valentynspartytjie, en nooi dan al die mense wat saak maak in die dorp, en die wat dink hulle maak saak partytjie toe.  Sy weet ek hou nie van die soort partytjies nie, daarom nooi sy my nie.

Ons lê rustig en drink aan ons lemoensap.  Ek moet nie laat Sandra agterkom wat ek beplan vir Valentynsdag nie.  Eerstens moet ek my hare laat kleur, o ja, en onthou om my beenhare die vorige dag te skeer vir n sagter voorkoms.  Ek beter lysies maak van wat alles gedoen moet word.  Dis tyd dat ek by die huis kom en begin beplan.  Ek groet vir Sandra, seker so effe oorhaastig, klim in my kar, en daar trek ek om my Valentynsdag te gaan beplan.

Die grootste vraag is, hoe gaan ek die man by my huis kry?  Ek weet, hy is nogal n man wie se hande vir niks verkeerd staan nie.  Dalk moet ek die wasmasjien se pyp uitdraai en dan vir hom vra om te kom kyk, want ek weet nie wat fout is nie.  Goeie plan.  Wat gaan ek aantrek?  My kas bestaan uit swart en wit, en dan wit en swart.  Wag n bietjie in die ander kas hang my enigste gekleurde rok, en dit is rooi!!!  Kerse, blomme (gee mens blomme vir n man?) in my huis is die antwoord “ja”.  Ek sal die hele sit- en eetkamer belig met kerse.  Hoop net nie een van die katte spring n brandende kers om nie.  Ek sal hulle in die tuinhuisie moet toesluit, met genoeg water en kos, en die sandbak vir so drie tot vier ure. 

My plan werk om die man onder voorwendsels na my huis toe te nooi.  “Ja, enige tyd, ek sal kom kyk.  Gaan net gou gym toe, sal sewe uur jou pas?” vra hy.  “Doodreg” sê ek, en gee hom my adres en telefoonnommer.  My plan kan nie beter werk nie.

Valentynsdag het uiteindelik aangebreek.  Ek doen bietjie meer moeite met my voorkoms as gewoonlik, en daag ‘n paar minute laat by die kantoor op.  Daar hang n heel romantiese gevoel in die lug by die kantoor.  Na ‘n ellelange dag, waar ek nie eens kans gehad het om my sjokolade hartjies te  eet, wat my vriendin by die werk vir my gegee het nie, stap hy verby en sê “Sien jou so sewe uur”.  Onmiddellik gooi ek sommer die sjokolade hartjies in my handsak, want ek het ‘n plan met hulle. 

Tuis is alles is gereed.  Ek het heerlike boerekos gemaak, die tafel is gedek met wit en rooi, al wat kers is aangesteek vir daai romantiese atmosfeer.  Ek lyk nie sleg in my rooirok nie.  Gelukkig is die snit van so aard, dat mens nie daai molligheid kan sien, wat aankom as jy die dag vyftig word.  Die katte is ontevrede, maar ek sal die musiek net so effens harder sit, sodat mens nie die gemiaau hoor nie.  Ek hoop nie hy hoor die gemiaau nie, en is so ontsteld dat ek die katte toegesluit het dat hy dadelik uitstorm en die deur oopmaak.  Die katte sal natuurlik hulself teen sy bene aanvlei aangesien hy hulle gered het en hy hulle hero is.

Nee genade Griet, konsentreer op julle romantiese aand.  Ek trek gou nog n paar hale deur my hare en knap my lipstiffie op.  Die deurklokkie lui.  Ek haas my na die voordeur, en hoop nie ek hyg na asem van die opgewondenheid nie.  Ek maak die deur oop, en daar staan hy met die grootste bos rooi rose wat ek ooit gesien het.  Hy het tot sy aandpak en strikdas aan, my knieë wil-wil ingee.

“Hallo my Griet” groet hy.  Ek staan soos ‘n soutpilaar. Hy soen my en sê “Grietjie, vanaand is dit net ek en jy.  Ek wag al so lank vir ‘n uitnodiging van jou af.  Jy is baie mooier as al hierdie rooi rose saam.  “Verskoon my” sê ek, ek ruik die pampoen wat brand.  Ek haas my na die kombuis toe, en moet eers staan om asem te skep.  Ek knyp myself, net om seker te maak ek is nog lewend.  Hy stap in met twee glase sjampanje en n rooi roos in sy hand.  “Vanaand wil ek jou vra of jy my Valentyn sal wees, nie net vir vandag nie, maar vir altyd?” “Uhm Ja… ja…” stamel ek, want wie kan ‘n man weerstaan wat jou voete onder jou uitgeslaan het.

Verseker was my Valentynsdag by verre beter as Sandra se partytjie, want my droom het waar geword.  My prins op sy witperd het gisteraand, so op Valentynsdag gearriveer.

Wat se geluide kom hier van die tuinhuisie se kant af wonder ek?  O genade… ek het nooit die katte gaan oopmaak nie!!! 

EM Kriel


Like this article to place your vote for it