ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto

“Onskuldige” verkragter word swaar gestraf

Date: 08 May 2015 By: Isabel Venter

‘n Veroordeelde verkragter is verlede week swaar gestraf in die Louis Trichardt Streekshof.

Calvin Rasikwela Lufuno is twee jaar gelede deur die Makhado Polisie in hegtenis geneem, nadat hy ‘n jong vrou verkrag het tydens die munisipale skou. Die vrou, wat nie geïdentifiseer wil word nie, was 19 gewees tydens die voorval. Sy het getuig dat Lufuno en nog ‘n onbekende man haar naby die skougronde in die bosse inforseer het. Albei mans het haar verkrag, terwyl hulle ‘n mes teen haar keel gedruk het.

Nadat hulle klaar was met hul verfoeilike daad het die mans, volgens die vrou, haar selfoon, tekkies en R150 in kontant by haar gesteel.

Hierna het Lufuno en die tweede man toe glo nog ‘n vrou beroof van haar beursie, selfoon en buskaartjie. Die vrou het kop gehou en ‘n polisievoertuig, wat op patrollie was, voorgekeer om haar en die verkragtingslagoffer te help.

Die polisie kon daarin slaag om Lufuno te arresteer, maar die tweede man het op die vlug geslaan.

Lufuno is sedert sy arrestasie, op 3 Augustus 2013, in aanhouding en is aangekla van een klag van verkragting en twee klagte van roof met verswarende omstandighede. Hy het onskuldig gepleit op al drie die klagte en het ‘n pleitooreenkoms, waarin hy effektief vyf jaar tronkstraf opgelê sou word, van die hand gewys.

Ná sy verhoor is Lufuno op 19 April hierdie jaar skuldig bevind op al die klagte. Hy is verlede week 15 jaar direkte gevangenisstraf opgelê op die klag van verkragting en ses jaar op elkeen van die twee roofklagtes.

Die hof het verder gelas dat Lufuno, omdat hy sy slagoffer beroof het, die een klag van roof se straf samelopend met die vekragtingsklag moet uitdien. Dit beteken dat Lufuno effektief 21 jaar tronk toe gestuur is. 

 

 
 
 

Viewed: 355

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT