ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jong sakeman in hof op verskeie klagte van bedrog

Date: 07 November 2014 By: Isabel Venter

‘n Jong sakeman van Louis Trichardt het homself die afgelope week in die beskuldigde bank van die hof bevind op klagte dat hy na bewering talle ondernemings uit duisende rande bedrieg het.

Die 34-jarige Jacques Steyn, voormalige bestuurder van Steyn Staal op die dorp, het vandeesweek vlugtig in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op klagte wat verband hou met bedrog en diefstal by wyse van ‘n wanvoorstelling.  

Hy is meer as ‘n jaar gelede, op 27 November, aangekla. Die klagte is teen hom gebring, omdat hy glo kliënte van Steyn Staal onder ‘n wanindruk gebring het terwyl hy vanaf 2011 tot 2013 daar werksaam was as bestuurder. Steyn word daarvan verdink dat hy sy van misbruik het en kliënte onder die indruk gebring het dat hy die eienaar van Steyn Staal was.

Steyn sou na bewering rekeninge by ondernemings oopmaak, onder die voorwendsel dat hy die alleeneienaar van Steyn Staal is, en produkte vir eie gewin bestel. Hy het ook na bewering kliënte se betalings aan Steyn Staal in sy privaat bankrekening laat inbetaal.  

Steyn is sedert hy krimineel aangekla is, nie meer werksaam by Steyn Staal nie, en het al verskeie kere in die hof verskyn. Sy saak is by ‘n paar geleenthede uitgestel om beide sy prokureur en die Staat geleentheid te gee om verdere ondersoekwerk in die saak af te handel. Dit volg nadat ‘n vertoë, wat Steyn se prokureur in Mei vanjaar gerig het aan die Direkteur van Openbare Vervolging, misluk het.  

Steyn sal weer op 21 November in die hof moet verskyn, nadat sy prokureur op rekord onttrek het van die saak. Die saak is uitgestel tot 21 November om Steyn kans te gee om 'n nuwe prokureur aan te stel. Dan sal 'n verhoordatum vasgestel word.

 
 
 

Viewed: 822

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT