Opwindende kompetisie vir ons streek se jong skrywers

Ontmoet die wenner van ons skryfkompetisie

Lynique Krüger is ‘n jong talentvolle skrywer en digter. Gedurende 2020 was sy hoofmeisie van Hoërskool Louis Trichardt. Die jaar tevore, in 2019, het sy een van die hoofrolle vertolk in die toneelstuk wat die skool op die planke gebring het.

Tans studeer sy onderwys deur die Universiteit van Pretoria.

Omdat Lynique nie altyd ‘n storie kon vind waarvan sy hou nie, het hierdie talentvolle jong skrywer haar eie stories begin skryf. Haar liefde vir Afrikaans het ontstaan nadat sy Leon van Nierop se boek Ballade vir ‘n Enkeling gelees het. Veral sy manier van storie vertel en beskrywing van Pretoria het haar geïnspireer.

Buiten vir skryf lê die digkuns Lynique ook naby aan die hart. Sy het veral ‘n voorliefde vir Breyten Breytenbach se gedigte en kortverhale.
Deur te skryf, het Lynique gesê, kanaliseer sy die hartseer dinge in haar lewe, maar ook die gelukkige oomblikke.

Vir haar maak die klein dingetjies in die lewe saak en om te skryf herinner haar deurlopend aan hoe ongelooflik mense se lewens eintlik is – “Om emosies te hê, om te voel! Dat mense kan kwaad raak vir dinge en om te huil omdat ons ‘n hartseer film gekyk het.”

Al hierdie dinge maak haar dankbaar oor hoe mooi alles eintlik is, het Lynique gesê.

 

Hoofstuk 1

Geskryf deur: Zoutpansberger personeel
 

 

Aletta de Melker, die vrou wat op die hoek van die straat bly in ‘n groot roomkleurige dubbelverdieping huis, verlaat vroeg in die môre om 08:30 haar woning en keer laatnag om 20:30 weer terug. Dit gebeur klokslag, die afgelope drie jaar al.

Aletta is ‘n oujongnooi op die dorp. Sy het nooit liefde gevind nie, oftewel, dit het haar nooit gevind nie. Sy is nie tydens middagete by die huis nie en nêrens te sien in die dorp gedurende die dag nie. Niemand weet waar sy werk of wat sy doen nie. Voorheen was sy ‘n dokter by die hospitaal op die dorp. Haar kollegas het met lof gepraat van haar uitgebreide mediese kennis.

‘n Paar maande voor haar aftrede het pasiënte teen ‘n ontstellende tempo begin sterf. Die inwoners op die dorp het hieroor begin spekuleer, want die wat sterf was meestal jong mans. Dr. De Melker het gereken dat dit vanweë ‘n onbekende en gevaarlike virus is en dat mans meer kwesbaar was. Buiten haar verduideliking kon geen ander redes vir die sterftes gevind word nie.

Die gemeenskap het daarop aangedring dat dr. De Melker nie meer mag praktiseer nie en sy moes bedank. Mans van alle ouderdomme het steeds bly sterf, nie teen dieselfde hoë tempo nie, maar dit was steeds ongewoon. Dr. De Melker het uit die openbare oog verdwyn en soos ‘n kluisenaar begin lewe.

Wetenskaplikes het later vasgestel dat al die mans wat gesterf het een ding in gemeen gehad het – almal het by die plaaslike myn gewerk of daar besoek afgelê. Wetenskaplikes het ook vermoed dat dit te doen kon hê met ‘n genetiese mutasie, omdat mans slegs een X-chromosoom het. Dus kan ‘n man die siekte kry, maar hy kan nie ‘n draer wees nie. Hierdie teorie het nie baie byval gevind nie, want dit het nie verklaar hoekom mans geteiken word nie. Die mans wat gesterf het was ook nie van dieselfde familie nie.

Die plaaslike polisie het inspekteur Johan Faber en ‘n befaamde kriminoloog Anneke Wagner aangestel om agter die kap van die byl te kom. Hul opdrag was eenvoudig: Stel ‘n profiel op van die mans wat siek word en identifiseer ‘n verdagte.

Alhoewel hul opdrag eenvoudig was, sou die ondersoek nie maklik wees nie. Dit het duidelik geblyk uit Wagner se eerste “ontmoeting” met De Melker. Wagner was besig of De Melker se huis dop te hou vanuit haar motor. Dit was ‘n koue en mistige aand gewees.

‘n Lig het kort na 21:00 in een van die kamers in die boonste verdieping van De Melker se huis aangegaan. ‘n Skaduwee het agter die toegetrekte gordyne beweeg. Wagner was seker dit is De Melker. Die volgende oomblik skrik Wagner haar boeglam toe daar ‘n klop aan haar motorvenster is. Tot haar skok was dit De Melker. Stadig het Wagner haar venster begin afdraai. 

Word vervolg ...
 

Hoofstuk 2

Deur Sonita Alberts

Die koel lug van buite vloei by die motor se venster in. ’n Bleek en duidelik afgematte gesig loer by die afgedraaide ruit in. “Wat loer jy so by my huis in hierdie tyd van die nag!”

Anneke Wagner kry skaars ‘n woord in voordat De Melker haar tirade voortsit. “Ek waarsku jou nou, as jy nie jou neus uit my sake uit hou nie, sal jy die gevolge daarvan dra!” En net so vinnig soos daardie yskoue woorde gesê is, verdwyn De Melker in die mistige aand in.

Die volgende oggend rapporteer Wagner terug aan inspekteur Johan Faber oor die vorige aand se gebeure. “Ek wonder wie die ander persoon in die huis kan wees? Sover ek weet het De Melker slegs ‘n baie jonger broer gehad wat vier jaar terug oorlede is aan ‘n hartaanval. Ek sal sy mediese lêer en ander rekords opspoor en ondersoek,” bied Faber aan.

Johan is ‘n lang, bruinkop man met oseaanblou oë wat op die ouderdom van 33 steeds nie getroud is nie. Dit maak hom eintlik die perfekte teiken vir hul reeksmoordenaar.

Gewapen met ‘n beker swart koffie om haar wakker te hou, keer Wagner terug na die buurt waar De Melker woon. Sy stop haar motor ‘n paar huise van de Melker s’n af. Vanwaar sy staan, kan sy die pad dophou wat lei na De Melker se huis. Sy sien De Melker se motor verbyry in die rigting van die middedorp. Wagner ry stadig tot naby die roomkleurige dubbelverdieping huis en klim uit. Sy stap om die huis en draai aan die agterdeur se handvatsel. In Karoodorpe soos dié waar hulle bly is deure nie gewoonlik gesluit nie. Dit is egter nie die geval by De Melker nie. Al die deure is gesluit en die vensters is op knip.

Die skril geluid van ‘n selfoon wat lui breek die rustige straat se stilte. Dit is Johan wat bel. “Anneke, jy sal nie glo wat ek in Werner de Melker se mediese lêer opgespoor het nie. Daar was ‘n soortgelyke oormaat van proteïenreseptors in die bloed, soos wat in die ander mans wat gesterf het se bloedstroom gevind is.”

Wagner dink ‘n rukkie na oor die nuus en vra Faber om die verslag na haar selfoon te stuur. Sy staar aandagtig na die chemiese elemente en probeer terugdink aan soortgelyke ondersoeke waar sy betrokke was. “Is daar ooit getoets vir botulinum vergiftiging?” vra sy. “Dit het ter sprake gekom, maar die inkubasietydperk is langer, en waar sou hulle dit kon opdoen?” antwoord Faber. Die mans het almal binne ure gesterf nadat hulle begin siek word het.

Terug by die plaaslike polisiestasie sit Faber en Wagner hul speurwerk voort en bestudeer Werner de Melker se lêer. Die inligting is egter gebrekkig en niks verklaar hoekom hy op relatiewe jeugdige ouderdom skielik dood is nie.

Die volgende oggend is Wagner weer op haar pos en wag geduldig ‘n blok of wat van De Melker se huis af. Faber het besluit om ook saam te kom, en van ver af sien hulle De Melker se swart motor in die skadu van ‘n reuse Akasiaboom staan. Klokslag om 08:30 kom sy uit die huis uit, klim in die motor en ry in die rigting van die middedorp. Faber en Wagner volg haar, maar laat ‘n afstand tussen hulle.

De Melker draai na ‘n kilometer of wat af op ‘n grondpad, in die rigting van die rivier. Die swart motor hou stil by ‘n groot staalstoor. Die deur van die stoor gaan oop met ‘n kreungeluid wat kilometers ver gehoor kan word. Dan stap daar ‘n heelwat jonger vrou by die stoor uit. Sy kyk in die rigting van die grootpad, waar Faber en Wagner tot stilstand gekom het. Die skerp knal van ‘n geweerskoot weergalm skielik, en etlike meters van die twee geregsdienaars slaan ‘n stofwolk uit.

(Word vervolg)

* Sonita is ‘n Graad-11 leerling by Hoërskool Louis Trichardt. Sy wen hierdie week se R300 kontantprys geborg deur die Zoutpansberger.

Hoofstuk 3

Deur Sonita Alberts

Nog ‘n rooiwarm dag het aangebreek in die Klein Karoo. Dit is egter nie net die hitte wat Faber se lewe vandag warm maak nie. Die vorige dag se gebeure met De Melker laat sy bloed nog behoorlik kook. Hulle kon nie bewys dat die skoot wat geklap het na hulle gemik is nie en sonder ‘n lasbrief was daar nie veel wat hulle kon doen nie.

Faber voel die sweetstraeltjies by sy kraag inloop toe hy die vreemde pakket op sy voorstoep gewaar. Faber huiwer ‘n oomblik voor hy die pakket optel. Miskien moet hy eers vir Anneke bel om dit saam met hom oop te maak. Nog ‘n rede om haar minstens te sien.

By die dorpie se plaaslike koffiewinkel kom die twee geregsdienaars byeen en bespreek wat in die pakket gevind is. Dit is twee uitnodigings­kaartjies na die plaaslike myn se dansgeleentheid. Die myn bied dit elke jaar aan om ekstra geld vir die myn se fasiliteite in te samel. Faber en Wagner stem saam dat dit ‘n goeie geleentheid is om die personeel en inwoners te ontmoet en hopelik inligting in te win.

Die volgende paar dae probeer Johan om meer inligting te kry oor die vreemde vrou wat ook by die stoor was. Hy wonder wat haar verbintenis met De Melker kan wees. Terwyl Faber die veilige en gemaklike werk doen trek Anneke haar dapper skoene aan en ry terug na die stoor waar daar op hulle geskiet was. Die hek staan oop en daar is geen teken van lewe nie. Sy stop voor die reuse staalstoor.

Die deur van die stoor skuif met ‘n harde kreungeluid oop en ‘n sterk muwwe reuk laat Anneke se neus brand. Die ligskakelaar van die stoor werk nie, daarom skakel sy haar flits aan, net om in te kyk na ‘n leë, stowwerige stoor.

Die aand van die dans het uiteindelik aangebreek. Johan stop by Anneke se woonstel om haar op te laai vir die funksie. Met ‘n bos geel rose in sy hand lui hy die klokkie. Anneke stap uit met ‘n pragtige koningsblou rok wat haar kort blonde hare komplimenteer. “Jy lyk ongelooflik mooi,” sê Faber skamerig en oorhandig die bos rose. Anneke glimlag en bedank hom met ‘n drukkie.

Die myn se eetsaal  is mooi opgemaak met feetjieliggies en orals staan mense vriendelik en gesels. Van die gaste merk op dat daar minder mense is as vorige jare, maar dit kan wees vanweë die sterftes. Daar is nêrens enige teken van De Melker of die ander vrou nie.

Ian, die myn se hoofbestuurder, klim op die klein verhogie en vra vir almal se aandag. “Welkom ... almal ... by va­naand se ... dans aand,” stotter hy. Dit klink of hy niks energie oor het in sy liggaam nie. “Hoop julle ... geniet elke ... oomblik.” Dan sak hy skielik inmekaar en die hele saal hardloop vorentoe om die arme man te probeer help..

(Word vervolg)

* Sonita is ‘n Graad-11 leerling by Hoërskool Louis Trichardt. Sy wen hierdie week se R300 kontantprys geborg deur die Zoutpansberger.

Hoofstuk 4

Deur Lynique Krüger 

Anneke Wagner was lanklaas in haar lewe so gefrustreerd, verward en moeg.

Kriminologie het nog altyd so maklik gekom vir haar. Dit was vir haar soos koffie roer nadat sy die melk ingegooi het. “Jy’t natuurlike talent, Anneke. Dis in jou murg,” het haar pa altyd gesê. Sy sidder om te dink dat hy dalk vir die eerste keer in sy lewe verkeerd kan wees.

Sy voel skielik ‘n lyf wat neersak op die stoel langs haar. Die lyf behoort aan haar kollega, Johan Faber. Johan met die vriendelike oë wat altyd glo in geregtigheid. Johan wat altyd so positief bly. Johan wat nou vir haar koffie aanbied.

“Jy lyk soos die tipe wat ‘n sterk koffie verkies, sonder suiker,” fluister hy met ‘n glimlag. Anneke weet hy is reg, maar sy sê dit nie.

Sy vat ‘n sluk en voel die hitte wat tot onder haar maag insak soos ‘n waterval van hospitaal-koffie. Sy kan nie glo sy en Johan is steeds hier nie.

Ian se ouers, vrou en seun was al by hom in die hospitaalkamer om hulle laaste groete te groet, maar dis al. Nie een van sy werkskollegas van die myn of dorpsvriende nie. Johan maak so ewe ‘n opmerking dat hy nie baie gewild was nie. “Seker ‘n gold-digger, of hoe?” skerts hy, net om te kyk na Anneke wat haar oë rol. “Komaan! Hy bestuur ‘n myn … dis snaaks, Anneke!”

“Hoe wil jy lag, Johan!? Hoe wil jy sit en grappe maak en koffie aandra terwyl ons nog ‘n lyk het wat ons nie kan verduidelik nie!” brom Anneke voordat sy opspring van haar sitplek en op en af begin loop. Sy loop nog, toe sy skielik in iemand vasloop.

Sy begin om verskoning te vra, net om in die oë te kyk van niemand anders as Aletta de Melker nie. Haar hart begin oortyd klop, asof ‘n springhaas gevangene gehou word in haar bors. “W-wat maak jy hier?” vra Aletta met groot oë. “Ek kan jou dieselfde vra.” Anneke skrik amper vir haar eie stem.

Aletta kyk skrikkerig rond. Haar oë vlieg die vertrek vol. “Anneke … ek moet met jou praat. Privaat.”

Aletta kom byna nooit uit haar huis uit nie, wat nou nog te sê ‘n hospitaal waar ‘n man se lyk lê wat sy oënskynlik glad nie persoonlik ken nie?  Anneke knik en volg Aletta na die balkon van die tweede vloer toe.

“Anneke, ek weet wat almal dink ek gedoen het … dalk nog steeds doen. Maar jy moet na my luister: dit was nie ek nie. Wat met al daardie mans gebeur het, met Ian … dit was nie ek nie, ek sweer.”

Word vervolg

Hierdie week se wen-inskrywing is van Lynique Krüger (18) van Louis Trichardt. Lynique het verlede jaar gematrikuleer aan Hoërskool Louis Trichardt. Sy ontvang R300 vir haar skitterende poging.

Hoofstuk 5

Deur Lynique Krüger

Aletta de Melker was nog nooit ‘n onaantreklike vrou nie. Haar donker hare val in dun krulle op haar skouers en sy het die kleinste sproetjies onder haar oë en op haar neus. Sy was heel gewild onder die jong mans op die dorp, totdat hulle almal begin vermoed het dat sy so ‘n wrok het teen mans en dat sy hulle doodmaak.

Sy onthou hoe sy die gewildste meisie op skool was, in die einste klein dorpie waarin sy steeds vassit. Soos sy op haar stoep sit en uitkyk na die wêreld wat voor haar uitstrek soos ‘n graskombers, dink sy aan al haar planne. Haar drome om te praktiseer in Pretoria en later oorsee. Sy wou die wêreld verander het.

As dit net nie vir haar ouers was nie, sou sy nooit alleen moes oorbly in die dorp om na haar broer te kyk nie. “Die lewe is so tydelik,” fluister sy saggies vir haarself voordat sy ‘n slukkie groentee vat.

“Lettie? Wat sit jy so en praat met jouself soos ‘n ou tannie?” hoor sy Werner se stem agter haar. Sy rol haar oë vir haar jonger broer. “Lewe, opofferings, alles wat ek vir jou moes doen.” Werner sug en sit langs haar op die ou houtbankie wat haar pa nog met die hand gemaak het.
“Let, ek dog alles is vergewe. Ek weet dit was ‘n risiko, maar ek moes. Jy weet dit.”

“Nee, ek doen nie. Ek moes jou dood vir jou vervals en self vir jou ‘n grafsteen laat maak langs Ma-hulle s’n. En vir wat? Net sodat jy steeds geheime van my af hou. Ek weet steeds nie hoekom ek al daardie goed moes doen nie, Werries. Ek doen regtig nie.”

Werner gooi sy arm rondom Aletta en omhels haar. “Let, jy was in elk geval op pad om jou werk te verloor te danke aan al jou pasiënte wat die emmer begin skop het. Dit was g’n opoffering nie. En ek belowe jou, eendag sal dit alles sin maak.”

Aletta voel effe verlig, om watter rede is sy nie eens seker nie. Sy voel net skielik asof ‘n paar kranse van die berg op haar skouers tussen die wolke is. “Darem het ek met daardie vrou wat nou die dag by die huis was gepraat. Sy’s ‘n speurder of so iets, ek dink. Ek’t vir haar gesê dat ek onskuldig is. Ek weet nie of sy iets daaraan gaan doen nie,” sê Aletta terwyl sy haar laaste sluk tee vat.

Sonder om iets verder te sê, staan Werner op en loop in die huis in. Aletta frons vir haar broer se skielike stilte, maar sy kan nie help om te voel dat alles eintlik dalk sal kan terugkeer na normaal toe nie.

Almal gaan weet. Uiteindelik gaan almal weet dat sy, Aletta de Melker, onskuldig is.

(Word vervolg)

Lynique Krüger (18) van Louis Trichardt het in 2020 gematrikuleer aan Hoërskool Louis Trichardt.

Hoofstuk 6

Deur Lynique Krüger

Die kantore van die plaaslike polisie­sta­sie is byna doodstil. Johan Faber is al gewoond daaraan, want niks gebeur ooit in hierdie dorpie nie. ‘n Klein inbraak is genoeg om heel voor op die koerant te verskyn. Noudat daar ‘n regte saak hier is , en nogal ‘n saak van moord, weet niemand wat om te doen nie.

Dit is soos om te leer fietsry as ‘n kind en dan vir 40 jaar nooit te ry nie. Die dag wat jy weer moet opklim, weet jy wat moet gebeur, jy verstaan net nie meer mooi hoe om daar uit te kom nie.

Dis hoekom Johan so dankbaar is vir Anneke. Sy weet wat om te doen. Hierdie sterk, blonde, slim kunswerk van ‘n mens. Sy sit by ‘n studeertafel en haar slanke vingers val die sleutelbord van hulle oeroue rekenaars aan. Sy lyk so mooi, dink Johan. Anneke frons saggies en byt haar lip diep ingedagte.

Johan haal diep asem en besluit om na haar toe te gaan. “Waarmee is jy besig?” vra Johan. Sy sug moe­deloos voordat sy sê: “Ek probeer nog heeldag om die mense van die myn in die hande te kry. Na die fiasko met Ian, is niemand toegelaat naby die myn nie. Hoe moet ek my werk doen as ek nie eens toegang het daartoe nie?”

“Wil jy vanaand uitgaan vir ete?”

Anneke se oë rek groot en haar mond bly oop soos sy nog laas gepraat het. Johan kan amper nie glo hy het haar sopas uitgevra nie. Dit het uitgeglip voordat hy homself kon keer.

“Dit hoef nie ‘n formele ete te wees nie, ek dink in elk geval nie hier is meer as ‘n ou familie restaurant nie,” val Johan oor sy woorde. Anneke wonder eers oor al die werk wat hulle moet doen, totdat Johan haar herinner dat sy nou niks gaan regkry met die mynbestuurders nie.
“Bo en behalwe dit: jy verdien ‘n blaaskans, Anneke,” sê Johan met ‘n sagte stem. Anneke kan voel hoe sy bloos toe Johan na haar kyk deur sy lang wimpers. Sy knik haar kop ewe skaam en hulle bevestig dat hy haar later die aand sal gaan oplaai.

Anneke was jare laas uit vir ‘n ete saam met iemand wat nie een van haar vriendinne is nie. Sy voel hoe haar hart bons toe sy die aand vir Johan sien.

Anneke en Johan het vir ure gelag en gesels oor alles: hulle lewens, hulle werk en selfs hulle kinderdae. Hoe Anneke altyd help stoele dra het as die onderwysers gevra het dat die seuns dit moet doen en hoe Johan altyd saam met sy sussies moes teepartytjies hou.

“Johan … dankie vir vanaand. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so lekker gelag het saam met iemand nie,” sê Anneke bui­te haar huis aan die einde van die aand.

Johan vat Anneke se hand in syne, gee vir haar ‘n engelveertjie-lig soen op haar wang en fluister: “Dit was die grootste plesier, Anneke.”


(Word vervolg)

Hoofstuk 7

Deur Lynique Krüger

Daar is ‘n hartseer stemming wat heers in die myndorpie. Dit is die dag van die begrafnis van die myn se voormalige hoofbestuurder, Ian.

Anneke weet sy moenie wees nie, maar sy is tog dankbaar daarvoor. Dit beteken die myn is stil en sy kan uiteindelik met een van die voormanne gaan praat. Sy het gewonder hoekom hy nie begrafnis toe is nie, maar sy wou nie enige onnodige vrae vra nie. Die oom se naam is Leon Opperman, sien sy op sy naamplaatjie. Terwyl hulle gesels, stap hulle deur die kantore van die myngeboue.

“Oom, wat kan oom my vertel van Aletta de Melker?”

Hy kyk na Anneke en ‘n klein glimlaggie ontluik onder sy baard. Hy herinner Anneke effens aan Kersvader. “Aletta se pa was ‘n fantastiese mynwerker, ek kan jou soveel sê.” Iets in Anneke flikker, ‘n denkbeeldige liggie wat aangeskakel word.

“Het Aletta se pa by die myn gewerk?”

“Nie net hy nie, hierdie myn is deel van die De Melker-mans se geskiedenis. Elke De Melker-man het hier kom werk.”

“En Aletta se oorlede broer, Werner de Melker?”

Die oom se oë gaan na sy skoene toe en hy is vir ‘n lang ruk stil.

“Werner was … anders. Die kind wou so graag in die myn kom werk, maar hy was nie ‘n sterk genoeg man nie. Hy’t fisies gesukkel en hy’t niks geweet van die mynwerk af nie. Al sy tyd het aan wetenskap en biologiese studies gegaan, so toe weier sy pa dat hy in die myn kom werk.”

Aletta frons die tipe frons wat sy altyd gehad het toe sy wiskunde huiswerk gekry het op skool. “So, Aletta se pa het Werner gedwing om weg te bly? Waarheen is hy dan?” vra sy, haar kop vol vrae.

“Die mannetjie het daarna basies verdwyn. Hy’t nooit weer teruggekom nie en het skaars gepraat met ons dorpsmense, nog minder ons wat van die myn af kom. Dit was vir hom verskriklik om die eerste De Melker-man te wees in die geskiedenis van De Melkers om nie hier te kan werk nie,” vertel die oom met ‘n stem wat iewers tussen simpatie en onrus skuil.

“Oom weet baie van die De Melker-familie af, klink dit my?”

Die oom kry ‘n klein, warm glimlaggie op sy gesig. “Ek en hulle pa, Jacques, was baie na aan mekaar. Ek en hy is al deur baie saam. Die slapelose nagte oor Aletta en al die mannetjies wat by haar probeer vlerksleep het en oor Werner wat sy snaakse woedeuitbarstings gekry het.”

Skielik hoor Anneke die bekende stem van Johan wat agter hulle aanroep. Sy draai dadelik om en sien hoe Johan na haar toe hardloop.

“Anneke, ek’t iets gekry,” sê hy uitasem.

Anneke kyk hom vraend aan en wag op ‘n antwoord.

“Aletta De Melker se broer, Werner? Ek dink nie hy’s regtig dood nie.”


(Word vervolg

Hoofstuk 8

Deur Lynique Krüger

Johan voel amper skaam om Anneke so deur Werner se mediese lêers te sien kyk, asof sy hom nie glo nie. Hy blameer haar nie. Hy is ook nie eintlik meer so seker wat om te glo nie. Anneke sug en trek gefrustreerd haar vingers deur haar blonde hare. Johan sou vir haar sê dat sy mooi lyk as die atmosfeer nie so swaar soos ‘n staalkombers was nie.

“Jy’s reg. Hierdie papiere is vervals. Ek kan nie glo ons het nie eens daaraan gedink om vroeër hierna te kyk nie. En watter dokter sou hierdie goedgekeur het?” Sy blaai deur die papiere en haar oë vergroot skielik voordat sy oombliklik ophou blaai.

“Johan. Dis Aletta. Aletta het hierdie goedgekeur! Sy’t Werner se doodsertifikaat vervals!”

Anneke lyk vir Johan soos sy klein sussie op Kersdag: oë vol helder liggies en plannetjies. Hy voel heel trots op homself dat hy daaraan gedink het om te gaan kyk na Werner se mediese rekords. Hy kan sien Anneke waardeer dit ook, al sê sy dit nie.

“Maar hoekom? Hoekom jou broer help om sy dood te vervals en vir niemand sê nie? Veral met die omstredenheid wat De Melker omhul, hoekom sal sy so iets doen?”

“Maar om so iets te doen sal mos perfek werk as jy later sulke drama het. Almal dink sy’t moord gepleeg. Ek dink iets soos ‘n twyfelagtige dokument word dan maklik onder die mat gevee,” voeg Johan by. Anneke knik ingedagte en loop op en af in die kantoor van die polisiestasie. Sy verstaan steeds nie mooi wat aangaan nie.

Johan vra skielik: “Maar hoekom sal sy so iets vir hom doen? Ek kan nie onthou dat hulle huishoudelike omstandighede so aaklig was dat hulle sou wou ontsnap nie. Altans, dis wat ek hoor by die dorpsmense. En dan, hoekom het Aletta nie ook net verdwyn nie?”

 “Werner was ongelukkig daar, die voorman het my gesê. Hy kon nie die geleentheid kry om in die myn te werk soos sy pa-hulle nie. Hy was goed in wetenskap en biologie.”

Daar is ‘n stilte wat heers voordat Johan byna skree: “Die botulinum! Wie anders sal weet hoe om so iets ordentlik en effektief te kweek in hierdie dorp behalwe iemand met ‘n ongelooflike gawe vir wetenskap?!”

“Wag, sê jy...?”

“Ja, ek doen! Hy sal dit kan doen.” Johan stop vir ‘n oomblik voordat hy homself in die rede val. “Maar hoekom?”

Anneke se liggie flikker weer en sy antwoord: “Hy mag nie in die myn gewerk het nie! Sy grootste droom en elke ander man sy ouderdom kon dit uitleef, behalwe hy. Jaloesie is altyd ‘n goed genoeg rede om enigiets te doen, lyk dit my. Dink jy hy’s steeds in die dorp?”

“Onthou jy die figuur wat ons gesien het daardie dag by Aletta...”

Johan en Anneke dink albei vir ‘n oomblik voordat hulle terselfdertyd sê: “Die De Melker huis!”


(Word vervolg

Hoofstuk 9

Deur Lynique Krüger

Anneke se hart spring uit haar bors uit. Sy kan hoor hoe haar hart klop-klop-klop in haar ore. Johan se oë word al hoe groter, hoe vinniger sy ry. Sy besef sy’t al ‘n hele paar spoedbeperkings en stoptekens oortree in die afgelope vyf minute, maar sy gee nie nou om daarvoor nie. Toe  hulle die groot huis sien, stop Anneke dadelik die voertuig agter ‘n groot boom.

“Gaan jy agterom, ek gaan met Aletta praat. Terwyl ek besig is, soek vir Werner,” fluister Anneke voordat sy haar hare regmaak in die truspieëltjie van die kar. Sy loop rustig na die De Melker huis se voordeur toe. Sy het skaars klaar geklop aan die groot deur, toe maak Aletta dit oop. “Anneke? Wat ‘n verrassing. Kom gerus binne,” sê Aletta. Anneke verbeel haar dalk, maar sy kon sweer in daardie oomblik kon sy in Aletta se oë sien dat sy weet hoekom sy daar is. Uit die hoek van haar oog sien sy Johan na die agterkant van die huis toe beweeg.

“Aletta, waar is Werner?” fluister sy vir Aletta die oomblik wat die deur toe is agter haar.

Nou lyk Aletta se oë soos Johan s’n in die kar. “W-werner, my broer? Hy’s jare terug oorl...”

“Ek weet wat die waarheid is,” onderbreek Anneke haar. “Ek gaan jou help. Loop rustig na die groot eikehoutboom by julle rylaan, ons kar is daar. Klim in en moenie die deur oopmaak totdat ek of Johan so sê nie.”

Aletta knik eenvoudig haar kop en begin stadig na buite loop deur die agterste kombuisdeur. Sy kry vir Johan daar en fluister: “Hy’s op die boonste vloer, in my slaapkamer.” Johan knik en loop verby haar. Hy staan in die kombuis en wys met sy wysvinger vir Anneke om boontoe te gaan.

Anneke loop stadig by die trappe op. Sy trap versigtig teen die kante om te verse­ker dat die ou houtvloere nie haar posisie verklap nie. Sy probeer selfs haar asemhaling beheer. Sy sien Aletta se kamerdeur is effens oop. Sy staan met haar rug teen die muur, haar lyf reg langs die deurkosyn. Sy hoor ‘n rondgeskoffel in die vertrek, maar besluit om eers te wag.

Johan maak eers seker Aletta kom veilig by die kar uit. Hy voel nie gemaklik om Anneke alleen in die huis te los nie, maar sy het daarop aangedring dat hy nie haar stertjie moet wees nie. Aletta het net in die kar geklim toe sy vir Johan sê: “Asseblief, moet hom nie seermaak nie. Hy bly my boetie.” Haar oë skiet vol trane.

Johan hardloop terug na die huis toe. Toe hy die deur oopmaak, hoor hy stemme. Anneke en Werner.

“Ek was gekeer om te kry wat ek verdien het! Dit moes ek wees! Die myn is netsoveel ‘n deel van ons familie soos ek en Aletta!” skree Werner.

Skielik hou die geskreeuery op. Dit eggo deur die ou huis. “Anneke!” skree Johan. Hy weet wat hy sopas gehoor het.

‘n Geweerskoot.

 

(Word vervolg

Hoofstuk 10

Deur Lynique Krüger

“Ek kan nie glo jy’t gedink dat ek geskiet sou word nie,” grom Anneke terwyl sy Werner, wat skoffel met ‘n bloederige been soos hulle loop, na die polisiemotor begelei. Sy rol haar oë en klik haar tong. “So melodramaties.”

Johan se hart klop nou nog in sy keel, maar hy voel ‘n golf van verligting wat oor hom stroom. “Ek’t my doodgeskrik! Dit kan met enigiemand gebeur, selfs iemand soos jy!” sê Johan. Hy probeer nie in sy stemtoon weggee hoe groot hy regtig geskrik het nie. “Iemand soos ek?” vra Anneke, haar oë vasgenael op Johan.

“Wag, stop! Julle verstaan nie!” skree Werner voordat Anneke hom hardhandig in die voertuig stop en die deur toeklap. “Ek was bedoel om in die myn te werk, dis my reg! Ek het dit verdien! Aletta verdien niks van wat sy het nie! Alles was net altyd so maklik vir Let! Alles! En ek was die swart skaap, die minder suksesvolle een, die klein boetie met niks agter sy naam nie!”

“Aletta het hard gewerk vir wat sy gehad het, en jy’t dit alles van haar af weggevat. Nou bly jy net stil en geniet die uitsig totdat ons ry,” sug Anneke voordat sy wegdraai van die kar af en na Johan kyk. “So, iemand soos ek, sê jy?”

Johan voel hoe sy gesig warm word, en hy voel asof daar klein hasies is wat rondspring in sy borskas. “Mense soos jy. Mense wat sterk en onafhanklik is, wat altyd weet wat om te doen en hoe om dit te doen. Mense wat kans sien vir alles, wat so vreesloos is en wat op ‘n manier net enig­iets kan doen.”

Johan word gestop deur Anneke wat sy hande in hare vat. Sy gee ‘n klein glimlag en haar gesig beweeg nader aan syne.

“Anneke, Johan!” spring Aletta skielik langs hulle op. Anneke sug en kyk na Aletta. “Baie, baie dankie vir alles wat julle vir my gedoen het, ek het nou eindelik ‘n kans om my lewe terug te kry,” sê sy met trane in haar oë.

“Ek sal met die hospitaal gaan praat, aan hulle verduidelik wat gebeur het. Dalk kan jy jou ou werk terugkry.”

Aletta lag voordat sy sê: “Dankie, Anneke, maar ek dink dis tyd vir my om aan te beweeg van die dorpie af. Nuut begin.”

Aletta word daarna gelei na ‘n ander polisieman toe om ‘n verklaring te gee van wat gebeur het.

“Gaan jy aanbeweeg? Van die dorpie af, ek bedoel,” vra Johan vir Anneke, sy wange steeds bloedrooi. “Julle lyk asof julle kan doen met bietjie ekstra hulp, veral jy. So, ek sal dalk net bly vir ‘n rukkie, sien wat gebeur.”

“Is daar ‘n manier hoe ek jou kan oortuig om nog langer te bly?” vra Johan. Anneke glimlag voordat sy sê: “Ek weet nie, soen my, dan kyk ons.”

Johan vat Anneke se gesig in sy hande en soen haar saggies.

Dit voel vir hom asof daar verskietende sterre tussen hulle twee sweef. Anneke kyk na hom en glimlag.

“Okei, ek bly beslis nog ‘n ruk.”