ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

NTT Vikings en Academy sien mekaar in finaal van T20-liga

Date: 18 August 2023 By: Andries van Zyl

Ná die beplande semi-finale wedstryde in die Louis Trichardt Krieketklub se huidige T20-liga op 5 en 6 Augustus uitgereën het, het die vier spanne in dié ronde die afgelope naweek teen mekaar te staan gekom op die Louis Trichardt Ovaal.

In die eerste semi-finaal van die naweek het die NTT Vikings Saterdag, 12 Augustus, teen Limpopo Melkery te staan gekom. Limpopo het eerste gekolf en 148 lopies vir die verlies van sewe paaltjies (148/7) bymekaar geskraap in hulle 20 beurte. Die Vikings-boulers het beslis ‘n sug van verligting geslaak toe Limpopo se openingskolwer en gevaarman, Leon Olwage, redelik goedkoop uitgehaal is met sy telling op 11 lopies. Hy is been voor paaltjie betrap ná net agt balle. In sy laaste drie wedstryde het Olwage onderskeidelik 145 (nie uit nie), 81 en 198 (nie uit nie) lopies aangeteken om telkens sy span na ‘n oorwinning te stuur.

Buiten vir Olwage kon slegs drie ander Limpopo-kolwers dubbelsyfers aanteken, naamlik Amir Bux (26), Juan-Michael Philips (19) en Nimesh Watekar (47). Vir die NTT Vikings het Bielie van den Berg die meeste sukses behaal met die bal en drie paaltjie vir die verlies van 18 lopies in sy vier beurte (3/18/4) geneem, terwyl spanmaats Morné Olwage, AC Geldenhuys, Gysbert Guillaume en Zander Volgraaff elk een paaltjie laat kantel het.

Die NTT Vikings het vanaf die eerste bal in hul kolfbeurt gewys dat hulle daar was om te wen. Openingskolwer Gysbert Guillaume het ‘n goeie fondasie gelê van 90 lopies vanaf 45 balle en is aan die ander kant ondersteun deur Johan Breytenbach, wat 23 lopies kon slaan. AC Geldenhuys het ook dubbelsyfers bygedra (15 lopies) om die Vikings na 150/3 te neem ná slegs 14.1 beurte, wat aan hulle ‘n gemaklike sewe-paaltjie oorwinning besorg het.

Wat Limpopo se boulwerk betref, het die boulers maar swaar gekry. Amir Bux het die beste gevaar en 2/39/4 geneem, terwyl Leon Olwage 1/29/4 ingeoes het.

In die tweede wedstryd van die naweek het Louis Trichardt Academy Sondag teen die Strikers te staan gekom.

Academy het ingegaan om eerste te kolf en ná ‘n aanvanklike stadige begin deur hul openingskolwers kon hulle daarin slaag om 150/7 in hulle toegelate 20 beurte aan te teken. Dubbelsyferbydraes het gekom vanaf kolwers Parth Patel (10), Pretesh Patel (10), Viral Patel (52), Jai Patel (16) en Mehul Patel (18).

Vir die Strikers was Riaan Gerber die mees ekonomiese bouler en het 2/23/4 geneem. Paulo Piorek het 2/43/4 geneem, terwyl Christo Boshoff, Fahan Khoja en Ettienne van Heerden elk een paaltjie platgetrek het.

Die Strikers het dapper weggespring om die teiken te jaag, met openingskolwer Jeremy Rademeyer wat 46 lopies aangeteken het en Gerhard Dreyer 18 lopies. Ná hulle vertrek het die kolfbeurt egter ietwat inmekaar getuimel, met sleg Riaan Hamman wat dubbelsyfers (13 lopies) kon aanteken. Hulle eindtelling van 142/8 in hulle 20 beurte het aan Academy ‘n agt-lopie oorwinning besorg.

Vir Academy het Vimal Shah uitgestaan as bouler en hy het 3/17/4, Mehul Patel het 3/20/4 en Pretesh Patel 2/29/4 geneem.

Die afgelope naweek se wedstryde het die tafel gedek vir ‘n opwindende finaal eerskomende Saterdag, 19 Augustus, tussen die NTT Vikings en Louis Trichardt Academy. Die wedstryd slaan om 14:00 af. Toeskouers is welkom en ‘n kontantkroeg sal beskikbaar wees.

 

 
 
 

Viewed: 1337

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT