ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Jaco Cloete (27 Julie 1970 tot 27 Januarie 2024). Foto verskaf.

Jaco het voluit gelewe

Date: 02 February 2024 By: Andries van Zyl

Die skielik dood van die 53-jarige Jaco Cloete van Louis Trichardt aan ‘n hartaanval die afgelope naweek het nie net vir sy familie as groot skok gekom nie, maar ook vir al sy vriende.

Volgens Jaco se vrou Alice het hulle nog Saterdag (27ste) saam dorp toe gegaan, waarna Jaco huis toe is om sy heining te snoei. Terwyl hy hiermee besig was, het hy skielik vir Alice gesê sy moet hom vashou, want hy is geweldig duiselig.

“Hy het net inmekaar gesak,” het Alice Dinsdag aan die koerant gesê. Op daardie presiese oomblik het Damian (een van die egpaar se twee seuns) by sy ma se huis aangekom en ook gepoog om sy pa by te kry. “Ons het gedink my pa is nog by sy bewussyn,” het Damian gesê.

Die familie het Jaco in ‘n voertuig gelaai gekry en deurgejaag na die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal. “Toe ons daar kom, het hulle hom op ‘n bed gesit en ons gevra om uit te gaan ...  Ons het nie gedink my pa is oorlede nie. Toe kom die dokter na my toe en gee vir my die slegte nuus. Hulle het gesê my pa is tien teen een al by die huis of in die kar oorlede,” het Damian gesê.

Die nuus het vir Alice, haar seuns en familie as groot skok gekom, alhoewel Jaco die afgelope jaar met sy hart begin sukkel het. In Oktober verlede jaar moes hy vier stente kry. Hul enigste troos is dat Jaco blykbaar dadelik oorlede is.

“Ons is deur ‘n rowwe tyd die afgelope week,” het Damian gesê.

Te midde van die hartseer onthou Alice haar man en seuns Damian en Dwayne hulle pa as ‘n absolute wonderlike mens. Hy het sy skoolloopbaan by Laerskool Louis Trichardt en daarna by Hoërskool Louis Trichardt voltooi. Ná skool het hy vir sy ouma, tannie Kittie van Vuuren, gaan uithelp by die ou OK-slaghuis in Thohoyandou.

In dié tyd is Jaco met sy skoolliefde, Alice, getroud (11 Januarie 1992). Ná so vier of vyf jaar in die slagtersbedryf het die egpaar na Polokwane verhuis, waar hy werksaam was by Nando’s. Daarna het die famille terug verhuis na Louis Trichardt, waar Jaco by die destydse plaaslike take van Nampak (vandag Pakmark, wat bedryf word onder die vaandel van Kaap Agri) begin werk het. Hier was hy werksaam tot en met sy dood.

“Ek het nie ‘n beter mens geken as hy nie. Hy was die mees behulpsame mens gewees. Hy het almal gehelp waar hy kon. Vir ons sou hy meer gedoen het as vir iemand anders, maar as hy kon help, het hy gehelp. Hy het my bygestaan in alles wat ek aangepak het,” het Damian gesê. So ook, het Damian gesê, het sy pa hom geleer van pa wees met sy seuntjie Dian se geboorte in April verlede jaar. “Die baba was vir hom alles gewees! Ek kan nie sy ondersteuning met die babatjie beskryf nie,” het Damian gesê.

“Hy het 100 jaar se lewe in 53 jaar ingepas. Hy het absoluut voluit gelewe,” het seun Dwayne gesê. In alle opsigte het hy saamgestem met broer Damian se beskrywing van hul pa.

“Hy was ‘n baie ondersteunende man gewees en ons het omtrent nooit baklei nie. Hy was baie liefdevol en baie betroubaar. Ons was 32 jaar getroud gewees en ons jare saam was vir my heeltemal te kort gewees,” het Alice gesê. “Hulle het alles saam gedoen,” het die egpaar se seuns opgemerk.

‘n Gedenkdiens vir wyle Jaco vind op Saterdag, 10 Februarie, om 10:00 vanuit die AGS Louis Trichardt plaas. Hy word oorleef deur sy vrou Alice, seuns Dwayne (en vrou Melissa) en Damian (en vrou Sominé en kleinseun Dian), ouers Kobus en Erna en broer Given (en vrou Emma).

“Van sy werk se kant af het ons verskriklik baie ondersteuning gekry en ons wil graag dankie sê daarvoor. So ook het ons baie ondersteuning gekry van Louis Trichardt se mense. Sommige ken ons nie eers nie, maar hulle het ons nommer in die hande gekry,” het die familie gesê. Hulle het ook baie ondersteuning van die boerderygemeenskap in Limpopo ontvang, wat Jaco namens Pakmark bedien het. “Sy kliënte was soos sy vriende gewees,” het die familie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1528

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT