ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hoërskool Louis Trichardt se eie opkomende digter het dit weer gedoen. Annelize Pauer (17) se gedig Kruipfase van liefhê word in vanjaar se POORT-publikasie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns opgeneem. Foto verskaf.

Digter Annelize doen dit weer!

Date: 09 June 2016 By: Linda van der Westhuizen

Hoërskool Louis Trichardt se eie opkomende digter, Annelize Pauer, het dit weer gedoen. Een van haar gedigte word in vanjaar se POORT-publikasie opgeneem.

“Hartlik geluk, Annelize. Ons is super trots op jou!” skryf die skool op hul Facebook-blad en verwys na hul “eie beroemde Triegie-digter.” Annelize is ‘n Graad 12-leerling by die skool.

Die POORT-Skryfkompetisie is ‘n landswye kompetisie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) waaraan Namibiërs ook kan deelneem. Hierdie kompetisie gaan van krag tot krag en het vir die eerste keer in 1971 plaasgevind. Die SAAWK sê dat die doel van die projek is “om skeppende skryftalent in Afrikaans onder hoërskoolleerders te ontdek, aan te moedig en sodanige kreatiwiteit uiteindelik te waardeer en aan ’n groter gehoor bloot te stel”. Die beste inskrywings (gedigte sowel as kortverhale) word in die jaarlikse POORT-publikasie opgeneem. Die publikasie verskyn in September, as’t ware ‘n geskenk vir Annelize wat in dieselfde maand 18 word. Haar gedig is getiteld Kruipfase van liefhê .

Annelize het aan die Zoutpansberger gesê dat hierdie gedig ontstaan het in haar soeke om haar gevoel rondom die konsep van liefde uit te druk. “Dit gaan oor hoe ‘n mens weet dat jy werklik die sone betree het waarin jy weet jy het lief of waarin jy dink dat jy liefhet. Om ware liefde te ken, moet ‘n mens eers die ‘kruipfase van liefhê’ betree.”

Met hierdie gedig was die skryfproses vir Annelize verrassend vinnig. “Van al my gedigte is hierdie nogal een van die gedigte waarvan die skryf regtig vinnig gegaan het. Ek het ‘n naweek saam met my familie weggegaan en sommer een slapelose nag besluit om dit te skryf. Die oomblik toe die gedig voltooi is, was nie vir my 'n definitiewe hoogtepunt nie, omdat meeste digters maar aanvanklik twyfel oor hul werk en hul nuutskeppings,” het Annelize gesê.  Sy het bygevoeg dat die gevoel van tevredenheid begin wanneer ‘n literêre liggaam die groen regmerkie gee. In hierdie geval was dit die SAAWK.  

Annelize het eers verlede jaar  haar hand aan die digkuns begin waag. In dieselfde jaar is haar gedig, 'n Tuiste in die hemel, gekies as een van slegs twee Afrikaanse gedigte in haar ouderdomskategorie om tydens  die McGregor-gedigtefees  voorgelees te word. Sy het dié gedigtefees in die kunsdorpie, McGregor, in die Wes-Kaap gaan bywoon en kon ook met bekende digters skouers skuur en haar geliefde digter, Antjie Krog, ontmoet.

Triegies se jong digter het nie net haar passie ontdek nie, maar het ook haar toekomsplanne agtermekaar. “Ek wil volgende jaar vir 'n BA in Kreatiewe Skryfwerk studeer asook kwalifiseer as onderwyseres. Ek beplan om my drome verwoed na te jaag! Ek begin ook nou met ‘n nuwe stokperdjie. Ek het my eerste kortverhaal onlangs voltooi. Ek beplan om my versameling kortverhale uit te brei, sodat ek dit aan vrouetydskrifte kan stuur vir moontlike publikasie. Ek fokus dus nou nie net meer op gedigte alleen nie, maar op gedigte én kortverhale,” het Annelize gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1606

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT