ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

NTT Vikings veg terug vir 60-lopie oorwinning oor Warriors

Date: 22 June 2023 By: Andries van Zyl

Slegs een wedstryd is die afgelope naweek beslis in die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde 20-beurt wedstryde, met die NTT Vikings en die Warriors wat Saterdag, 17 Junie, mekaar die stryd aangesê het op die Louis Trichardt Ovaal.

Die NTT Vikings het eerste ingegaan om te kolf, maar hulle kolfbeurt het maar stadig begin, met openingskolwer Gysbert Guillaume wat vir ‘n nulletjie uitgehaal is en Craig Viljoen wat ook terug was in die pawiljoen met slegs ses lopies agter sy naam. Leon Furstenburg, in op nommer drie, het geveg teen ‘n lopie ‘n bal, totdat hy vir 13 lopies uitgehaal is. Met Morné Olwage (in op nommer vier)  wat ook moes terugstap kleedkamer toe met net een lopie agter sy naam, het die Warriors sekerlik gedink die wedstryd sou ‘n kort een wees.

Die krieketgode het ander planne gehad. Kobus Barkhuizen (junior) het ingekom om 30 lopies aan te teken, met Christo Gerber wat 57 lopies (nie uit nie) geslaan en Waldo van Deemter wat 27 lopies (nie uit nie) bygedra het om die NTT Vikings te neem na ‘n telling van 143 vir die verlies van vyf paaltjies in hulle kolfbeurt.

Vir die Warriors het bouler Brendon Bouwer uitgestaan. Hy het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van 13 lopies in sy vier beurte (2/13/4). Frans Lottering kon ook spog met twee paaltjies, met boulsyfers van 2/18/3. Suffiyan Dala kon een paaltjie inoes.

Met ‘n relatiewe lae telling om te jaag was die wedstryd met die aanvang van die Warriors se kolfbeurt nog enige iemand s’n. Maar die NTT Vikings se boulers het vinnig ‘n stokkie gesteek voor enige pogings om die telling te jaag. Slegs drie kolwers, naamlik Hussain Diwan (19 lopies), Suffiyan Dala (26 lopies) en Stephan Jacobs (12 lopies), kon dubbelsyfers met die kolf aanteken, en met net 83 lopies op die telbord ná 15,2 beurte was al die Warriors se kolwers terug in die paviljoen, wat aan die NTT Vikings ‘n 60-lopie oorwinning besorg het.

Die NTT Vikings se top boulers was Craig Viljoen, wat 3/30/4 geneem en Gysbert Guillaume wat 3/9/2 geneem het. Morné Olwage, Bielie van den Berg, Louis van Jaarsveld en Marius Meintjies het elk een paaltjie gevat.

Eerskomende naweek is drie wedstryde op die spyskaart in die liga. Saterdag, 24 Junie, stap die NTT Vikings om 12:00 uit teen LTT Academy. Sondag, 25 Junie, kom die Strikers om 10:00 te staan teen LTT Academy, waarna Limpopo Melkery en die Warriors se wedstryd om 14:00 begin. Al die wedstryde word op die Louis Trichardt Ovaal beslis en toeskouers is welkom. Eet en drinkgoed sal te koop wees.

 

 
 
 

Viewed: 896

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT