ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hierdie toneel is deesdae 'n algemene gesig in die Forestryweg-park - mense wat na  blêrende musiek uit hul motors luister, drink en fuif.

Min wetstoepassing in openbare parke

Date: 12 December 2014 By: Isabel Venter

Op die oog af blyk dit dat munisipale grond in Louis Trichardt weliswaar niemandsland is.

Die Zoutpansberger het vandeesweek die Makhado Munisipaliteit genader rondom die toestand van openbare parke, en spesifiek die park geleë in Forestryweg naby Hoërskool Louis Trichardt.

Hierdie park het die afgelope paar jaar berug geword vir dwelmhandelaars wat vandaar sake doen. Die park is ook ‘n gewilde uithangplek vir partytjiegangers en prostitute.

Van die munisipaliteit se veiligheidsmaatreëls wat daargestel is om kinders wat in die parkie speel te beskerm, is niks oor nie. Drade en hekke is lankal reeds platgery deur motoriste.

Sedert die begin van die Desembervakansie is daar ook meer en meer motoriste wat in die park stop en klipharde musiek speel tot laat in die aande.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het hierdie week gesê dit is nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid om geraasmakers en partytjiegangers te verwilder uit die parke nie. “Ons kan net ons personeel stuur om ons parke op te ruim en instandhoudingswerk te doen,” het hy Dinsdag in ‘n e-pos gesê. Hy het bygevoeg dat die munisipale bestuur beoog om in die toekoms gebruik te maak van plaaslike verkeerspersoneel en skutwagters om te help met wetstoepassing by openbare parke. “Ons gee nie boetes vir oortredings in munisipale parke nie, en die polisie is verantwoordelik om te verseker dat mense nie in die openbaar drink nie.”

Die Makhado polisie het by navraag bevestig dat kattekwaad en ander onheilighede, as ‘n resultaat van ‘n gedrinkery in die parke, nie geduld sal word nie. Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het gesê die polisie gaan nie net hulle teen-misdaad patrollerings in die dorp opskerp hierdie feesseisoen nie, maar ook nou by openbare parke.

Sy het die publiek uitgenooi om sonder huiwering sake van openbare rusverstoring, soos by die parke, dadelik aan te meld by die polisiestasie se aanklagtekantoor  by tel. 015 519 4300.

Die Soutpansberg Dorpswag het ook by navraag bevestig dat hulle al in die verlede die polisie bygestaan het om geraasmakers by die parke te verwilder. Hulle hulp kan ook ingeroep word deur hul beheerkamer te skakel by tel. 082 251 0827.

 

 
 
 

Viewed: 1138

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT