ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dewald Joubert (middel) ontvang sy Speler van die Wedstryd-toekenning ná afloop van die Limpopo Impalas se wedstryd teen KwaZulu-Natal (kusgebied), waar Dewald vyf paaltjies vir die verlies van 25 lopies in vier beurte platgetrek het. Hy het ook die Speler van die Wedstryd-toekenning ontvang in Limpopo se wedstryd teen Mpumalanga, waar hy vyf paaltjies vir die verlies van slegs vyf lopies in vier beurte ingepalm het. Foto verskaf.

Joubert deel van 15-man oefengroep vir SA Plattelandspan

Date: 25 February 2022 By: Andries van Zyl

Plaaslike kriekettalent Dewald Joubert het vir homself ‘n plek in die 15-man oefengroep van die Suid-Afrikaanse Plattelandspan los gespeel ná ‘n skitterende boulvertoning tydens Krieket Suid-Afrika se binnelandse krieketweek vir plattelandse spanne wat vanaf 17 tot 21 Februarie in Polokwane beslis is.

Dewald, ‘n lid van die Louis Trichardt Krieketklub, waar hy vir die eerstespan uitstap, het Limpopo se Impala-span tydens die toernooi verteenwoordig. Buiten Limpopo was die ander deelnemende provinsies Sentraal Gauteng, Vrystaat, KwaZulu-Natal ZN (kusgebied), KwaZulu-Natal (binneland), Mpumalanga, Noordkaap en Noordwes. Die week het ten doel om plattelandse spelers die kans te gee om hulle vaardighede te meet teen van die land se top krieketspelers tydens beide 50- en 20-beurt wedstryde.

Dewald, wat ewe veelsydig is met die kolf en bal as draaibalbouler, het die keurders se oog gevang met sy boulvertoning in die 20-beurt wedstryde. In Limpopo se wedstryd teen Mpumalanga het Dewald vyf paaltjies platgetrek vir die verlies van slegs vyf lopies in vier beurte. Hiervoor het hy het die Speler van die Wedstryd-toekenning ontvang. Dewald het ook die Speler van die Wedstryd-toekenning in Limpopo se wedstryd teen KwaZulu-Natal (kusgebied) ontvang, met ‘n boulontleding van vyf paaltjies vir die verlies van 25 lopies in vier beurte, terwyl hy drie paaltjies vir die verlies van 18 lopies in vier beurte ingepalm in die span se wedstryd teen die Vrystaat. Wat sy kolfwerk betref, het Dewald gesê, het hy maar gesukkel om lopies te kry. Hy was wel die topkolwer vir Limpopo in hul 50-beurt wedstryd teen KwaZulu-Natal (binneland) met 28 lopies.

Dat krieket in Dewald se bloed is, is gewis. Hy het drie jaar lank in Engeland krieket gespeel en agt jaar lank krieket op plaaslike provinsiale vlak. Op ‘n vraag of hy enige aspirasies het om ‘n professionele loopbaan in krieket te volg, het Dewald gesê hy is tans nie seker daaroor nie. “Ons sal sien wat die toekoms inhou,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Plattelandspan se oefenkamp vind in September vanjaar plaas.

 

 
 
 

Viewed: 1769

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT