ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Twee wenne vir Limpopo Melkery ná 20-beurt liga hervat

Date: 25 February 2022 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub het die afgelope naweek hulle plaaslike 20-beurt liga hervat, met twee wedstryde wat onderskeidelik Saterdag en Sondag op die klub se veld beslis is.

Saterdag het Limpopo Melkery te staan gekom teen die Strikers. Limpopo het eerste ingegaan om te kolf en ‘n skaflike 208 lopies vir die verlies van sleg vyf paaltjies in hulle 20 beurte aangeteken. Dit was danksy dubbel-syfer bydraes met die kolf deur Jaun-Michael Phillips (wat slegs 40 balle nodig gehad het vir sy 81 lopies, wat ingesluit het 10 viere en vier sesse), Amir Bux Saif (46), AJ Fourie (32) en Salman Patel (19). Vir die Strikers het JP Coetzee die meeste sukses met die bal gehad en drie paaltjies geneem vir die verlies van 35 lopies in sy vier beurte. Paulo Piorek en JP van Niekerk het elk een paaltjie platgetrek.

Buiten vir Strikers se openingskolwer, Zeehan Yelukar, wat 77 lopies op die telbord geplaas het, kon geen van Strikers se ander kolwers op dreef kom nie. Die enigste ander kolwer wat dubbelsyfers kon aanteken was JP Coetzee (18). Die span kon slegs 122 lopies vir die verlies van nege paaltjies in hul beurt op die telbord plaas, wat aan Limpopo ‘n 86 lopie oorwinning besorg het. Drie van Strikers se kolwers is uitgehardloop, terwyl Limpopo se Leon Olwage en TE Smit elk twee paaltjies gevat het. TJ van Eeden en Salman Patel het elk een paaltjie laat kantel.

Limpopo se spelers het maar min rus gehad voordat hulle Sondag te staan gekom het teen die NTT Vikings span. Weer het Limpopo eerste gaan kolf en weer was Jaun-Michael Philips in verwoestende vorm. Hierdie keer het hy 78 lopies van 37 balle af gemoker, wat ingesluit het vier viere en sewe sesse. Dubbel-syfer bydraes is ook met die kolf gelewer deur Amir Bux Saif (46), Leon Olwage (27), AJ Fourie (16), Salman Patel (13) en Nimesh Watekar (11). Limpopo kon daarin slaag om 211 lopies, weereens net vir die verlies van vyf paaltjies, in hul kolfbeurt op te stapel.

Die NTT Vikings het meer sukses in hul kolfbeurt teen Limpopo gehad, met dubbel-syfer bydraes deur Zander Volgraaff (52), Morné Olwage (28), Warno Smit (18), Ruan van Tonder (14) en Waldo van Deemter (11). Hulle het egter uit kolwers geraak met die laaste paaltjie wat op 142 lopies in die 19de boulbeurt geval het. Dit het aan Limpopo ‘n 69 lopie oorwinning besorg. Vir Limpopo het Salman Patel, Amir Bux Saif en Daniel Coetzee elk twee paaltjies geneem, terwyl Leon Olwage, Joubert Fourie en TE Smit elk een paaltjie geneem het.

Eerskomende Saterdag, 26 Februarie, kom die NTT Vikings teen Strikers te staan om 14:00. Toeskouers is welkom, maar geen koelhouers sal toegelaat word nie. ‘n Kontantkroeg sal beskikbaar wees. Sondag hervat die provinsiale Impala Premiersliga, met Louis Trichardt se eerstespan wat in Tzaneen te staan sal kom teen die Hornbills.  

 

 

 
 
 

Viewed: 1618

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT