ADVERTISEMENT:

 

 
 

Danré Erasmus deel 'n ligte oomblik met Elthea Schlesinger net voor sy wegspring.

Danré ‘n spesiale jong man

Date: 26 September 2015 By: Isabel Venter

Danré Erasmus is ‘n baie spesiale jong man. Die 22-jarige Danré is egter nie net spesiaal omdat hy ‘n ekstra chromosoom het nie, maar omdat hy hierdie jaar die eerste persoon met Downsindroom sal wees wat aan ‘n bekende Suid-Afrikaanse fietsrykompetisie sal deelneem.

Danré gaan aan die bekende 94.7-fietswedren deelneem om geld in te samel vir dieRibbons4Roses-projek wat ten doel het om mense met Downsindroom te ondersteun. “Dit gaan moeilik wees, maar ek gaan dit doen,” het Danré gesê.

Hy en ma Suzette was verlede Donderdag hier in Louis Trichardt vir die Ups for Downs-projek wat plaaslike fietsryers gereël het om Danré te ondersteun, sodat hy kan gaan deelneem aan die 94.7-wedren.

In totaal was daar 77 deelnemers, stappers en fietsryers, wat die projek ondersteun het en R1 950 is ingesamel. Danré het ook self deelgeneem aan die 8km-rit en het die geleentheid gehad om saam met plaaslike fietsryster Kombo Bere te ry. “Ek laaik hom baie,” het Danré met ‘n groot glimlag na sy rit gesê.

Die idee om te gaan deelneem aan die 94.7, het ma Suzette verduidelik, het gekom van ‘n inligtingstuk wat vroeër vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Downsindroomvereniging uitgestuur is. Sy het die inligting gestuur aan die fietsryklub van Tzaneen. Die besluit dat Danré self sal deelneem het eintlik sommer vanself gekom. “Hy is vasberade om klaar te maak,” het Suzette vertel.

Danré is gelukkig nie ‘n vreemdeling vir die sport nie en aan sy paar kuite kan mens sommer sien hy ry al ‘n paar jaar lank fiets.

Die uitdaging vir hom sal wees om vir so ‘n lang afstand uit te hou. Volgens Suzette is die verste wat Danré al gery het 50 km. Danré gaan juis, sê sy, hierdie Donderdag van die vakansiedag gebruik om te sien of hy die 90 km merk kan haal.

Tans oefen hy ook hard elke tweede dag deur ente met sy fiets te gaan ry, wat hy ook aanvul met spinning-oefeninge.

Suzette oefen self net so hard saam met Danré, want sy sal moet saamry om te kyk dat hy nie moed verloor nie. “Ek dink darem nie hy sal nie, hy bly net vir my sê: 'Ma, ek gaan klaarmaak',” sê Suzette.

Suzette sê Danré klou vas aan die laaste boodskap van Nkosi Johnson wat mense aangespoor het om soveel as moontlik te doen met wat jy het in die tyd en plek waar jy is. “Hy ken dié woorde uit sy kop uit.” Dit is ook deels dan die rede dat Danré en die ander deelnemers van die Tzaneen Fietsryklub besluit het om die fondse wat hulle sal insamel in die helfte te deel. Een helfte sal gaan vir ander Downsindroomlyers en die ander aan ‘n minderjarige meisie van Tzaneen wat albei haar bene in ‘n ongeluk verloor het. “Dis nie net Danré se droom om aan die 94.7 deel te neem nie, maar ook om hierdie meisie te help om weer te kan loop,” het Suzette gesê.

Danré sal op 15 November aan die 94.7 in Johannesburg gaan deel neem. “Ons kan nie wag om jou daar te sien en te gaan ondersteun nie,” was Stanley Thompson van dieSoutpansberg Youth for Cycling Development (SYCD) se groetwoorde aan Danré. 

 

 
 
 

Viewed: 2280

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Danré Eramus kom teen die afdraende van slangpad afgevlieg met Chris Knoessin (links) en Kombo Bere (regs) kort op sy hakke. 

Suzette Erasmus, Danré se ma, het ook kom deel neem. 

Danré Erasmus (middel) kom aan by die eindstreep van die 8 km-pretrit verlede Donderdag terwyl Stanley Thompson (links) hom aanmoedig. 

Danré Erasmus (middel) saam met van die fietsryers en stappers wat hom verlede week help geld insamel het, sodat hy in November aan die 94.7-fietsrykompetisie kan deelneem. 

Danré Erasmus met die geld wat hy ontvang het wat verlede week vir hom deur plaaslike fietsryers ingesamel is. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT