ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hoewel menings oor die geslote baan televisiestelsel van Hoërskool Louis Trichardt verskil, blyk dit dat daar baie voordele is. Hier staan die hoof, mnr. Theo Muller by die skerm waarop gesien kan word wat in die klasse aangaan.

Geen geheime in skool se klaskamers meer

Date: 24 October 2014 By: Linda van der Westhuizen

“Dit perk ons in” en “Dis uitstekend” is die teenstrydige opinies van leerlinge ten opsigte van die geslote baan televisiestelsel waarvolgens die gebeure in elke klas van Hoërskool Louis Trichardt deur middel van kameras vasgelê word.

“Dis uitstekend! Daar is minder kinders wat klasse bunk en daar is meer eerlikheid in die klas,” was Sahl Essa (Graad 10) se flink antwoord toe hy gevra is wat hy van die kameras in die klasse dink.

Daniël Joubert (Graad 9) het ‘n verskil opgemerk sedert die kameras daar is. “Daar is baie meer dissipline in my klas. Die kinders is stiller. Ons kry verbasend meer werk gedoen. Sommige kinders dink weer dis kinderagtig en onnodig,” het Daniël gesê.

‘n Graad 10-leerling, wat anoniem wil bly, het gesê dat die meeste kinders voel dat hulle ingeperk word en dat hulle nie eers meer vinnig ‘n boodskap op hulle selfone kan stuur sonder om uitgevang te word nie. “’n Onderwyser was een keer uit die klas en het later vir elke kind vertel wat hulle gedoen het. Een  seun is gevra of sy broodjies wat hy in die klas geëet het, lekker was. Daar is seker ook voordele aan, want goed wat onderwysers dalk kon misgekyk het, kan nou met die kameras bewys word,” het die leerling gesê.

Die geslote baan televisiestelsel is ‘n projek van die beheerliggaam wat R260 000 gekos het. In die beheerkantoor kan daar gesien word wat in elke klas in die skool gebeur en klank kan bygesit word indien nodig. Daar kan na enige datum teruggegaan word om ‘n voorval te bekyk en te beoordeel. Daar is ook kameras op die terrein.  

Waarnemende hoof mnr. Theo Muller is baie positief oor die stelsel. “Dit werk baie goed. Die dissipline in die klasse het definitief verbeter. Daar is minder ernstige probleme en klagtes met kinders wat hulle wangedra en die klasse is baie rustiger. Die meeste van die personeel is gelukkig daarmee. Dit haal ‘n las van die personeel af en hulle kan op klasgee konsentreer,” het Muller gesê en bygevoeg dat die kinders “wat wil werk” beïndruk is met die stelsel. “Die kinders wat wil werk, waardeer die stelsel, want belhamels wat die klas ontwrig word gouer aangespreek en verwyder. Die kinders wat daarop uit is om ‘droog te maak’ sal seker anders voel,” het Muller gesê.

‘n Groot voordeel van die stelsel is die waarde daarvan in diefstalsake en ‘n paar sulke sake is al opgelos in die sowat drie maande wat die stelsel in werking is. Daar word ook vinniger by dissiplinêre verhore uitgekom en dit word gouer afgehandel.

Die skool het ‘n koördineerder aangestel om aspekte rondom dissipline te hanteer en al die administratiewe take rondom die dissiplinêre verhore uit te voer. ‘n Afgetrede onderwysman, mnr. Eddie Luies met 17 jaar ervaring as waarnemende hoof of adjunkhoof, voer hierdie taak uit. Buiten die monitering van wat in die klasse aangaan, beweeg Luies ook op die skoolterrein rond en ondersteun die personeel waar daar probleme is. Luies sê dat dit regtig uitstekend werk en dat baie onderwysers van die geleentheid gebruik maak om sy hulp in te roep of voorvalle aan te meld.

Hoe voel die onderwysers? Mnr. Johan Minnie sê dat klagtes met afskryf tydens toetse nou makliker ondersoek kan word. “Die kinders is so bang vir Wiskunde dat hulle nie dissiplinêre probleme gee nie. Dit was voordelig toe ek een keer uit die klas moes wees en ek kon hulle dophou,” het me. Edith Botha gesê. “Dit werk! Die kinders is meer versigtig en dit hou almal op hulle tone,” was die slotsom waartoe me. Sarita Botha gekom het.

 
 
 

Viewed: 252

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT