ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die algehele wenner van vanjaar se Hanglip 54 met individuele Stableford tellings van 38, 36 en 33 vir ‘n totaal van 107 punte oor die drie dae was Johan Coetzer (links) van Germiston. Saam met hom staan die klubkaptein van die Soutpansberg Gholfklub, Marius Mostert.

Besoeker stap weer weg met Hanglip 54-trofee

Date: 15 July 2022 By: Andries van Zyl

Die gewilde Hanglip 54-gholftoernooi het vanjaar weer ‘n vol veld van 128 spelers gelok, waarvan 57 besoekers was van klubs vanoor die hele land. Dit het ingesluit spelers van so ver as St. Francis, Germiston, George, Harrismith en natuurlik ook die bekende Klerksdorp-groep.

Die Soutpansberg Gholfklub het weer as gasheer van die toernooi opgetree, wat vanaf 7 tot 9 Julie vir die 29ste keer aangebied is. Soos gewoonlik is die toernooi afgeskop met die hou van ‘n “perdeveiling” (6 Julie) waar die “perde” (spelers) opgeveil is. “Dit was ‘n groot sukses en was uitstekend ondersteun,’ het klubkaptein Marius Mostert gesê.

Die Hanglip 54-toernooi word oor drie dae in twee formate beslis. Daagliks vind ‘n beterbal kompetisie plaas, met die algehele wenner van die toernooi wat op grond van sy totale individuele Stableford-punte oor die drie dae aangewys word.

Die eerste dag se spel is gewen deur Johan Badenhorst en Edwan Booyens van Orkney met 45 beterbal punte. Roelof Burger en Eben Moller van Soutpansberg was tweede ná ‘n uittel met 43 punte, met Flippie Greyling en Dion Svoboda (Soutpansberg) derde, ook met 43 punte.

Dag twee se spel is gewen deur Barry Louw en Danny du Plessis van Witrivier met 43 beterbal punte. Anrich Leeb en Stephan Otto van Soutpansberg was ná ‘n uittel tweede met 42 punte, met Bandish Patel en Kayer Premjee (Soutpansberg) derde, ook met 42 punte.

Die laaste dag se spel is gewen deur Dave Dreyer en William de Klerk van Soutpansberg met 48 beterbal punte. Broers Anton Pretorius (Soutpansberg) en Norman Pretorius (St. Francis) was ná ‘n uittel tweede met 45 punte, en Chris Gerber en Keegan Mocke (Soutpansberg) derde, ook met 45 punte.

Die algehele wenner van vanjaar se Hanglip 54 met individuele Stableford tellings van 38, 36 en 33 vir ‘n totaal van 107 punte oor die drie dae was egter Johan Coetzer van Germiston, en vir die tweede agtereenvolgende jaar lig ‘n besoeker die gesogte Hanglip 54-trofee omhoog. Alhoewel verlede jaar se wenner, Johan van Wyk van Harrismith, daar was om sy titel te verdedig, kon hy vanjaar net 87 punte oor die drie dae bymekaar skraap vir ‘n algehele 52ste plek. Tweede op die podium was Soutpansberg se Dumisani Nzimande, met ‘n telling van 106 punte en in die derde plek, beide met 104 punte, was Anrich Leeb (Soutpansberg) en Terreblanche de Swart (Musina).

Die Soutpansberg Gholfklub het ná afloop van die toernooi hulle opregte dank uitgespreek teenoor al die borge wat vanjaar se Hanglip 54 moontlik gemaak het. Die borge het ingesluit Trellidor, Chill Temp, NTT Isuzu, Specialised Oil, Coastal/Khumo Plant, LTA (Limpopo Tourism Agency), Midas, Soutpansberg Koelkamers, Alliance Fuel, Smith & Kie Makelaars, Woodmead Pro Shop, Johan Breytenbach, GHV Bemarking, Wikus Botes (Newco Meat Shayandima), Alluminium Warehouse, EXT en Telkom vir gratis WiFi by die klubhuis.

“Ons wil ook aan die komitee en personeel van die Soutpansberg Gholfklub baie dankie sê vir hul harde werk. Die ‘Greenkeeper’ moet ook genoem word wat die baan in so ‘n top kondisie te gekry het,” het Mostert gesê. Hy het bygevoeg dat die klub reeds begin het met beplanning van die 30ste Hanglip 54 om die toernooi nog groter en beter te maak. “As daar iemand uitgelaat is, vra ons om verskoning aangesien baie ‘n bydrae gemaak het, hoe klein ook al,” het Mostert gesê.

 
 
 

Viewed: 1401

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT