ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Soutpansberg Gholfklub  het onlangs besluit om deel 40 van die plaas Bergvliet 288 L.S. op tender te verkoop. Die 5708m² erf is geleë net regs van die klubhuis se ingang vanuit Hospitaalstraat.

Unieke kans om prima-erf te koop

Date: 02 June 2016 By: Andries van Zyl

Tenders word tans ingewag vir die koop van ‘n gedeelte van die Soutpansberg Gholfklub in Louis Trichardt.

Die gholfklub  het onlangs besluit om deel 40 van die plaas Bergvliet 288 L.S. te verkoop. “Die grond lê net daar en word nie gebruik nie; intussen het ons die geld nodig om broodnodige instandhouding by die klub te verrig,” het klubpresident Arie Steyn Maandag gesê.

Die gedeelte beslaan 5708m² en is geleë regs van die ingang na die gholfklub vanuit Hospitaalstraat. Die transaksie is op tender uitgesit met persone wat ‘n aanbod op die erf wil maak wat hul tenders voor 12:30 op 14 Junie by die kantore van Van Heerden & Rudolph Ingelyf in Devenishstraat moet inhandig.

Die betrokke perseel is reeds vir etlike dekades in die besit van die gholfklub. “Die gholfbaan self behoort aan die Stadsraad, maar hierdie erf, die dubbel erf waarop die klubhuis gebou is en die klubhuis self is die eiendom van die gholfklub,” het Steyn gesê.

Die Soutpansberg Gholfklub is al bykans ‘n eeu oud. Foto’s van ‘n gholfklubkomitee dateer sover terug as 1928. Steyn het egter gesê dat ‘n groot deel van die klub se geskiedkundige rekords deur die jare verlore geraak het. Vanaf ongeveer 1983, het Steyn gesê, is die geskiedenis redelik volledig weer aangeteken. Hulle is nie seker wat van die ou klubrekords geword het nie. “Ek vermoed die klubhuis is in die vroeë 1950’s gebou. Mense sal nou seker sê ons het ons feite verkeerd, maar van die ou garde wat in die ontstaansjare van die klub hier was, is niemand meer oor nie,” het Steyn gesê.

Aanvanklik het die baan ‘n volle 18 putjies beslaan. “Met min lede en geen eksterne bystand nie, is daar egter besluit om die putjies na nege te verminder,” het Steyn gesê.

Steyn het genoem dat inwoners nie moet dink dat die klub in finansiële moeilikheid is nie. “Ons is gelukkig om geen skuld te hê nie,” het Steyn gesê. Daar is egter sake wat dringend aandag moet kry.

Die klub se setperke is as eerste prioriteit geoormerk. “Die setperke moet nou oorgedoen word, want hulle het maar ‘n beperkte leeftyd van tussen 10 en 12 jaar. Tans is die setperke reeds 16 jaar oud, nadat dit laas in 2000 teen ‘n koste van R200 000 oorgedoen is,” het Steyn gesê. Sowat sewe/agt jaar gelede is die hele klubhuis se dak ook oorgedoen, ook teen ‘n koste van sowat R200 000.

Oor die verkoop van die erf, het Steyn gesê, moet hulle nog ‘n vergadering met hul lede hou om te bepaal wat om met die oorblywende geld te doen. “Die besluit sal hoofsaaklik wees oor hoe om die geld te belê wat vir die klub die beste opbrengs sal bring,” het Steyn gesê.

Die erf het grootskaalse ontwikkelingspotensiaal. Dit is geleë in ‘n gesogte deel van die dorp, alhoewel dit tans as plaasgrond gesoneer is. “Ons moet dit duidelik stel dat dit die koper se verantwoordelikheid sal wees om die grond te hersoneer,” het Steyn gesê. Hy het ook bygevoeg dat hulle nie noodwendig enige of die hoogste tender sal aanvaar nie, afhangend van wat die koper beplan om daar te ontwikkel.

Vir die volledige tendervoorwaardes, sien die geregtelike kennisgewing op bladsy 11 van hierdie uitgawe van die Zoutpansberger. (Dit is hartseer dat so ‘n groot gedeelte van die Soutpansberg Gholfklub se geskiedenis verlore geraak het. Die Zoutpansberger sal graag hierdie deel van Louis Trichardt se geskiedenis wil behou en boekstaaf, derhalwe word die publiek uitgenooi om met die koerant te skakel indien hulle kennis dra van die klub se ontstaan, geskiedenis en selfs ou foto’s het).

 
 
 

Viewed: 1205

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT