ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Daar is steeds tyd om te registreer

Date: 14 April 2016 By: Isabel Venter

Daar is nog kans vir mense om seker te maak hulle kry die kans om hul kruisie te gaan trek in die komende munisipale verkiesing.

Inwoners wat nie die afgelope naweek kans gehad het om te gaan registreer nie, sal nou kan registreer tot tyd en wyl die verkiesingsdatum van 3 Augustus amptelik geproklameer word. Proklamasie van die datum sal na verwagting iewers in Mei afgekondig word deur die Minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake.

Registrasies kan in persoon gedoen word by Louis Trichardt se plaaslike Onafhanklike Verkiesingskantoor (OVK) in Erasmusstraat, agter die munisipale kantore se parkeerterrein.

Ná afloop van die laaste registrasie is daar nasionaal berig dat geregistreerde kiesers se adresse “weggeraak” het en hulle weer sal moet registreer. Volgens die OVK se webblad is hulle tans op soek na kiesers se adresbesonderhede wat gedurende 1998 tot 2009 registreer het om te stem. Dié adresse het glo weens ‘n tegniese fout weggeraak op die OVK se sisteem. Dit beteken egter nie, het die OVK aangedui, dat ‘n persoon se naam van die kiesersrol verwyder sal word nie.  

Die OVK het egter aanbeveel dat mense seker moet maak van hulle registrasie. Dit kan gedoen word deur hul identiteitsnommer per SMS te stuur na 2810  (R1 per SMS) of die OVK hulplyn te skakel by 0800 11 8000. Kiesers kan ook aanlyn, op www.elections.org.za, sien of hulle geregistreer is, in water verkiesingsdistrik hulle geregistreer is en waar hulle moet gaan stem. Verder kan kiesers wat nog nie geregistreer is as kiesers nie ook ‘n registrasievorm gaan aflaai op die webblad. Hulle kan dan die voltooide vorm, saam met hul ID-boekie of -kaart (geen afskrifte of ander bewyse van identiteit sal aanvaar word nie) neem na hul OVK-kantoor om hul registrasie af te handel.

Kiesers wat nie daartoe in staat is om op die verkiesingsdag te gaan stem nie kan ook op dieselfde wyse ‘n aansoek bring om ‘n spesiale stem uit te bring (special vote). Dit is vir kiesers wat in die buiteland is, weens hul werk nie kan gaan stem nie of ‘n fisiese gebrek het en nie by ‘n verkiesingstasie kan uitkom nie.

Intussen wag Louis Trichardt-inwoners nog in spanning op ‘n lys van die verskillende politieke partye se kandidate vir wyksraadslede. Dié inligting sal ook na verwagting eers bekendgemaak word ná die verkiesingsdatum amptelik geproklameer word.

 
 
 

Viewed: 25404

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT