ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dié gesig het Dinsdagoggend lede van die Soutpansberg Muurbalklub begroet. Booswigte het gedurende die aand by die kroeg ingebreek, maar in die proses letterlik met die plafon in die huis geval. Hulle het egter bitter min gesteel in vergelyking met die skade wat aangerig is.

Inbrekers val met “dak in die huis” by muurbalklub

Date: 17 August 2015 By: Andries van Zyl

‘n Nare verrassing het op lede van die Soutpansberg Muurbalklub in Louis Trichardt gewag na die lekker langnaweek.

Die laaste spelers wat Maandag bietjie gaan oefen het, is omstreek 19:00 daar weg. Toe was alles nog in goeie toestand. Dinsdagoggend was dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur.

Een van die klub se werkers het daar aangekom en totale chaos gevind. Sy het dadelik die bestuur ingelig. “Met ons  aankoms het ons gesien iemand het ingebreek, dit was chaos in die klub se kroeg,” vertel komiteelid Ronel Welman.

By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die inbreker(s) via die boom langs die lapa, bo-oor die grasdak geklouter het tot bo-op die sinkdak by die klub se kroeg. Hier het hulle die sinkplate opgelig en toegang verkry. “Hulle het so gly-gly oor die grasdak gegaan en klomp van ons gras afgetrap,” het Welman gesê.

Die inbrekers het egter heel onseremonieel uiteindelik binne die kroeg beland. “Hulle het deur die plafon getuimel. Ongelukkig het hulle nie hul nekke gebreek nie, want dan sou ons hulle daar gekry het,” het ‘n ongelukkige Welman opgemerk. Die skade aan die dak en plafon, asook ander items wat in die slag gebly het met die valslag, beloop duisende rande. “En toe steel hulle net ons radio en drie dosyn bier – duisende rande se skade vir omtrent R1400 se goedere. Die bier is seker nie eers genoeg om op dronk te word nie. Dit is belaglik! Hulle het nie eers ons televisie gesteel nie. Dit het hulle darem vir ons gelos,” het Welman gesê.

Die inbraak is by die polisie aangemeld, maar geen vingerafdrukke kon gevind word nie. “Vandat ons in 2008 hier in die nuwe perseel [in Oranjestraat] ingetrek het, is dit die eerste keer dat ons so iets ervaar. Vroeër vanjaar het hulle wel probeer inbreek, maar hulle kon nie deur die deur kom nie. Toe breek hulle mos langsaan by die gimnastiekklub in,” het Welman gesê. Sy het die hoop uitgespreek dat dit nie die begin is van ‘n tendens van inbrake by die sportsaal nie.

Intussen het die klub tydelik die dak reggemaak om te verhoed dat die perseel “oop” staan. Die bane is egter steeds oop en spel kan normaalweg voortgaan.

 
 
 

Viewed: 250

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die boom langs die grasdaklapa wat die inbrekers in opgeklim het om toegang tot die muurbalklub se dak te kry. Daar kan gesien word hoe hulle gly-gly oor die grasdak geklouter het en in die proses gate in die dak getrap het.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT