ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die viermanskap van Louis Trichardt wat aan vanjaar se 10de Bull Run by Vanwyksvlei gaan deelneem het. Van links na regs is Maarten Venter, Tinus Pretorius, Rampie Gilfillan en Anton Pretorius. Foto verskaf. 

Bull Run is drie dae van vet pret!

Date: 22 October 2021 By: Andries van Zyl

Die jaarlikse Weg Ry & Sleep Bull Run is vanaf 7 tot 9 Oktober vir die tiende agtereenvolgende keer by Vanwyksvlei in die Noordkaap aangebied, met ‘n paar jong plaaslike sakemanne wat vanjaar besluit het hulle wil gaan kyk wat daar aangaan. Ná die tyd is hulle dit eens dat hulle dit beslis volgende jaar weer gaan doen.

Louis Trichardt sakeman Rampie Gilfillan het vertel dat die Bull Run sy ontstaan te danke het aan die BBC se Top Gear Botswana Special van 2007, waar Jeremy Clarkson, Richard Hammond en James May elk ‘n voertuig moes koop vir minder as £1 500 waarmee hulle deur Botswana moes toer. Dit het onder meer ‘n gedeelte ingesluit waar hulle die massiewe soutpanne in Botswana moes oorsteek.

“ ‘n Paar pelle hier in Suid-Afrika het toe vir mekaar gesê: ‘Hel, dit lyk lekker! Ons moet ook so iets doen’. Hulle het toe twee ou voertuie gevat en so ‘n road trip aangepak. Vir een of ander rede het hulle by Vanwyksvlei uitgekom. Ek weet regtig nie hoe hulle daar uitgekom het nie. Maar hierdie road trip was vir hulle vreklekker gewees en die volgende jaar het hulle dit weer gedoen. Hulle het egter nog ‘n paar ouens met karre bygekry en vandaar het die Bull Run ontstaan en gegroei,” het Rampie gesê. En gegroei het dit tot sowat 160 voertuie vanjaar.

Hoofsaaklik twee reëls bestaan vir deelname – jou voertuig model moet ouer wees as 1985 en dit moes jou minder as R25 000 gekos het om te koop. Die voertuig mag egter nie heeltemal ‘n skedonk wees nie. Dit moet padwaardig wees en deelnemers moet beskik oor ‘n geldige rybewys. Voorkeur word ook gegee aan vierdeur sedans. Vanjaar se deelname het R7 600 per span van twee beloop.

Rampie en spanmaat Anton Pretorius het vir hulle ‘n ou Audi 100 gekoop, terwyl spanmaats Maarten Venter en Tinus Pretorius die uitdaging aangepak het in ‘n ou Nissan Stanza. Die voertuie kan “versier” word en deelnemers kan ook kostuums dra. Elke span moet ook ‘n naam hê, net soos elke kar. Die geleentheid lyk weliswaar deurlopend soos ‘n toneel uit die film Mad Max. Rampie en Anton, wat hul kar Lappies gedoop het, se span het bekend gestaan as die Leeus van die Noorde, kompleet met ‘n “leeu” bo-op die dak. Tinus en Maarten het hulle kar Trixie gedoop en as span het hulle bekend gestaan as die Damduikers. Hul “dakornament” was ‘n hounet vir vis.

Alhoewel jy jou voertuig kan afry na Vanwyksvlei, het die groep Louis Trichardt manne besluit om eerder hulle voertuie op ‘n sleepwa te vervoer tot kort voor Vanwyksvlei. (Dit was ‘n goeie besluit, anders as nog ‘n Louis Trichardt man, Zander Goedhals, en twee van sy vriende, Thys en Wian Strydom, se besluit om reeds ‘n week voor die tyd te begin ry. Hulle het op die ou  einde op sleeptou by die Bull Run aangekom,  nadat hulle stokou Volkswagen Beetle, genaamd HeroTrash, kort-kort gebreek het. HeroTrash was heeltemal gedaan en Zander-hulle, met hulle span se naam Spannaam 69, kon op die ou end nie deelneem nie. Dit het hulle egter nie verhoed om pret te hê nie).

“Die hele idee agter die Bull Run is die road trip wat deelnemers onderneem na die panne by Vanwyksvlei. Die fokus is op pret en plesier,” het Rampie gesê. Deelnemers voltooi ‘n reeks aktiwiteite. Dit sluit in prettige span-aktiwiteite buite die voertuig, asook agter die stuurwiel, soos ‘n ‘wedren’, ‘n sneltrajek (drag racing) en ‘n tydtoets.

“Vanwyksvlei is letterlik tussen niks en nêrens. As daar nou een ding is waarvan jy moet hou, is dit stof! Jy moenie ‘n probleem met stof hê nie. Vir drie dae lank vreet jy stof! Al die aktiwiteite vind in die pan plaas, waar almal ook in ‘n tentkamp slaap. Daar is permanent stof, en van slaap is daar nie baie sprake nie,” het Rampie gesê.

Met die fokus op pret word “wenners” nie regtig tydens die byeenkoms aangewys nie. Pryse word toegeken aan byvoorbeeld die stadigste kar, ensovoorts. “Op die ou einde van die dag gaan dit oor pret. Dit gaan nie oor wie ry die vinnigste nie. Alles vorm deel van die lekkerte. Daar was een afdeling waar jy moet wys hoe vinnig jou kar kan ry. Ons kar kon 96 km/u haal,” het Rampie gesê. Nie almal se voertuie oorleef die naweek nie. “Ons karre het dit darem deurgemaak,” het Rampie gesê.

Wat volgende jaar betref, sê Rampie dat hulle beslis weer gaan deelneem. “Ons gaan dit beslis weer doen, alhoewel ons eerder self in ons karre gaan af ry Vanwyksvlei toe. Dit is vet pret en baie lekker,” het Rampie gesê. Wat vir hom treffend van die Bull Run is, is dat die grootste gedeelte van die geld wat tydens die geleentheid ingesamel word, gaan aan die gemeenskap van Vanwyksvlei. “Van daardie mense daar kry regtig swaar,” het Rampie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2197

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT