ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Hendrik Bester (48). Foto verskaf.

Gemeenskap treur saam met familie

Date: 12 November 2015 By: Andries van Zyl

“My man en my liefste pappa. Wens woorde kon beskryf hoe baie ons pappa al klaar mis, hoe leeg ons huisie al klaar sonder jou voel. Niemand sal ooit pappa se skoene by ons kan volstaan of pappa se plek in ons harte kan neem nie.”

So skryf Hester en haar dogter Leandra in die begrafnisbrief van wyle Hendrik Bester wat sy stryd teen kanker verloor het. “Hy het tot op die einde dapper geveg,” sê Hester.

Die afgelope week treur Louis Trichardt saam met die Bester-gesin. Nadat hy op 2 November 2011 met limfklierkanker gediagnoseer is, het die gemeenskap en Hendrik amper tot op die dag vir vier jaar ‘n pad saamgeloop vir ondersteuning en gebed. Hy is op Woensdag, 4 November, in die ouderdom van 48 jaar in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.

“Ons gaan al die groot, maar meestal die klein dingetjies wat pappa altyd vir ons gedoen het, mis -  veral daai klein dingetjies wat ons nie sien nie. Dankie dat jy altyd gesorg het vir ons. Nog voor ons kon vra of sê het jy gesorg. Ons gaan pappa se humor ook vreeslik baie mis en al pappa se wysheid,” lees Hester en Leandra se begrafnisbrief verder.

Hendrik was ‘n liefdevolle mens en ‘n lugmagman in murg en been. Hy was vir jare in diens van Dennel AMG op Lugmagbasis Makhado as vliegtuigmonteerder, tot met sy aflegging verlede jaar. “Vliegtuie was sy lewe,” sê Hester.

Hester en Leandra het hul dank uitgespreek teenoor elke persoon in die dorp wat hulle bygestaan en gehelp het om wyle Hendrik se afsterwe bietjie beter te probeer maak. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan die Makhado Care Group vir hul hulp en ondersteuning die afgelope paar jaar, asook drs. Emil Gaigher en Fred Badenhorst en di. Dick Mocke en Jan Pretorius vir hul gereelde besoeke. “Dankie ook aan Johan Kirsten vir die lekker ete (en verblyf) vir vriende en familie Vrydagaand, asook Adrian en Marie Joubert, Leana Oosthuizen en dr. Anton en sy vrou Anneke Stroebel vir die verblyf,” sê Hester.

‘n Roudiens is Saterdag, 7 November, vanuit die NG Kerk Moedergemeente vir wyle Hendrik gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Hester, dogter Leandra, broers Willem, Bertie en Herman, en suster Marthie.

“Rus in vrede my geliefde man en my pappa,” was Hester en Leandra se afskeidswoorde.

 
 
 

Viewed: 427

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT