ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Academy mors met NTT Vikings

Date: 29 June 2023 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt Academy het behoorlik vir die NTT Vikings ‘n krieketles gegee op Saterdag, 24 Junie, tydens hulle wedstryd op die Louis Trichardt Ovaal as deel van die Louis Trichardt Krieketklub se tweede 20-beurt liga van die jaar.

Academy ingegaan om eerste te kolf, met gasspeler en openingskolwer Ikram Patel wat ‘n skitterende 179 lopies (nie uit nie) vanaf slegs 70 balle gemoker het. Sy kolfbeurt het ingesluit 17 viere en 13 sesse. In die oorkantste kolfkampie het slegs Nimesh Witaker en Parth Patel dubbel-syfers aangeteken teen ‘n lopie ‘n bal, met onderskeidelik 10 en 32 lopies. Ikram se kolfbeurt het egter Academy se telling geneem na 237 vir die verlies van slegs vier paaltjies in hulle toegelate 20 beurte.

Met ‘n kolwer soos Ikram voor die paaltjies het die Vikings se boulers bietjie pakslae gekry. Morné Olwage het egter uitgestaan deur een paaltjie te laat kantel vir sleg 14 lopies in sy vier beurte (1/14/4). Leon Furstenburg het 2/38/4 en Gysbert Guillaume 1/54/4 geneem.

Die NTT Vikings het dapper probeer om die telling te jaag, met vyf van die span se kolwers wat dubbelsyfers aangeteken het. Gysbert Guillaume het 35 lopies geslaan, Craig Viljoen 37, Leon Furstenburg 16, Morné Olwage ook met 16 en Louis van Jaarsveld 10 lopies. Die span se laaste paaltjie het egter in die 17de boulbeurt geval met hul telling op 139 lopies, wat aan Academy ‘n 98-lopie oorwinning besorg het.

Buiten vir sy skitterende kolfbeurt kon Ikram ook as bouler met boulsyfers van 2/10/3 spog. Spanmaats Shahir Patel en Hussain Patel het onderskeidelik 2/2/2 en 2/8/2 geneem, terwyl Parth Patel, Abid Patel, Mehul Patel en Rehan Patel elk een paaltjie laat kantel het.

Sondag, 25 Junie, was Academy weer op die veld toe hulle teen die Strikers te staan gekom het, maar vir hulle sou daar nie ‘n herhaling wees van die vorige dag se oorwinning nie. Hulle moes klaarkom sonder gasspeler Ikram se hulp en die span se kolwers het hard geveg tot ‘n telling van 146 lopies vir die verlies van vyf paaltjies in hulle 20 beurte. Dubbelsyfer bydraes met die kolf is gelewer deur Shahir Patel (18), Parth Patel (31), Jaymin Patel (14), Viral Patel (47) en Mehul Patel (11).

Vir die Strikers het Riaan Gerber, Christo Boshoff en Mohammed Langdi elk een paaltjie geneem, met twee van Academy se spelers wat hulself uitgehardloop het.

Vir die Strikers-kolwers was die wedstryd ook nie ‘n maklike een nie. Ses van hulle kon daarin slaag om dubbelsyfers aan te teken. Dirk van den Berg het 34 lopies aangeteken, Gerhard Dreyer 21, Christo Boshoff 11, Riaan Gerber 15, Mohammed Langdi 16 (nie uit nie) en Shane Nkuna 12 (nie uit nie). Dit was egter goed genoeg om aan die Strikers ‘n twee-paaltjie oorwinning te besorg, met die wenlopies wat in 19,3 beurte aangeteken is van 149 vir die verlies van agt paaltjies.

Vir Academy het Pritesh Patel die meeste skade aangerig, met boulsyfers van 5/25/4. Ook twee van Strikers se kolwers het hulself uitgehardloop, terwyl Shahir Patel een paaltjie gevat het.

In die tweede wedstryd wat Sondag beslis is, het Limpopo Melkery teen die Warriors te staan gekom. Limpopo het ingegaan om eerste te kolf en ‘n allemintige telling van 254 lopies vir die verlies van vier paaltjie daargestel. Dubbelsyfer bydraes vanaf die kolf van Leon Olwage (53), AJ Fourie (41), Brendan Bruce (18) en ‘n skitterende 101 lopies (nie uit nie) van Juan-Micheal Phillips het hiervoor gesorg.

Vir die Warriors het Frans Lottering 2/21/3 en Johan Jacobs een paaltjie ingeoes.

Die Warriors het dapper geveg, maar hulle kolwers kon die span se telling net bring tot op 169 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hulle kolfbeurt, wat aan Limpopo ‘n 85-lopie oorwinning besorg het. Die kolwers wat dubbelsyfers aangeteken het, was Jacques Burger (17), Hussain Diwan (60), Suffiyan Dala (11) en Brendon Bouwer (20).

Vir Limpopo het AJ Fourie 2/20/2, Leon Olwage 2/43/4 en Brendan Bruce, Naweed Jolly en Joubert Fourie elk een paaltjie geneem.

Eerskomende Saterdag, 1 Julie, kom Limpopo om 14:00 te staan teen die NTT Vikings op die Louis Trichardt Ovaal, waarna die Strikers en Warriors mekaar op Sondag, 2 Julie, om 12:00 sal aanvat. Toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 1057

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT