ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Dorp se eerste krieketspan struikel teen Phalaborwa

Date: 17 March 2022 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste krieketspan moes die afgelope naweek, ten spyte van ‘n tuisveld voordeel, die knie buig voor hulle opponente van Phalaborwa in die volgende ronde wedstryde van die provinsiale Impala Premierliga.

Louis Trichardt het die loot gewen en besluit om eerste te gaan kolf. Buiten vir openingskolwer A. Bux, in op nommer twee, wat deurlopend probeer walgooi het, het Louis Trichardt se kolwers maar almal gesukkel. Bux teken 70 lopies vanaf 134 balle aan, terwyl AJ Fourie hard moes werk vir sy 16 lopies vanaf 36 balle en D. Van den Berg vir sy 18 lopies vanaf 42 balle. Buiten hierdie drie kolwers kon geen van Louis Trichardt se ander kolwers dubbelsyfers aanteken nie en is Louis Trichardt in die 27ste beurt uitgeboul vir 127 lopies.

Phalaborwa se manne het redelik gedissiplineerd geboul en slegs 12 ekstras in hulle boulbeurt afgestaan. Drie boulers het elk drie paaltjies geneem, naamlik S. Malatsi, P. Ngobeni en S. Sihlangu. Laasgenoemde was die mees ekonomiese bouler met ‘n boulontleding van drie paaltjies vir die verlies van 15 lopies in 2.5 beurte.

Phalaborwa se kolwers het voortgebou op hulle boulers se goeie vertoning en van meet af aan die teiken gejaag, met die eerste drie kolwers wat almal dubbelsyfers aanteken. Hulle was kaptein S. Ngobeni (11), I. Mathebula (10) en nog ‘n speler met die naam S. Ngobeni (18). H. Ngobeni (nie uit nie), in op nommer 5, het 52 lopies aangeteken, en alhoewel ‘n paar paaltjies redelik goedkoop om hom geval het, het Phalaborwa die teiken in die 25ste beurt verbygesteek met ‘n telling van 131/7, wat aan hulle ‘n drie-paaltjie oorwinning besorg het. P. Ngobeni (nie uit nie) het ook dubbelsyfers met die kolf aangeteken met 10 lopies.

Vir Louis Trichardt was AJ Fourie die beste bouler met drie paaltjies vir die verlies van 48 lopies in nege beurte. L. Olwage het twee vir 17 in vyf beurte geneem.

Eerskomende naweek sal Louis Trichardt se eerstes op Hoërskool Tom Naudé se krieketveld te staan kom teen die Aces-span.

  

 

 
 
 

Viewed: 1550

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT