ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se eerstespan, afgeneem kort ná hulle 61-0 oorwinning oor Kruinies se eerstes die afgelope naweek op Louis Trichardt. Foto verskaf.

Louis Trichardt se rugbymanne vuurwarm hierdie winter

Date: 15 June 2023 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se rugbymanne is vuurwarm hierdie winter, met die dorp se eerste- en tweedespan wat Saterdag weer oortuigend op hulle tuisveld gewen het met wegholoorwinnings teen hulle opponente van die Kruinies Rugbyklub van Polokwane. Kruinies kon nie ‘n enkele punt teen Louis Trichardt aanteken nie.

Louis Trichardt se tweedespan het Kruinies 69-0 vermorsel in die eerste kragmeting van die dag, ná ‘n eerste helfte telling van 26-0. Die span se puntemakers was Dylan Hugo en Walter Pretorius, wat elk twee drieë gedruk het, terwyl Rickus Nel, Armand Stander, Hanga Murembiwa, Taylor du Plessis en Ruan Ackerman elkeen een keer agter die doellyn gaan kuier het. Brandon Ramatsoma en Julius Kemp het op hulle beurt nog punte met die skopskoen aangeteken. Rickus is ook aangewys as Speler van die Wedstryd.

Soortgelyk het die eerstespan se wedstryd ‘n fees van drieë opgelewer vir Louis Trichardt en hulle het Kruinies 61-0 oorrompel. Die halftydtelling was 28-0. Hier was Louis Trichardt se puntemakers Rulke Pieterse en Ruan Scheepers, wat elk twee drieë gaan druk het, met Rickus Nel, Duncan Moodie, Rasenge Kubayi, Martin Theunissen en Louis Fourie wat elk een drie gedruk het. Louis het ook met die skopskoen bygedra. In hierdie wedstryd is Solly Mukhuthu as Speler van die Wedstryd aangewys.

Louis Trichardt het behoorlik vanjaar hulle stempel afgedruk in die provinsiale liga. Tans beklee al drie die dorp se spanne eerste plekke op die provinsiale punteleer. Eerskomende naweek is ‘n af naweek vir die spelers, waarna Louis Trichardt op 24 Junie wegwedstryde teen Letaba sal gaan speel. Die laaste wedstryde vir Louis Trichardt voor die semi-finale ronde is wanneer hulle op 1 Julie teen Noordelikes in Polokwane te staan sal kom. Louis Trichardt blyk in hierdie stadium die gunstelinge in die liga te wees. Op 20 Mei vanjaar het hulle vriend en vyand geskok toe die dorp se eerste-, tweede- en derdespanne onderskeidelik 86-0, 73-7 en 38-7 met Noordelikes afgereken het.

Volgens Brian du Plooy, voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, is die kanse goed dat Louis Trichardt vanjaar kan optree as gasheer van beide die semi-finale en finale ronde van die provinsiale liga. Bygesê, as hulle nie droogmaak in hulle laaste twee wedstryde nie. Louis Trichardt is egter in vorm, met die dorp se eerste- en tweedespan wat verlede naweek (3 Junie) onderskeidelik 51-12 en 17-12 met Potties afgereken het.

 

 
 
 

Viewed: 1548

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Solly Mukhuthu (links) van die Louis Trichardt Rugbyklub se eerstespan is Saterdag (10 Junie) aangewys as die Speler van die Wedstryd tydens die klub se kragmeting teen Kruinies. Saam met hom staan die voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, Brian du Plooy. Foto verskaf.

In die wedstryd tussen Louis Trichardt en Kruinies se tweedespanne op 10 Junie wat dit Rickus Nel (links) wat as Speler van die Wedstryd aangewys is. Saam met hom staan sy span se afrigter, Lukas Visser. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT