ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 'Kodak tannie' is steeds sonder 'n naam

Date: 05 October 2016 By: Anton van Zyl

Die soektog na die misterieuse “oumatjie” wie se foto uit ‘n Kodak Box Brownie van 1929 “gered” is, het nog niks opgelewer nie.

Die storie oor die film wat uit die ou kamera gehaal is en die foto’s, het landwyd opslae gemaak. Daar is tot op die SAUK radiostasie, RSG, daaroor berig.

Die storie oor die foto-vonds het sy oorsprong in die kamera-museum van die Zoutpansberger. Hierdie museum is ‘n paar jaar gelede begin, aanvanklik net om ‘n uitstalruimte te bied vir die ou kameras wat vroeër jare gebruik is in die nuusinsamelingsproses. Soos wat die tyd aanstap, het meer en meer mense egter hul ou kameras geskenk aan die museum. Die koerant het ook selektief ou kameras begin aankoop as dit teen ‘n billike prys aangebied is.

So ongeveer drie maande gelede is ‘n Kodak No 2 Brownie op die webtuiste Bidorbuy geadverteer. Dit het dadelik die belangstelling geprikkel. Wat die kamera besonders gemaak het, was die donkerrooi kleur van die leer. Die No 2 Brownie is in 1924 bekendgestel deur Kodak, maar is eers in 1929 te koop aangebied. In die eerste jaar van produksie is meer as 100 000 van die kameras verkoop.

Toe die kamera arriveer, was dit duidelik dat die kamera ongelooflik goed opgepas is en bykans geen tekens toon van 87 jaar se diens nie. Die rooi Brownie het dan ook sy (of haar) plek gevind in die uitstalkaste saam met ongeveer 80 ander antieke kameras. (Die oudste kamera in die versameling is ‘n Kodak Cartridge No 4, wat dateer uit 1897.)

Vroeg in September het die Zoutpansberger aangekondig dat die koerant se jaarlikse kalender-kompetisie vanjaar bietjie anders gaan verloop. In die verlede is lesers uitgenooi om hul beste foto’s vir die kompetisie in te skryf. Die 12 wenfoto’s word dan ingesluit in die volgende jaar se kalender, wat vir promosiedoeleindes gebruik word. Daar is besluit om dit vanjaar interessanter te maak en die fotograwe te vra om slegs foto’s in te skryf wat geneem is met kameras wat 50 jaar of ouer is.

Die kompetisie het reeds vir baie opwinding (en teleurstellings) gesorg, maar definitief die belangstelling geprikkel. Die Zoutpansberger se nuusredakteur, Andries van Zyl, was gretig om deel te neem, maar wou graag eksperimenteer met ‘n 120-formaat Box Brownie. Die aangewese kandidaat was die rooi No 2 Brownie. Toe hy egter film wou insit, merk hy op dat daar reeds film in die kamera is. Daar is toe voorgestel dat die koerant moes probeer om die ou film te ontwikkel.

Die film wat uit die kamera gehaal is, is ‘n Ilford Sellochrome, ‘n swart-en-wit film wat in die vroeë 1930s op die mark was. ‘n Soektog op die Internet oor wat die mees geskikte proses is om só ‘n film te ontwikkel, het nie baie opgelewer nie en dit was duidelik dat dit maar ‘n groot kans was om te vat. Dit was ook baie waarskynlik dat die kamera oopgemaak is gedurende die afgelope 70 of 80 jaar, wat natuurlik sou beteken dat die film belig is en alle foto’s uitgewis is.

Die film is in die ontwikkelingstenk gesit en eers vir omtrent ‘n halfuur in water laat staan om die emulsie bietjie sagter te maak. Hierna is dit vir meer as ‘n halfuur in filmontwikkelaar gelos. Tot almal se verbasing het daar nog drie raampies uitgekom, waarvan een was van die ou tannie wat in die tuin poseer.

Die vraag wat soveel mense gevra het, was of die tannie se familie opgespoor kon word. Dit is uiters moeilik, aangesien die persoon van wie die kamera aangekoop is, nie rekords gehou het van waar hy die kamera gekry het nie. Dit is ‘n besigheid in Pretoria wat spesialiseer in tweedehandse produkte, maar volgens die eienaar het hy die kamera al ‘n klompie jare.

Nadat die berig die eerste keer in die Zoutpansberger verskyn het, is dit al deur meer as 3 100 mense op Facebook gelees. Lesers het ook geskryf en gevra dat die ander foto’s op die film, al is dit nie duidelik nie, gepubliseer moet word. Dit kan dalk help om die tannie te identifiseer.

As enige iemand die foto herken of selfs so ‘n rooi Box Brownie onthou, laat ons gerus weet.

 
 
 

Viewed: 2978

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

'n Foto van die grasdakrondawel.

Slegs 'n gedeelte van die grasdakrondawel het ontwikkel.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT