ADVERTISEMENT:

 

 
 

Inspekteur vir die plaaslike DBV (Dierebeskermingsvereniging) Lawrence Khodobo by die bees wat raakgery is deur 'n voertuig. Dié dier is gelos om vir ure te ly met 'n gebreekte agterbeen.

Polisie dra by tot diere se lyding, meen DBV

Date: 11 July 2014 By: Isabel Venter

Die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) is die josie in vir die Makhado Polisie.

Volgens plaaslike DBV-inspekteur Lawrence Khodobo skop plaaslike polisielede hardnekkig vas as dit kom by die uitvoer van hul wettige pligte. Hy het verwys na ‘n voorval waar ‘n erg-beseerde dier gelos is om vir ure te ly.

‘n Ontstelde Khodobo het die Zoutpansberger op Dinsdag, 24 Junie, geskakel vanaf ‘n ongelukstoneel waar ‘n motor met ‘n rondloperbees gebots het op die Madombidzha-pad, sowat 3km buite Makhado (Louis Trichardt). Die bees, ‘n jong koei, het langs die pad gelê met ‘n gebreekte agterbeen. Volgens Khodobo het die ongeluk rondom 08:00 plaasgevind, maar hy is eers 14:00 daarvan in kennis gestel - vyf ure later!

Dít was die spreekwoordelike strooitjie wat die kameel se rug gebreek het en Khodobo genoop het om die koerant te skakel. “Hoe kan hulle ‘n dier net so los langs die pad om verder te ly?” wou Khodobo weet. Kort na die koerant ‘n foto geneem het, het hy self die koei uit haar lyding verlos.

Volgens Khodobo is die polisie by magte om ‘n dier wat ly uit te sit, maar dit is nie wat gebeur nie. Hy sit elke keer hande in die hare met soortgelyke gevalle waar die polisie glo vir hom wag om die dier te kom doodmaak. “Ek is net een mens wat in ‘n groot area werk en kan nie altyd vinnig by die volgende geval uitkom nie – in sulke gevalle mag die polisie, volgens wet, ‘n dier vernietig,” het Khodobo gesê.

Die wet wat die polisie hierdie magte gee, is die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962). In terme van hierdie wet mag ‘n polisiebeampte ‘n genadedood uitvoer op ‘n dier wat so beseer of siek is dat dit nie meer gered kan word nie, of in die geval waar ‘n veearts of gemagtigde DBV-inspekteur nie geredelik beskikbaar is nie.

Dit gebeur nie. Khodobo beweer dat die plaaslike polisie opdrag gekry het om nié diere van kant te maak nie. Dit, sê Khodobo, is teenstrydig met ‘n nasionale polisie direktief wat in Julie 2012 uitgestuur is aan alle polisiestasies, waarin hulle ingelig is oor hul magte in terme van die Dierebeskermingswet.

Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Takalani Madzhigili is gevra om kommentaar te lewer op Khodobo se bewerings. ‘n Afskrif van die direktief is ook aan hom gegee.

Volgens Madzhigili het Khodobo nog nooit ‘n vergadering met die polisiestasie of die stasiebevelvoerder, kol. Francois Ramhovha, hieroor belê nie. Hy het bygevoeg dat Khodobo goed bewus is van die wetlike prosedures wat gevolg moet word alvorens ‘n dier uitgesit mag word, en dat die polisie stiptelik hieraan voldoen. “Hy [Khodobo] weet ook baie goed dat die onvermoë van een instansie nie geblameer kan word op ‘n ander nie. As die DBV se kapasiteit beperk is, is dit nie die verantwoordelikheid van die plaaslike polisie om dit aan te vul nie,” het Madzhigili gesê.

Madzhigili was van opinie dat Khodobo eerder met verantwoordelikheid moet kommunikeer met ander belanghebbendes (nie net die polisie nie) wat die DBV sal kan bystaan met hulp, eerder as om ‘n slegte prentjie van polisie uit te beeld in die media. Khodobo hou egter voet by stuk dat hy al verskeie kere op bestuurvlak die aangeleentheid met die plaaslike polisie opgevat het.

Intussen kon die eienaar van die bees nog nie opgespoor word nie. Madzhigili het bevestig dat ‘n ondersoekdossier geopen is, maar dat die dier nie identifikasiekaartjies of –merke gehad het nie.

 
 
 

Viewed: 848

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT