ADVERTISEMENT:

 

 
 

Buiten vir die Duel-myn is Signet betrokke by nog drie ander projekte in die Limpopo-steenkoolkom. Grafika: Subiflex (Edms) Bpk.

Nog ‘n myn vir Soutpansberg?

Date: 14 May 2016 By: Isabel Venter

Nog ‘n mynmaatskappy het hulle visier op die Soutpansbergstreek gestel en inwoners het net hierdie maand tyd om hulle stemme dik te maak as hulle die myn se werksaamhede wil keer.

Subiflex (Edms) Bpk, ‘n filiaalmaatskappy van Signet Coaking Coal, het onlangs aansoek gedoen vir ‘n mynregte lisensie om steenkool te myn op die restante gedeelte van die plaas The Duel. Die voorgestelde mynontwikkeling is sowat 20 km noord-oos van Tshipise geleë. Die Nzhelele Natuurreservaat grens aan die projek se oostekant, met die Nzheleledam wat ongeveer 4 km verder na die ooste geleë is.

Volgens die projek se konsep-omgewingsimpakstudie beslaan die plaas 888.5039 Ha en word ‘n ondergrondse oopsteengroefmyn beplan. As die myn ‘n realiteit word, sal die oopgroef myn binne 500 m geleë wees van die Makushustat, en sal hulle beslis geaffekteer word deur al die myn se skietwerk, geraas en stof.

Buiten vir dié gemeenskap is daar nog tientalle ander kommersiële en wildplase en gastehuise wat in die een tot vyf kilometer buffersone om die myn geleë is, wat drasties geaffekteer sal wees.  

Volgens Signet se impakstudie is daar bevind dat al die verskillende plase en besighede in die onmiddellike area van die myn ‘n geskatte R59.45 miljoen per jaar genereer. Hiervan is landboubesproeiingsprojekte die grootste rolspeler met ‘n geraamde R26.28 miljoen (44%) inkomste per jaar. Jagplase wat akkommodasie aanbied, dra R16.80 miljoen (29%) by, met die res van die inkomste wat geïn word deur jagaktiwiteite.

Die belangrikste impak wat die myn uitgewys het, is egter op die hoeveelheid grondwater wat hulle sal onttrek as die myn ‘n realiteit word. Die Duel Project sal met Coal of Africa Limited (CoAL) moet kompeteer vir waterbronne. CoAL se beplande Makhado Myn grens aan die westelike en oostelike kant van The Duel. Op die vele vergaderings wat CoAL oor die jare met gemeenskappe gehou het, was dit duidelik dat die area nie genoeg water vir myne, landbou en mense en dier het om te kan oorleef nie. Die Vhembe Distriksmunisipaliteit het ook vroeër in die jaar teenoor die Zoutpansberger erken dat die area, saam met Louis Trichardt, gebuk gaan onder ‘n knellende droogte wat dit moeilik maak om water aan almal te verskaf.

Signet skat dat hulle ongeveer 120 liter water sal benodig om ‘n ton steenkool te verwerk. Volgens hulle studies kan hulle die gebruik van grondwater verminder deur die verskillende waterstrome- en bronne tot hul beskikking te herwin.

As Signet se impakstudie nie goedgekeur word nie, sal hulle aansoek om ‘n mynregte- en waterlisensie outomaties afgekeur word. Dit, het die myn gesê, sal ‘n groot verlies inhou vir ekonomiese groei op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak, omdat hulle die geleentheid sal verloor om hoë-gehalte steenkool te benut.

‘n Openbare vergadering sal gehou word op Saterdag, 21 Mei, om 11:00 in Tshipise se boeresaal om die konsep-impakstudie van die Duel myn met die publiek en ander belanghebbendes te bespreek. Om die vergadering by te woon, kan Susan van Eeden gekontak word by tel. 012 543 9093 of per e-pos by [email protected]. Sy kan ook genader word vir meer inligting oor die projek, of vir ‘n afskrif van die konsep-impakstudie. Griefskrifte kan ook aan haar gestuur word, en moet haar bereik voor 3 Junie.

Buiten vir die Duel-myn is Signet betrokke by nog drie ander projekte in die Limpopo-steenkoolkom (sien aangehegte kaart).

 

 
 
 

Viewed: 2045

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Steenkool wat geprospekteer is op die plaas The Duel. Foto: Signet Coaking Coal.

'n Kaart wat die impak-areas aandui van Signet se beoogde Duel-myn. Grafika: Subiflex (Edms) Bpk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT