ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Frik van der Merwe, Elmarie en suster Elme. Foto verskaf.

Prof. Costandius het diep spore by Stellies getrap

Date: 02 February 2024 By: Pétria de Vaal

Met skok het oud-skoolmaats (matriekklas van 1982) van die tragiese afsterwe van prof. Elmarie Costandius (née Van der Merwe) op 8 Januarie 2024, verneem. Elmarie was onderhoofmeisie by Hoërskool Louis Trichardt in daardie jaar. Sy is op slag dood in ‘n kop-aan-kop botsing buite Stormsrivier in die Oos-Kaap. Haar enigste kind, die 15-jarige Alexander, het daardie aand aan inwendige beserings beswyk.

Van die ouer lesers sal Elmarie se ouers, Frik en Annetjie van der Merwe, goed onthou. Hulle was albei onderwysers by Hoërskool Louis Trichardt. Frik in metaalwerk (laat 1970’s tot middel 1980’s) en Annetjie in huishoudkunde – vroeg sewentigs tot middel 1980’s. Menige oud-huishoudkunde leerling sal Annetjie onthou vir onder meer die heerlike geregte wat sy hulle in die kookkuns-klas leer maak het.

‘n Gebroke Elme Lloyd, Elmarie se ouer suster wat in 1981 in matriek was, vertel dat haar ouers in 1962 in die destydse Messina getroud is. “Hulle het 60 jaar gelede Louis Trichardt toe getrek. My pa, Frik van der Merwe, was ‘n boer naby Bandelierkop. In 1985 het hulle die Soutpansberg verruil vir Stilbaai. My ma is op 7 Mei 2012 oorlede en my pa sommer onlangs – op 9 Oktober 2023 in die ouderdom van 88 jaar.”

Elmarie (gebore 23 September 1964) was ‘n merkwaardige akademikus. Sy het inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria studeer en later twee meestersgrade verwerf: een aan die Rietveld Akademie in Amsterdam (Visuele Kunste) en die ander aan die Universiteit van Wes-Kaapland. 

“Een van die baie interessante dinge wat sy gedoen het, was om te gaan leer glas blaas in Praag, Tsjeggiese Republiek,” vertel Elme.

In ‘n huldeblyk op die Universiteit van Stellenbosch (US) se webblad, word genoem dat Elmarie (professor Costandius) ‘n onuitwisbare bydrae tot die US gemaak het. “Sy het aanvanklik in 2006 by ons aangesluit as lid van die Visuele Kommunikasie-ontwerp-afdeling en het later aan die spits gestaan van 'n unieke meestersgraadkursus met spesialisasie in Kunsonderwys,” het dr. Kathryn Smith, voorsitter van die Visuele Kunste-departement, gesê.

Elmarie het in 2012 'n PhD in kurrikulumstudies aan die US verwerf. Talle publikasies het uit Elmarie se pen verskyn.  In 2021 was sy mede-outeur van die boek: Evoking transformation: Visual redress at Stellenbosch University saam met prof Aslam Fataar.

Sy het ver buite US se grense 'n impak gemaak en 'n wye netwerk van verbintenisse met internasionale akademici gehad.

Oor die afgelope dekade het haar geesdrif gelei tot etlike tasbare vernuwings op die US kampus. Dit sluit in: Die Sirkel-beeldhouwerke van vroue, asook publieke banke wat met verwelkomingsboodskappe in verskeie Suid-Afrikaanse tale versier is. 

“Die rektoraat van die US het die hoogste agting gehad vir die briljante bydrae van prof. Costandius.” Aldus prof. Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel.”

Elme onthou haar suster as ‘n diep denker wat nederig, passievol en hardwerkend in haar loopbaan by die universiteit was. “Sy het soveel mense en studente se lewens aangeraak en geïnspireer. Sy was lief om by die see te loop. Sy en Alexander sal oneindig baie gemis word. Rus in vrede.”  ‘n Gedenkdiens is verlede Saterdag in Somerset-Wes gehou.  Elmarie laat haar suster, Elme Lloyd, en Elme se kinders Annabelle, Luke en Oliver, agter.

 

 
 
 

Viewed: 1370

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT