'Hierdie mense is goed vir my ... ek rook hulle sigarette'

 

Leser Tuba van der Walt het hierdie stukkie geskryf, ná ‘n onlangse besoek en operasie in die Kloof Hospitaal. Met “nuwejaarsvoornemens” om die draai, is dit dalk heel gepas om te publiseer:

Dis in die chirurgiese afdeling (saal S), waar jy na ‘n operasie wakker word en lus kry vir rook. Vrou het vooraf gewaarsku: “Jou pyp nie naby die hospitaal nie!” en vir jou ’n pakkie sigarette gekoop – net vir ingeval.

Met die “drip stand” in die een hand, verband om die kop en been, daag jy by die fire escape-deur op, presies soos die ander rokers aan jou verduidelik het. Met die drupstaander en kruk gaan dit maar stamp-stamp om deur die nou poort te kom en almal binne kyk vlugtig op. Hulle ontspan egter toe hulle die kentekens sien, ‘n pakkie sigarette en Bic-aansteker. Woordeloos word jy tot die binnekring toegelaat. Of is dit nou die dampkring?
Binne staan die drupstaanders soos seilbootmaste rond. Nog voor jy behoorlik sit, waarsku die ekspolisieman jou: “Pasop, hulle steel hier. My nuwe Samsung S6 Edge moer toe. Ek het my hele lewe verloor”. Omdat ‘n ekspolisieman wat kwaad is, gevaarlik is, probeer jy die onderwerp verander. “Is jou been gebreek? Wat het gebeur?” vra jy. “Verlede Vrydagaand, werk se Christmas party,” sê hy. “Hoe het dit gebeur?” “Dit weet ek self nie, het hier in die hospitaal wakker geword.” “Wat my worry,” sê ekspolisieman, “is dat my vrou my nog nie kom sien het nie en ek is al vier dae hier, nie eers ‘n SMS nie”. Jy worry saam met hom, want alhoewel sy “hele lewe” nou tussen ‘n bors en ‘n brassiere iewers  in ‘n taxi aan die verdwyn is, lyk dit vir jou of hy nog baie het om te verloor…
“Wat maak ek met hom?” vra sy en hou ‘n stompie na jou toe uit, wat jy in ‘n take-away koffie se deksel dooddruk. Sy staan met haar rug na jou toe en rook oor die reling, sigarette met ‘n Chinese naam wat jy nog nooit gesien het nie – belas­tingvry. Sy dra ‘n verbleikte geel T-hemp waarop agter in swart gedruk is “Proto-team 1996, Stilfontein”. Die groenerige sweetpakbroek is duidelik ‘n paar jaar ouer. Jy wonder of rook mense arm maak en of mense rook omdat hulle arm is? Met jou nuutgekoopte hospitaalpajamas, pantoffels en duur Dunhill-sigarette, voel jy ietwat meerderwaardig tussen die ander rokers. Met die aangee van die stompie het jy gesien Proto-team het ‘n homemade tattoo op haar arm met die naam “Bokkie” daarop en iets wat vir jou vaagweg soos ‘n rooi roos lyk. Die probleem met plaasmense is dat hulle met almal wil gesels en jy vra: “Bokkie, werk jy in die myn?” Sy draai stadig om en sê: “Is jy van jou kop af en wie’s jou Bokkie? Huh?” Aanvallend en agterdogtig, dink jy. Nog meer so as daar op die geboortesertifikaat staan “vroulik”. So oorleef  hulle in ‘n wêreld waarvan jy niks weet nie. Julle rook net saam. En deurentyd beweeg die maste met bemanning die hawe in en uit, stamp-stamp deur die poort.
Omdat dit amper besoektyd is en die ekspolisieman se vrou en Bokkie se Breker dalk kan opdaag, beweeg jy stadig deur se kant toe waar sy sit, wanhopig, toe oë met haar rug teen die muur. “Kan ek iets vir jou doen?” vra jy. “Ek wil jou nie pla nie, en ek wil ook nie vir jou bid nie, ek wil net iets vir jou doen,” hoor jy jouself sê. “Jy kan niks vir my doen nie. Kolonkanker, die operasie was nie ‘n sukses nie.” 
Drie kleppe steek bo haar nagrok uit met pypies wat iewers na onder heen verdwyn. Sy vryf oor die regterkant van haar maag en die pyn kleef wit aan haar gesig. Jy wou net loop toe ‘n swart verpleegster inkom, ‘n sigaret opsteek en vir haar aangee. “Nog vyf minute dan kom ek jou haal, jy moet weer ingeplug word,” sê sy vol deernis. “Hierdie mense is so goed vir my,” fluister sy. “Dis hulle sigarette wat ek rook.”
Jy beweeg stamp-stamp uit en trek die deur agter jou toe, maar die rokers bly nie agter nie, hulle glip saam deur en kom staan dié nag om jou bed.
Dit voel of jy van jou kop af is, of is dit die narkose? Die bleek een met die “ports” wat bo uitsteek, sit op die bankie voor jou bed. Dis hier waar jy vir hulle geskenke, gesondheid en ‘n geseënde Kersfees uitdeel. Mildelik – maar op so ‘n onbetrokke, so ‘n onchristelike manier. Vir haar gee jy iemand wat voltyds by haar bly langs die bad van Betesda, sodat as die engel die water roer, sy eerste daar sal wees. Vir hom ‘n nuwe iPhone en vir Bokkie, Breker se bekering. Dis immers jou storie, wie anders sal na hulle omsien?
Jammer dat predikante nie rook nie, dink jy. Erger nog, dalk het ‘n predikant gerook en hier in Kloof, saal S, herstel na ‘n operasie. Hy is dalk ook na die fire escape-deur beduie, het stamp-stamp met sy staalkruis binne gegaan, rondgekyk, omgedraai en besluit om op te hou rook…

Of is ek nou van my kop af?