ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Chris (98) en tannie Tillie de Jager (87) is vir drie ure deur vyf rowers getreiter en beroof, maar hulle leef en vertel hul verhaal sonder enige wrokgevoelens. Die verligte kruis van die dorp is op oom Chris se grond opgerig.

Vir ure getreiter

Date: 27 June 2014 By: Linda van der Westhuizen

Oom Chris de Jager (98) en sy 87-jarige eggenoot van die Cloud’s End plase is vir drie ure deur rowers getreiter en van al hul kontant en juweliersware beroof, maar hulle leef en vertel hul somber verhaal sonder enige wrokgevoelens.

Rowers het die De Jagers Sondagoggend omstreeks 01:00 oorval. Tannie Tillie het ‘n verskriklike slag gehoor wat die huis laat bewe het. Sy het nie geweet dat dit die voordeur was wat uit sy kosyn uitgeruk is, nadat die diefwering oopgemaak is nie. Later  het sy figure met flitsliggies of selfoonliggies die kamer sien inkom. Hoewel tannie Tillie se sig swak is, kon sy vyf figure onderskei.

“Hulle het gesê hulle sal my nie verkrag of seermaak nie, ek moet net vir hulle sê waar die geld is. Hulle het net aanhoudend vir die geld gevra,” sê tannie Tillie. Sy wou nie sê waar die geld is nie. Haar hande is vasgebind en later is ‘n skerp, breë-lem mes teen haar keel gedruk. “Hulle het gesê hulle gaan my keel afsny en die mes so teen my wang en nek gevryf. Ek het vir hulle gewys waar die kluis se sleutel is.

“Daar het hulle my seun, Johan, se pistool en patrone uitgehaal asook ‘n haelgeweer. Intussen was hulle oral in die huis besig om al die kaste en laaie uit te ruk. Na ‘n lang tyd het hulle my kom haal en gevra waar die strykyster is om my mee te brand. Ek het gesê ek weet nie waar die yster is nie. In die gang het hulle die pistool teen my kop gehou en gesê hulle gaan my skiet. Ek het gesê, ‘skiet dan maar,’” sê tannie Tillie.

Oom Chris is op die bed vasgemaak. Hy is nie toegelaat om regop te sit nie. “Hulle het een van my nuwer bloese se moue afgeskeur en wou hom daarmee verwurg,” sê tannie Tillie.

“Ek moes so konsentreer om asem te kry,” sê oom Chris. “In een stadium het ek gedink, ‘kom ons gee oor en gaan Here toe’. Ek het krag gekry en aanmekaar hardop gebid, ‘die magtige God in my is sterker as hy wat in jou is’ en dan het ek weer sy vingers uit my mond probeer hou,” sê oom Chris, oud-onderwysman wat sy Bybel van binne na buite ken en tot op 91-jarige ouderdom gevangenisbediening gedoen het. 

Die rowers het tussen R16 000 en R20 000 op verskillende plekke gevind. Daar is nie normaalweg soveel kontant in die huis nie, maar die De Jagers moes werkers betaal wat ‘n  leë huis op die plaas vir verhuring opknap. Buiten die geld is hulle vort met die 9mm pistool en patrone, tannie Tillie se diamantring en al haar juwele. “Hulle het my horlosie en goue hangertjie wat oom Chris vir my vir ons goue bruilof gegee het, gevat,” sê tannie Tillie. Sy het omstreeks 04:00 sukkel-sukkel begin beweeg en die werkers geroep om hulle te kom losmaak en hulle seun Kobus, wat ook op die plaas woon, te gaan roep.  

Volgens Kobus en sy vrou, Zelda, het die plaaslike polisie baie vinnig reageer en was die forensiese eenheid van Thohoyandou en die honde–eenheid van Polokwane ook daar. 'n Saak van huisroof is by die polisie geregistreer.

Ouboet Johan het verduidelik dat die honde-eenheid bevind het dat die rowers voetgeslaan het oor die koppie en deur die bos na die nuwe uitbreiding. Hy het self op 30 Mei onder ‘n voorval van huisbraak deurgeloop. “Ek het in daardie stadium in ‘n huisie laer af op die plaas gebly. Hulle het dieselfde modus operandi gevolg, behalwe dat daar geen kontant in die huis was nie. Hulle het egter die hele huis kaal gestroop,” het Johan gesê.

 
 
 

Viewed: 303

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

Vyf rowers het Sondag in die vroeë oggendure oom Chris en tannie Tillie de Jager van die Cloud's End plase beroof. Hulle het elke kas en laai uitgeruk en is vort met tussen R16 000 en R20 000 kontant, 'n pistool en juwele. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT