ADVERTISEMENT:

 

 
 

David Langley in aksie as Suid-Afrikaanse atleet. Sy atletiekloopbaan het egter op 1 April 1972 gepiek, toe hy ‘n nuwe Suid-Afrikaanse verspringrekord opgestel het. Foto verskaf.

Soutpansbergse sportlegende oorlede

Date: 17 June 2016 By: Andries van Zyl

Sekerlik een van die land se grootste sportmanne wat die Soutpansberg opgelewer het, die 72-jarige David Langley, is op Dinsdag, 7 Junie, na ‘n lang siekbed oorlede.

Nuus van Langley se dood is met huldeblyke vanuit alle oorde, beide uit die akademiese en sportwêreld, begroet. Vandag nog hang daar ‘n aksiefoto van Langley in die Universiteit van Pretoria se Roemsaal met die onderskrif “Met waardering en erkenning vir bydrae tot Tuks atletiek.” Die foto is op 6 Junie 2001 aangebring.

Een van die land se sportlegendes wat hulde aan Langley gebring het, was oud-Springbok rugbyspeler Wynand Claassen. Hy het na Langley verwys as “een van Tukkies, Noord-Transvaal en Suid-Afrika se grootste sportseuns” en “een van die mees alsydige sportmanne in Suid-Afrika wat Springbokkleure in atletiek en provinsiale kleure in rugby verwerf het.”

David Stephanus Langley is op 27 Julie 1943 in sy ouerwoning op Alldays gebore, die derde seun van Felicia en David Stephanus Langley. Hy is vernoem na sy oorgrootvader, David Stephanus Jacobsz.

Langley het sy vroeë en laerskooljare op Alldays spandeer waar sy pa onderwyser was, asook op hul familieplaas en by die familie se grootouers naby Waterpoort. Sy ouers was baie sportbewus. Albei het baie goed tennis gespeel en het selfs hul eie tennisbaan op die plaas gehad. Sy pa was ook ‘n universiteitsbokskampioen en baie betrokke by die destydse Verre Noord-Transvaalse Amateur Boksassosiasie waar hy hoofskeidsregter en later president was.

Langley het sy hoërskoolloopbaan aan die Louis Trichardtse Hoërskool, soos dit toe genoem was, voltooi. Dit was juis in sy matriekjaar wat hy as sportman begin uitblink het. Die eerste rekords wat hy gebreek het, was dié van sy broer Peet in verspring en 110 m hekkies.

Langley se sportprestasies het nie na skool geëindig nie. Inteendeel, hy het dramaties daarop verbeter, nie net in atletiek nie, maar ook in rugby.

In 1965 reeds verteenwoordig hy Noord-Transvaal as vleuel in een wedstryd teen Wes-Transvaal. Hieroor het oud Noord-Transvaal rugbyspeler Oupa du Piesanie opgemerk: “As hy nie sy knie…so ernstig beseer het nie, het ek geen twyfel dat hy vir die Springbokke sou gespeel het nie.” Du Piesanie het later ook opgemerk: “In die toerspan van Tukkies na Engeland in 1967/68 was hy nie slegs ‘n staatmaker op die veld nie, maar het hy met sy kameraadskap en aangename persoonlikheid baie tot die goeie gees van die span bygedra.”

Langley verwerf sy Springbokkleure in atletiek in 1969 en word vir die opvolgende twee jaar (1969/70) aangewys as kaptein van die Springbok-atletiekspan. Hy verteenwoordig Suid-Afrika tydens die Klassieke Spele in Athene, Griekeland, en reis na Finland vir die Olimpiese Spele, maar Suid-Afrika word deelname geweier. Hierna verteenwoordig hy ook die SA-span tydens die Coubertin Spele in Argentinië.

Weens sy prestasies op die sportveld ontvang Langley in 1971 die Goue Appeltoekenning vir bestendigste veldatleet. Sy atletiekloopbaan het egter op 1 April 1972 gepiek, toe hy ‘n nuwe Suid-Afrikaanse verspringrekord opgestel deur Neville Price se 26-jaar-oue rekord jaar tot 7.9 m te verbeter. Dit was egter nie ‘n eenmalige gebeurtenis vir Langley nie, want gedurende die 1970’s was Langley vir ses agtereenvolgende jare Suid-Afrikaanse verspringkampioen. In 1974 was hy ‘n dubbele Suid-Afrikaanse kampioen, toe hy ook die 110 m hekkies-titel ingepalm het.

Langley se grootste erns was egter sy akademie. Hy behaal sy B.Sc.-graad in Landbou Ekonomie in 1965 aan die Universiteit van Pretoria in die voorgeskrewe tyd en volg dit op met ‘n M.Sc (Agric) graad in 1976 en ‘n MBA in 1982. In 1990 verwerf hy ‘n Ph.D. met sy proefskrif Prysvorming by die bemarking van vars vrugte en vars groente in die RSA.

Na ‘n paar jaar as onderwyser by onder meer die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, word hy dosent in die Departement Landbou-ekonomie, Fakulteit Landbouwetenskappe by die Universiteit van Pretoria, en later mede-professor.

By die beëindiging van sy loopbaan in die akademie vestig hy hom op sy plaas Buchan noord van die Soutpansberg met slegs weiding voor hom. Binne die bestek van minder as 10 jaar bou hy ‘n modelplaas op wat top mango’s en wintergroente produseer. Hy spog ook met ‘n pragtige Bonsmara stoetkudde. Langley was een van die min akademici wat daarin kon slaag om die teorie van die akademie te versny met die praktyk van landbou en veeteelt tot die mate dat hy ekonomies en finansieel daarby kon baat.

Langley se geliefde Kotie, ‘n Louis Trichartse Hoërskool kys, het hom reeds lank vooruitgegaan. Hy word oorleef deur broers Thomas en Peet, dogters Elisabeth, Felicia en Jacomien, seun Dave en ses kleinkinders. ‘n Roudiens vir Langley is Saterdag, 11 Junie, op sy broer Thomas se plaas, Ringer, gehou.

“In sy tyd hier op die plaas, agter die berg, soos ons sê, was hy ten volle betrokke in sy gemeente as Kerkraadslid, op die boerevereniging se bestuur, as voorsitter van die Vetfonteinse Geloftefeeskomitee en in die Bosveld Jagtersvereniging. David self het nooit hierdie dinge gemeld nie. Slegs in nederige stilte was dit sy eie. Ons dank die Allerhoogste vir sy lewe, wat ons met hom kon deel,” het Peet en Thomas gesê.

 
 
 

Viewed: 1097

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Wyle David Langley (72). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT