ADVERTISEMENT:

 

 
 

Skool sal nie geweld goedpraat of aanhits nie

Date: 13 June 2016 By: Andries van Zyl

‘n Bakleiery tydens ‘n laerskole rugbywedstryd, wat een seun in die hospitaal laat beland het, het weereens die kwessie van rugbygeweld op die sportveld op laerskole-vlak onder die soeklig gedwing.

Die Laeveld Bulletin het einde verlede week berig van die eerstespanwedstryd tussen Laerskole Tzaneen en Louis Trichardt op Tzaneen se tuisveld op Dinsdag, 31 Mei. Tydens die wedstryd het een van Laerskool Louis Trichardt se stutte die flank van Tzaneen eers op die grond gegooi, toe gewurg en daarna met die vuiste in die gesig bygedam. Louis Trichardt se stut is met ‘n rooi kaart vanaf die veld gestuur, waarna die Tzaneen-seun hospitaal toe geneem is vir mediese behandeling. Hy het onder andere harsingskudding opgedoen.

Die berig in die Bulletin het behoorlik ‘n herrie ontketen, veral op sosiale media. Talle mense het op die Bulletin se Facebook-blad hul menings oor die voorval uitgespreek. Talle het geargumenteer dat ‘n saak altyd twee kante het. Ontstellend genoeg was daar dié wat van mening was dat die Tzaneen-seun “gekry het waarvoor hy gesoek het.”

Met humeure wat warm geraak het, het die Zoutpansberger Dinsdag met mnr. Louis Linde, hoof van Laerskool Louis Trichardt, oor die voorval gaan gesels om bietjie meer kalmte te bewerkstellig.

Linde het dit onomwonde gestel dat hy as hoof van Laerskool Louis Trichardt geen vorm van geweld op die sportveld sal toelaat nie. “Ek betreur die voorval. Ons as laerskool kan geensins dit wat gebeur het, goedpraat nie, ongeag wie die skuldige partye was. Sulke optrede is onaanvaarbaar,” het Linde gesê. Dit gesê, het Linde die voorval as uiters geïsoleerd beskryf. “In die 11 jaar wat ek al by hierdie laerskool is, is dit die eerste keer dat so iets gebeur,” het Linde gesê.

Linde het gesê dat hulle as skool ‘n openbare figuur is en derhalwe ‘n verantwoordelikheid het om op te tree. “Die insident het plaasgevind en ons kan dit nie verander nie, behalwe om die regte prosesse te volg. Ons bly trots op ons waarde-gedrewe rekord,” het Linde gesê.

Wat betref die regte prosedure volg, het Linde gesê dat hy en die hoof van Laerskool Tzaneen, mnr. Vic Rijnen, 'n dag na die voorval die saak in alle erns bespreek het. “Ons het nog al die jare goeie verhoudinge met Laerskool Tzaneen en ons as hoofde en personeel wil nie hierdie goeie verhoudinge ongedaan maak nie,” het Linde gesê. Dieselfde dag het die skool  ook, in lyn met hulle gedragskode, hul dissiplinêre beleid ten opsigte van die seun se optrede begin toepas. Dit het ingesluit konsultasiesessies met die seun, sy ouers en sy afrigters. “Die seun het ook om verskoning gevra vir sy optrede, deurdat hy nie die regte kanale gevolg het tydens die wedstryd nie. Hy moes dadelik die skeidsregter van sy ongelukkigheid met die ander speler ingelig het,” het Linde gesê. Soos wat die skool se sportbeleid bepaal, is die Limpopo Laerskole Rugbyvereniging ook van die voorval in kennis gestel vir verdere ondersoek. “Ons as skool beskou die maatreëls wat toegepas is as voldoende,” het Linde gesê.

Die stof mag dalk bietjie gaan lê het, maar die bakleiery het weereens die fokus geplaas of dit wat aanleiding gee tot hierdie aggressie by kinders. ‘n Groot sondebok blyk te wees ouers se teenwoordigheid op die rugbyveld tydens wedstryde wat hulle kinders aanhits tot hierdie optrede. Die koerant kon bevestig dat Laerskool Tzaneen Maandag ‘n besluit geneem het dat hulle, wanneer hulle as gasheerskool optree, geen wedstryd sal begin alvorens alle ouers en familie op die paviljoen sit nie. Slegs die skeidsregter en twee lynregters sal op die veld toegelaat word. Laerskool Tzaneen het ook besluit dat wanneer hulle ander skole besoek, hulle ‘n soortgelyke versoek sal hê, anders sal hulle spanne nie speel nie.

Hierop het Linde gesê dat hierdie beleid in lyn is met die nasionale Boksmart-beleid en dat Laerskool Louis Trichardt reeds ‘n geruime tyd hierdie beleid, om ouers en familie nie op die veld toe te laat nie, toepas. “Sulke aggressiewe spel is nie iets wat Laerskool Louis Trichardt promoveer nie. Dit is nie deel van ons sportbeleid nie en beslis nie iets wat ons aanhits nie,” het Linde gesê.

Buiten vir die saak wat by die Limpopo Laerskole Rugbyvereniging aangemeld is, is die saak ook by die Limpopo Laerskole Skeidsregtervereniging aangemeld. Teen druktyd is daar nog gewag op hul bevindinge.

 

 
 
 

Viewed: 1983

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT