ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Hein Oosthuizen (65). Foto verskaf. 

Soutpansberg groet glimlaggende Hein

Date: 10 April 2015 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt het die afgelope week nog een van sy bekende inwoners, mnr. Hein Oosthuizen, aan die dood afgestaan. Hy is gedurende die vroeë oggendure van 31 Maart in die ouderdom van 65 jaar op sy plaas oorlede.

“Die laaste 18 jaar was vir hom baie erg. Hy het erge pyn gehad met wonde wat net nie wou genees nie. Dit was te wyte aan ‘n nagadder wat hom in 1997 aan die been gepik het,” het ‘n hartseer eggenote Hannetjie Dinsdag gesê. Tesame met die kroniese gesondheidsprobleme as gevolg van die slangpik het Hein ook hartprobleme ondervind.

Ten spyte van die pyn het Hein se gesig altyd met ‘n glimlag gestraal en het hy ‘n skerp humorsin gehad. In sy jonger dae was hy ‘n sportman van formaat. In ‘n stadium het hy vir die destydse Transvaal geswem. Hy was ook ‘n baie kranige tennisspeler en ‘n uiters bekwame karateman. In laasgenoemde twee sportsoorte het hy in Tzaneen ook afrigting gegee.

Hein het aanvanklik sy loopbaan in die onderwys begin en was ook verbonde aan die destydse polisiediens. Hierbenewens het hy ook ‘n uiters suksesvolle personeelagentskap in Tzaneen bedryf. Dit het hom in staat gestel om in later jare gestalte te gee aan sy groot liefde in die lewe – die opleiding van wolfhonde. In Tzaneen was hy alombekend as “Wolfhein” in stede van Hein. Dit was ook die naam van sy diereskuiling wat hy vir jare daar bedryf het. “Almal het geweet hoe lief Hein vir honde was. Baie mense het hulle honde by die skuiling kom los en nooit weer kom haal nie, want hulle het geweet Hein sal altyd vir hulle sorg,” het Hannetjie gesê.

In 2002 het Hein en Hannetjie-hulle besluit om wortels los te maak van Tzaneen. Hein het sy plaas Taganashoek (Letsitele) verkoop en saam het die egpaar die plaas Last Hope net buite Louis Trichardt gekoop. Met hul aankoms hier het Hein hom toegespits op sy boerdery met hoofsaaklik beeste en pluimvee, en later ook gewasse. Hannetjie het op haar beurt as onderwyser begin werk by Laerskool Louis Trichardt.

“Ons het wonderlike tye, soms ook moeilike tye, saam gehad. Hy het ‘n ongelooflike sterk persoonlikheid gehad en was baie lief vir sy familie en diere,” onthou Hannetjie haar man.

Hein se gesondheid het ‘n paar weke gelede weer 'n terugslag beleef wat veroorsaak het dat hy sedertdien meestal in die bed was. “Drie dae voor sy dood het hy ons ingeroep en vir ons gesê sy tyd is min. Die laaste paar dae voor sy dood was veral vir ons spesiaal gewees. Dit sal ons altyd bybly. Ek weet hy is nou in ‘n beter plek by die Here – verlos van sy pyn,” het Hannetjie gesê.

‘n Roudiens is Dinsdag vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente vir Hein gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Hannetjie, seuns Hein-Julius en Zein (met skoondogter Lorraine), dogter Anesta (en skoonseun Nico) en kleinkinders Chloe, Emmie, Megan en Tiaan.

“Ons wil graag net vir hierdie hele gemeenskap, almal, baie, baie dankie sê vir al die bystand. Daar is soveel dankies. Ons as familie waardeer dit opreg,” het Hannetjie gesê.

 
 
 

Viewed: 282

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT