ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Kwik daal wel, maar reën dreig om weg te bly

Date: 16 October 2015 By: Andries van Zyl

As dit nie gou reën nie, lyk die vooruitsigte vir boere maar ietwat droewig en kan die huidige droogtetoestande ernstige krisisafmetings begin aanneem.

Die afgelope week het die Zoutpansberger reeds berig ontvang van boere langs die Limpoporivier wat watertekorte begin ondervind. Dit kom te midde van die versengende hittegolftoestande oor dele van Limpopo, Gauteng en Mpumalanga.

Sedert die eerste week van September, toe redelike goeie eerste lentereënneerslae oor die streek uitgesak het, bly die hemel se sluise gesluit. Boere was ná hierdie aanvanklike goeie neerslae baie dankbaar, maar het gewaarsku dat goeie opvolgreën van uiterste belang is. Van hierdie opvolgreën het daar tot op hede niks gekom nie en daar is weinig grondvog oor. Die afgelope week se hittegolftoestande het ook nie gehelp nie.

 Die Zoutpansberger het die afgelope week begin voelers uitsteek om ‘n bepaling te maak van die omvang van die droogtetoestande.

Dit is duidelik dat daar boere in die streek is wat swaar gebuk gaan onder die huidige droogtetoestande. Een boer van die Soutpansberg, mnr. Jacques Bouwer, het laat weet dat op die plaas Rabeja ‘n standhoudende bergfontein besig is om op te droog. Op dieselfde plaas, sê hy, is daar ‘n boorgat wat in 1987 ‘n totaal van 51 000 liter water per uur kon lewer. Hulle het in Augustus vanjaar vir die eerste keer met dié boorgat begin probleme ondervind en ná die gat hertoets is, is gevind dat dit tans slegs 18 000 water per uur kan lewer. “Die pompe moet dus verander word om aansienlik minder te pomp, omdat ons slegs sowat 70% van die gat se vermoë te pomp ten einde langtermyn lewering te verseker.  Dit het hoë koste implikasies,” het Bouwer gesê. Op die plaas Rietbok, sê Bouwer, het ‘n ander standhoudende bergfontein na 15 jaar ophou vloei. “Die droogte begin krisisafmetings aanneem en wek kommer. Oeste gaan dramaties beïnvloed word as dit nie gou reën nie,” het Bouwer gesê. Met gou reën, het Bouwer gesê, bedoel hy 100 mm reën of meer, en so gou as moontlik.

Daar is tans ook geen aanduiding dat die huidige droogtetoestande en warm temperature gaan verander nie. Dit is aldus die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn weervoorspelling vir die periode Oktober 2015 tot Februarie 2016. Hul voorspelling is geskoei op die huidige swak El Niño toestand, wat ‘n ondergemiddelde reënval aandui, asook hoër somertemperature.

'n Bietjie goeie nuus te midde van die droogtetoestande en uitermatige hoë temperature is dat die kwik sedert Woensdag tot onder 30°C in Gauteng sou begin daal het. Vir Limpopo sou die kwik eers Donderdag begin daal. Alhoewel die temperatuur begin afneem het, hou die gebrek aan reën egter steeds ‘n brandgevaar vir die streek in. Ten opsigte hiervan dui die brandgevaarindeks vir die Soutpansberg die situasie aan as gevaarlik (sien meegaande indeks) vir Donderdag en Vrydag. Met temperature wat teen die naweek na verwagting verder sal daal, is die brandgevaarindeks vir Saterdag “gemiddeld”.

As die voorspelling dit reg het, is die verdere bietjie goeie nuus vir Limpopo, en meer spesifiek die Soutpansberg, dat donderstorms voorspel word vanaf die naweek. Die enigste probleem is dat donderstorms gelokaliseer voorkom en nie noodwendig verligting vir die hele streek sal bring nie.

 

 
 
 

Viewed: 3207

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT