ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Limpopo en Strikers kraai koning in volgende ronde wedstryde

Date: 06 July 2023 By: Andries van Zyl

In die volgende ronde wedstryde van die Louis Trichardt Krieketklub se tweede T20-liga van die jaar het Limpopo Dairy op Saterdag, 1 Julie, met die NTT Vikings afgereken, waarna die Strikers op Sondag, 2 Julie, die Warriors geklop het.

Die NTT Vikings het in hul wedstryd eerste ingegaan om te kolf, met openingskolwers Craig Viljoen en Leon Furstenburg wat ‘n goeie fondasie gelê het met onderskeidelik bydraes van 60 en 54 lopies. Warno Smit, in op nommer drie, het daarna ‘n vinnige 21 lopies (wat drie sesse ingesluit het) aangeteken, waarna slegs Christo Gerber (14 nie uit nie) dubbelsyfers kon behaal. Tog het die Vikings ‘n skaflike telling van 165 lopies behaal vir die verlies van net vier paaltjies (165/4) in hulle toegelate 20 beurte.

Vir Limpopo het Joubert Fourie twee paaltjies vir die verlies van 22 lopies geneem in drie beurte (2/22/3), terwyl Leon Olwage en TE Smit beide met boulsyfers van 1/35/4 geëindig het.

Die NTT Vikings het vroeg in die wedstryd oorwinning gesmaak, met drie van die melkboere se paaltjies plat vir slegs 40 lopies in 5.4 beurte. Dit het ingesluit dubbelsyferbydraes van openingskolwer Leon Olwage (11) en Nimesh Watekar (23), in op nommer drie. Hierdie was egter die laaste paaltjies wat die Vikings kon inpalm, met Juan-Micheal Phillips en TE Smit wat daarna ingekom het om te kolf. Phillips het ‘n haastige 63 lopies (nie uit nie) vanaf slegs 38 balle geslaan (wat ingesluit het ses viere en drie sesse), terwyl Smit 55 lopies (nie uit nie), ook vanaf 38 balle gemoker het (wat ingesluit het ses viere en twee sesse) om Limpopo se telling na 166/3 te neem in 18.1 beurte. Limpopo het dus ‘n sewe-paaltjie oorwinning behaal.

In die tweede wedstryd van die naweek het die Strikers eerste ingegaan om te kolf teen die Warriors. Danksy dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Gerhard Dreyer (26), Hanco Kok (16), Christo Boshoff (51), Riaan Gerber (12) en Ettienne van Heerden (16 nie uit nie), het die Strikers hulle kolfbeurt afgesluit op ‘n telling van 169/7.

Vir die Warriors het boulers Jacques Burger 2/36/4 en Frans Lottering 2/34/3 geneem, terwyl Ashfak Natha, Nico van der Westhuizen en Brandon Bouwer onderskeidelik boulsyfers van 1/28/4, 1/15/2 en 1/32/4 behaal het.

Vir die Warriors het openingskolwer Jacques Burger dapper vir sy 40 lopies vanaf 55 balle geveg, maar aan die ander kant van die kolfblad het sy medekolwers maar gesukkel, met paaltjies wat met reëlmaat geval het. Ten spyte van dubbelsyferbydraes laer af op die kolflys deur Brandon Bouwer (16 lopies), Albert du Plessis (40 nie uit nie) en Ashfak Natha (14 lopies), kon die Warriors slegs 147 lopies vir die verlies van ses paaltjies bymekaarmaak, wat aan die Strikers ‘n 22-lopie oorwinning besorg het.

Vir die Strikers het boulers Riaan Gerber 2/24/4 en Paulo Piorek 2/23/3 geneem, terwyl WJ Phillipson en Christi Boshoff onderskeidelik geëindig het op boulsyfers van 1/24/3 en 1/34/4.

Die volgende ronde wedstryde in die liga word eerskomende naweek op die Louis Trichardt Ovaal beslis. Saterdag, 8 Julie, om 14:00 stap LTT Academy teen Limpopo Dairy uit, waarna die NTT Vikings en die Strikers om 12:00 op Sondag, 9 Julie, teen mekaar te staan sal kom. Toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 955

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT