ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dr. Philip Arnoldus Venter (58).

Leraar was nie geregistreer nie, getuig deskundige in bedrogsaak

Date: 14 November 2014 By: Isabel Venter

Die kriminele saak teen ‘n leraar van Louis Trichardt is verlede week voortgesit.

In die Staat se saak teen dr. Philip Arnoldus Venter (58) het lt.kol. Bez Bezuidenhout van die Makhado Polisie se wapenafdeling getuig as ‘n deskundige getuie. Venter staan tereg op ‘n klag van bedrog en drie klagte wat verband hou met oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000).

Venter word daarvan verdink dat hy gedurende April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie van mev. Cecile Steyn se vuurwapens. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar is en dat hy die nodige magtiging gehad het om die wapens in besit te neem. Dié wapens het intussen vermis geraak.

Steyn het tydens ‘n vorige hofverskyning getuig dat sy die wapens, twee .22-rewolvers en een 9mm-pistool, aan Venter oorhandig het, omdat sy hom vertrou het om al drie wapens te deaktiveer. Sy het verder getuig dat Venter op 6 Februarie 2010 skriftelik aan haar erken het dat hy nog die wapens in sy besit het.

Tydens verlede week se hofverrigtinge het Bezuidenhout getuig oor sy onderhoud met Steyn. Hy het die saak ondersoek, nadat Steyn op 29 April 2013 amptelik ‘n klag by die polisie ingedien en ook die brief van Venter aan Bezuidenhout oorhandig het. In die brief, wat deur Venter onderteken is, staan daar geskrywe: “Ek het bevoegdheid om in vuurwapens en ammunisie te handel (914). Ek het wapens ook op SAPD vorm 539.”

Bezuidenhout het getuig dat hy die brief ondersoek het, en dat hy aanvanklik 914 as die Makhado Polisie se administratiewe kode herken het. Hy het verder getuig dat hy ‘n soektog gedoen het op die polisie se vuurwapen-databasis om te bepaal of 914 Venter se unieke registrasienommer was. Die stelsel het aangedui dat daar nie ‘n wapenhandelaar gekoppel was aan dié nommer nie.

Rakende die 539-vorm het Bezuidenhout verduidelik dat dit ‘n polisie magtigingspermit is. Volgens wet is dit ‘n permit wat uitgereik word nadat die regmatige eienaar van 'n wapen ‘n aansoekvorm voltooi en geteken het wat aandui dat ‘n tweede party die wapen sal stoor.  

“Die ondergetekende, dr. Philip Venter, was nie ‘n handelaar om in wapens en ammunisie handel te dryf nie. Ek wou myself vergewis of mnr. Venter ‘n handelaar was al dan nie, en ek het ook navraag gedoen op sy identiteitsnommer … want hoe ons stelsel werk is, mens kan ‘n history background check doen om te bepaal watter aansoeke daar gebring is ... in sy [Venter] se lewe, van dag een af,” het Bezuidenhout getuig oor die gevolgtrekking waartoe hy gekom het ná sy ondersoek. “Op sy identiteitsnommer was daar geen aansoeke nie ... daar is wel aansoek gedoen vir ‘n bevoegdheid om handel te dryf in wapens en ammunisie, en dat dit wel op hierdie ID-nommer goedgekeur was.”

Bezuidenhout het verduidelik dat ‘n voornemende wapenhandelaar tweeledig aansoek doen vir registrasie. Venter moes eers ‘n bevoegdheidsertifikaat kry, voordat hy kon oorgaan om aansoek te doen om te registreer as ‘n wapenhandelaar. Bezuidenhout het gesê dat die Vuurwapenwet bepaal dat geen persoon mag handeldryf in wapens met net ‘n bevoegdheidsertifikaat nie, maar slegs as ‘n lisensie uitgereik is.

Bezuidenhout het ook getuig dat daar op Venter se ID-nommer geen aansoeke gebring is in terme van Steyn se drie wapens nie. Verder het hy getuig dat hy ‘n lasbrief verkry het om Venter se wapenkluis te deursoek, wat op 6 Mei 2013 uitgevoer is. “Sy [Venter] se mededeling aan my was dat die wapens nie meer in sy besit was nie, dat ek baie welkom is om sy huis te deursoek, om in sy kluis te kyk, dat die wapens nie meer in sy besit is nie en dat hy dit ‘n hele ruk gelede aan ‘n mnr. Wessels oorhandig het,” het Bezuidenhout getuig. “Hy het verwys na mnr. Tewie Wessels ... wat aan my bekend was ... Venter se mededeling was dat hy die wapens aan Wessels oorhandig het, net voor sy afsterwe, om te deaktiveer.”

Bezuidenhout se getuienis het ooreengestem met me. Zanette Wessels (Tewie se suster) se getuienis dat Tewie reeds ‘n jaar voordat Venter skriftelik sou erken het dat hy nog die wapens in sy besit gehad het, oorlede is. Volgens Bezuidenhout was Wessels ook nie ‘n geregistreerde wapensmid of –handelaar nie, en was nie gemagtig om wapens te deaktiveer nie.

Venter het ook, volgens Bezuidenhout, gesê dat Tewie ‘n storingspermit gehad het om die wapens te mag stoor. “Ek weet nie van ‘n permit wat ek uitgereik het aan mnr. Wessels nie ... volgens die wet het Venter onregmatig die wapens aan Tewie oorhandig, hetsy om te stoor of te deaktiveer.”

Na Bezuidenhout klaar vir die Staat getuig het, is Venter se saak uitgestel tot 14 November om sy advokaat, mnr. Neil Duvenhage, kans te gee om voor te berei vir kruisondervraging. 

 
 
 

Viewed: 290

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT