back to list


 

Die eensame man van die Weskus

Dit is ʼn baie warm Weskus dag, ek en Snippie (my brakkie) loop soos ouder gewoonte kaai toe waar die branders teen die rots klop en ons papnat gooi.

Ook maar nuut en eensaam hier in die Weskus. Die son sak stadig agter St Helena se berg weg en die skemer sak vinniger as wat ons dink.

Sjoe Snippie, kyk hier kom daai lang mooi man weer aangestap, vanaand volg ons hom en kyk waar hy bly....

Snippie laat nie op hom wag nie en sny spoor so agter die ou aan tussen die rotse deur op huise toe. Ek verloor Snippie en die mooi man se spoor en drentel maar na my ou huisie toe langs die see. Snippie kom aangehardloop en lek aan my enkels....so om vir my te sê ons het weereens na vier aande die mooi man se spoor verloor....

So in die stilte het ek my hart op hierdie eensame man verloor sonder dat hy dit eens weet, glo nie eers hy sien my raak hier op die kaai se muur waar die branders ons nat gooi. Toemaar Snippie more aand, is ons weer hier, maar ons moet vinniger beweeg...

So breek more aand aan, ek en Snippie sit weer en speel met ons bene in die water... skop water op en lag terwyl Snippie my waarsku met ʼn blaf – so asof Snippie vir my wil sê hier kom hy.. hier kom hy !! Ons loop stadig maar verseker agter hierdie man aan, ek neem my voor om nie weer te ver agter te bly en hom weer te verloor nie.

Ons klou oor rotse en die sandduin op, sien hom ingaan by ʼn ou regte Weskus huisie...

Die deur staan oop en die wind waai hom so op ʼn krakerige geluid oop en toe.

Snippie staan soos ʼn soldaat op my voete, loer ook soos ek by die venster se skreef deur.

Kerslig brand en die man sit by die tafel met ʼn boek, ek loer maar kan nie veel sien nie, skuif bietjie deur toe, maar o wee, daar slaan die deur toe op my tone en ek skreeu ʼn woord wat niemand sou wou hoor nie.

More het ek ʼn blou toon Snippie.... dit kom daarvan jy weet.

Meteens gaan die deur oop en die pragtige man staan voor my, met ʼn bloedrooi roos in sy hand. Is dit jy wat elke aand so verlangs agter my aangeloop kom, ja antwoord ek, maar skaam en bloos....

Ek hou jou al lankal dop jy weet dit vra hy en knik oog...

Ek stamel en val oor my Afrikaanse woord en se jammer ek het net gesien jy lyk altyd so alleen en hartseer..... Kom in, se sy growwe mans stem, ek wag al lankal vir jou !

Wou net vanaand jy weet vir jou gaan haal en vra kom braai saam my kreef want dit is Valentynsdag en Valentynsdag is nie gemaak vir alleen wees nie.

Weet nie wie was die meeste bly ek of Snippie nie, en van toe af is ons sielsgenote en kan nie sonder mekaar wees nie.

Ons loop deesdae saam langs die strand hand aan hand met Snippie op ons hakke.

Die lewe is ʼn lied, ons moet net geduldig wag vir die regte man in die lewe....

- Naomi Coetzee.


Like this article to place your vote for it